Die minister van justisie en arbeidsverhoudinge, Fillemon Wise Immanuel. Foto ARGIEF
Die minister van justisie en arbeidsverhoudinge, Fillemon Wise Immanuel. Foto ARGIEF

Geen regsgronde vir alkoholtoetse, sê Immanuel

Kritiseer verpligte maatreëls by myne
Fillemon Wise Immanuel het bewerings of aannames heftig ontken dat hy homself van wetlike prosedures probeer vrystel.
Nikanor Nangolo
Die minister van justisie en arbeidsverhoudinge het die verpligte alkoholtoetse en vuurwapenkontrole met aankoms by myne gekritiseer.

Volgens minister Fillemon Wise Immanuel is daar geen wet wat dié maatreëls vereis, veral in die geval van besoekers wat nie die bedryfsone van die myn betree nie.

Dit volg ná die onlangse voorval by Sinomine Resources Group se Tsumeb-smelter nadat Immanuel en sy afvaardiging toegang tot die smelter geweier is, waar hy met die bestuur sou vergader oor die beplande vrywillige afleggings.

Sinomine se kommunikasiebestuurder, Alina Garises, het die voorval beskryf as ’n wankommunikasie rakende die maatskappy se alkoholtoetsbeleid, wat sedert 2013 in plek is. Sy sê die beleid is noodsaaklik om sekuriteit en nakoming binne die hoërisiko-nywerheidsomgewing te verseker.

In ’n onderhoud op NTV se program The Agenda het Immanuel gesê die ironie is dat hy nie alkohol gebruik nie.

“Ek gebruik nie alkohol nie. Ek doen nie,” het hy in ’n ferm reaksie op die voorval gesê.

Immanuel het die ontmoeting by die myn se hek beskryf, waar ’n sekuriteitswag sy span, insluitend sy bestuurder en sekuriteitsbeamptes, ingelig het dat hulle moes uitklim, alkoholtoetse moes ondergaan en vir vuurwapens deursoek moes word.

“Dit was die inligting wat ons van die sekuriteitswag gekry het, wat onder toesig en beheer van die maatskappy opgetree het en met toestemming, met betrekking tot die gemeenskaplike of munisipale reëling.

“Ek het toe gevra of daar enige wetgewing is wat dit toelaat,” het Immanuel gesê.

Volgens hom het lede van die bestuur op die toneel aangekom en gesê daar is ’n wet wat die protokol toelaat.

“Ek het hulle gevra vir die toegewing om my een of twee uur te gee om na die wetgewing te kyk om my volgende plan van aksie te bepaal.

“Ek was bereid om twee dinge te doen: Een, om dringend ’n wysiging aan so ’n wet in te stel. En tweedens, om ’n dringende hofaansoek in te dien om ’n bevel te verkry wat my toelaat om die perseel te betree, met toestemming, in die nakoming van my ministeriële plig.”

Immanuel het bewerings of aannames heftig ontken dat hy homself van wetlike prosedures probeer vrystel.

“So ’n gedagte het nie by my opgekom nie. Dit was bloot ’n kwessie van of sulke wetgewing bestaan, en indien wel, in watter mate dit toegepas word.”

Hy het die argument vir veiligheid erken wat dikwels deur mynmaatskappye gebruik word dat

selfs ’n geringe aanduiding van alkohol in ’n hoërisiko-omgewing tot noodlottige ongelukke kan lei. Immanuel het egter daarop aangedring dat dié redenasie op die wet gegrond moet wees.

Volgens hom is daar geen wetgewing wat die maatskappy se optrede ondersteun nie.

“Die naaste wetgewing wat jy sal vind, is Ordonnansie 20 van 1968. As jy na artikel 141 daarvan kyk, verwys dit na die verantwoordelikheid van ’n werkgewer om iemand wat dronk lyk van die mynperseel te verwyder.”

Hy het beklemtoon dat die ordonnansie self verouderd is en nie verkeerd toegepas moet word nie.

“Die belangrikste ding wat ek probeer oordra, is dat die wetgewing nie eens sulke optrede afdwing nie.

“Dit dui daarop dat daar eers bewyse moet wees dat iemand onder die invloed is voordat stappe gedoen kan word om hulle uit ’n mynbou-operasie of gebied waar veiligheid in gevaar gestel kan word, te verwyder,” het Immanuel gesê.

Die uitvoerende hoof van die kamer van mynwese, Veston Malango, het bevestig dat Baie Belangrike Persone (BBP’s) normaalweg nie aan sulke toetse onderwerp word nie, omdat hulle nie na die myn gaan om te werk nie.

“Hulle gaan vir ’n spesifieke doel. Enige ander besoeker, insluitend ekself, sal aan die alkoholtoets onderwerp word. Maar ministers, ons onderwerp hulle nie daaraan nie,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer