Foto ter illustrasie/Stephen Gitau
Foto ter illustrasie/Stephen Gitau

Wat verseker ’n gelukkige verhouding?

Vroue meer sielkundig georiënteerd
Navorsing toon dat tevredenheid in verhoudings tussen die ouderdomme van 20 en 40 jaar daal en dan geleidelik toeneem tot die ouderdom van 65, waarna dit stagneer.
Iréne-Mari van der Walt
Navorsers verbonde aan die Universiteit van Texas het in ’n ontleding van bestaande literatuur oor tevredenheid in romantiese verhoudings agt eienskappe uitgesonder wat tot mense se tevredenheid in hul verhoudings bydra.

Hierdie eienskappe is in twee kategorieë geplaas – evolusionêre eienskappe en nie-evolusionêre eienskappe.

As evolusionêre eienskappe is seksuele tevredenheid, die pasmaat se waarde op die “paringsmark” (mating market), persoonlikheid asook ouderdom en tyd uitgesonder.

In die nie-evolusionêre afdeling is kommunikasie, gesamentlike hantering van omstandighede fisiologiese verbintenisse en gehegtheidstyle (attachment styles) onder die loep geneem.

“Verhoudingsbevrediging is van kritieke belang vir beide reproduktiewe sukses en individuele gesondheidsuitkomste oor die leeftyd.

“Inderdaad, min sosio-emosionele bestendighede voorspel welstand en langlewendheid meer robuust as die kwaliteit van iemand se romantiese verhoudings nie,” lui die navorsingsverslag.



SEKSUELE TEVREDENHEID

Freihart et al. het in 2020 bevind paartjies wat oor die algemeen meer tevrede is met hul verhoudings, is ook gewoonlik meer tevrede met hul sekslewe.

Fallis et al. het voor dit, in 2016, bevind dat tevredenheid in ’n verhouding en seksuele tevredenheid oor tyd kovariërend is. Dit is in wese ’n verhouding waar die waardes van een veranderlike verband hou met die waardes van ’n ander, en wanneer een veranderlike verander, is die ander geneig om ook te verander.

Vir mans gaan seksuele tevredenheid egter evaluerings van die kwaliteit van ’n verhouding vooraf.

Navorsing toon ook dat mans en vroue verskillende faktore in hul seksuele verhoudings prioritiseer.

Vroue is meer sielkundig georiënteerd in verhoudings, wat daartoe lei dat hulle pasmaats kies wat kan voortplant en beide finansieel en emosioneel in staat is om na hulle en hul kinders om te sien.

Volgens navorsers spruit dit uit die tyd en hulpbronne wat oervroue moes bestee om geboorte te skenk, met ’n minimum tydperk van 10 maande vir ’n swangerskap. Mans het egter belang daarin om hul kanse op suksesvolle voortplanting te verhoog deur seksuele verskeidenheid en gereeldheid uit te soek, volgens navorsers.

De la Garza-Mercer et al. het in 2006 veronderstel dat vroue veral aandag gee aan eienskappe wat verband hou met die stabiliteit van ’n verhouding wanneer hulle hul tevredenheid in daardie verhouding beoordeel. Shackelford & Buss glo dit is omdat langer en meer stabiele verhoudings meer hulpbronne en voordele aan kinders kan bied.

Mans is ook volgens Buss (1998) meer geneig om tevrede te wees met verhoudings waarin hulle seksueel tevrede is. Dit is glo omdat mans in die oertyd meer suksesvol was in voortplanting as hulle meer gereeld seks gehad het.



PASMAAT SE WAARDE

Volgens navorsing word ’n pasmaat se waarde gesien as die kombinasie van hul kanse om suksesvol in voortplanting te wees en hul plek in die sosiale hiërargie.

Mans se voortplantingswaarde word gewoonlik gemeet deur eienskappe wat deur androgeen aangehelp word – byvoorbeeld spiermassa – terwyl vroue se waarde hoofsaaklik afhang van jeug en fisieke aantreklikheid.

Navorsing toon ook dat mense oor die algemeen pasmaats kry wat ongeveer gelyke waardes in die paringsmark as hulle het en hierdie tot tevredenheid in ’n verhouding bydra.

Ander navorsers glo dat diegene met pasmaats van “hoër waarde” meer ongelukkig in hul verhoudings is, glo omdat hulle die risiko loop om hul maat aan ’n ander persoon van hoër waarde te verloor.

Die maat met die hoër waarde is ook volgens navorsers gewoonlik ongelukkig omdat hulle voortdurend hul opsies herevalueer.

Strategieë om ’n pasmaat van hoër waarde te behou, soos waaksaamheid of monopolisering van tyd, maak ook glo beide mense in ’n verhouding ontevrede.

Om ’n pasmaat te kry wat aan jou voorkeure voldoen, al dan nie, het glo geen uitwerking op algehele tevredenheid in ’n verhouding nie.

Mondelinge voorbehoeding mag egter ’n uitwerking hê op die tevredenheid in ’n verhouding juis omdat vroue gedurende verskillende fases van hul hormonale siklus aangetrokke is tot verskillende eienskappe.

Om hierdie natuurlike siklus chemies te verander met voorbehoeding, het volgens navorsers ’n uitwerking op die eienskappe wat vroue aantreklik vind. Vroue wat chemiese voorbehoeding gebruik ag volgens navorsers dit minder om ’n pasmaat te kry wat androgeen-gedrewe eienskappe het.

Navorsing toon dat vroue oor die algemeen belangstelling in hul pasmaat verloor as hulle ophou om chemiese voorbehoeding te gebruik en hul pasmaat ontmoet het terwyl hulle chemiese voorbehoeding gebruik het.



ONTROUHEID

Navorser het gevind dat ontrouheid vanuit ’n evolusionêre oogpunt verhoudings ook duur te staan kom.

Indien ’n man ontrou is, is die kanse goed dat hy by ’n ander vrou kan kinders kry, wat beteken dat die hulpbronne wat hy bied, verdeel moet word. As ’n vrou ontrou is, kan sy ook kinders by ’n ander man kry, wat tot gevolg het dat haar pasmaat sy tyd en hulpbronne sal moet bestee om ’n kind groot te maak wat nie aan hom verwant is nie, sê navorsers.



TYD

Navorsing toon dat tevredenheid in verhoudings tussen die ouderdomme van 20 en 40 jaar afneem en dan geleidelik toeneem tot die ouderdom van 65, waarna dit stagneer.

Navorsing toon ook dat kinders tydelik die tevredenheid in ’n verhouding mag demp. Mans is ook volgens navorsing meer geneig om hul vroulike pasmaat te behou as hulle gereeld liefde en vriendelikheid toon. Vroue is meer geneig om hul manlike pasmaat in die lange duur te behou indien hulle hul voorkoms onderhou.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer