Ithete klap sweep oor Nida se ‘wanprestasie’
Reeds regstellende stappe gedoen, sê minister
Die minister van nywerheidsontwikkeling, myne en energie, Natangwe Ithete, sê sy ministerie sal nie meer toelaat dat wanprestasie onverpoosd en sonder gevolge by die agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) voortduur nie.
“As julle nie presteer nie, sal ons die nodige doen,” het hy verlede week in die parlement gesê in reaksie op vrae van die leier van die Popular Democratic Movement (PDM), McHenry Venaani.
Venaani het gevra watter meganismes is in plek om diegene aan die stuur van verskeie projekte aanspreeklik vir wanprestasie te hou.
In ’n reaksie wat namens hom deur adjunkminister Gaudentia Kröhne voorgelees is, het Ithete gesê die ministerie van staatsondernemings het voorheen toesig oor alle staatsondernemings (SOE’s) gehou, maar sedert 21 Maart vanjaar val SOE’s, soos Nida, weer onder hul lynministerie.
“In hierdie verband ontwikkel die kantoor van die eerste minister ’n nuwe bestuursraamwerk wat meganismes sal insluit om staatsondernemings aanspreeklik vir wanprestasie te hou.
“Intussen het ons reeds regstellende stappe gedoen – insluitend veranderinge aan Nida se bestuur, hulp gegee om kapitaal te bekom om historiese skuld te takel en pogings aangewend om gesamentlike ondernemingsvennote te vind om nywerheidsprojekte van stapel te stuur,” het hy gesê.
Ithete het bygevoeg sy ministerie hersien Nida se hele projekportefeulje “om bedrywighede stroombelyn te maak en te verseker dat die agentskap fokus op sy kernmandaat van nywerheidsontwikkeling, insluitend die vestiging van lewensvatbare fabrieke en waardetoevoegende inisiatiewe wat werk vir Namibiërs skep”.
FINANSIëLE UITDAGINGS
Volgens Venaani het Nida onlangs ’n bedryfsverlies van N$102 miljoen en groeiende laste aangemeld.
Hy het gevra watter stappe die ministerie doen om die agentskap se finansiële posisie te stabiliseer.
Ithete het gesê die aangemelde verliese word steeds geverifieer, maar het daarop gewys dat Nida nie saaikapitaal (seed capital) ontvang het toe dit gestig is nie.
“Operasionele ondoeltreffendhede en ander faktore het tot finansiële uitdagings gelei.
“Om dit te takel, werk die ministeries van nywerheidsontwikkeling, myne en energie en finansies saam met Nida om eers die geïntegreerde sakeplan goedgekeur te kry, historiese skuld – veral van hul terreine en perseelprogram – te delg en te verseker dat die agentskap voldoende gekapitaliseer is om na winsgewendheid te beweeg,” het hy gesê.
DORMANTE PROJEKTE
Venaani het verder die regering se plan bevraagteken om 30 dormante nywerheids- en sake-eenhede te rehabiliteer of te hergebruik en of fondse toegeken is vir hul oplewing in die 2025-’26-boekjaar.
“Laat my asseblief toe om die publieke persepsie reg te stel dat alle Nida-projekte dormant is,” het Ithete gesê.
“Ja, sommige is, maar daar is ook aktiewe projekte.”
Hy het gesê sodra die geïntegreerde sakeplan goedgekeur en gekapitaliseer is, sal lewensvatbare projekte hervat word, terwyl kommersieel projekte wat nie haalbaar is nie, uitgefaseer sal word.
“Die kapitalisering van Nida sal in fases plaasvind – eerstens met fondse om historiese skuld te vereffen – met die meeste hulpbronne wat na verwagting uit die agentskap se eie batestrome sal kom.”
LEIERSKAPONMIN
Die agentskap het die afgelope maande onstuimigheid in die gesig gestaar, wat deur die vertrek van die destydse waarnemende uitvoerende hoof, Richwell Lukonga gekenmerk is – wat die maatskappy op Ithete se opdrag verlaat het.
Verskeie kwessies het na vore gekom ná ’n hoëvlakvergadering tussen Ithete, die Nida-raad en Lukonga, waartydens die minister die opskorting van alle strategiese besluite gelas het en die raad opdrag gegee het om Lukonga se sekondering te beëindig.
Lukonga, wat dien as die hoofbedryfsbeampte van die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB), is in Maart 2024 vir ’n termyn van 12 maande na Nida gesekondeer, met die goedkeuring van die voormalige minister van finansies, Iipumbu Shiimi.
Phillip Namundjebo het sedertdien die leisels as waarnemende uitvoerende hoof oorgeneem.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie