Een blokkie op ’n slag

Bont gehekelde warmte
Met winter wat om die draai lê en loer en die dae wat korter en koeler raak, is nou die perfekte tyd om jou hekel- en breipenne nader te trek om 'n verskil in iemand se lewe te maak.
Henriette Lamprecht
Vanjaar is die groep reeds ’n dekade oud en sorg hulle die afgelope tien jaar dat die land se mees weerloses gekoester teen die koue is danksy die mooiste bont hekelkomberse wat steek vir steek en blokkie vir blokkie met liefde aanmekaar gesit is.

In 2015 sien Venita Nolte en Shola Smit die groot behoefte aan ’n warm kombers, mus of handskoene teen die kil Namibiese koue vir veral die land se bejaardes, kwesbare kinders en haweloses. Knit a bit, ’n niewinsgewende organisasie wat terugploeg in die land deur te brei, hekel of crochet sien die lig. Die doel – om soveel as moontlike oumablokkies te hekel of te brei waaruit komberse aanmekaar gewerk word om aan behoeftiges uit deel.



OUD EN JONK

Die idee is dat enige persoon (ja, mans en kinders ook. . .) oraloor die land blokke van 20 cm x 20 cm hekel of brei. Die blokke word dan na mense gestuur wat die bont blokke aanmekaar ryg vir die mooiste en warm komberse.

Gou het Venita en Shola mense landswyd aan die hekel of brei gekry, met die hekelpenne wat behoorlik geklik het. Swart vullissakke vol blokke is ontvang en weer deur ander lede tot komberse aanmekaar gesit.

Celine Malherbe vertel mettertyd het die hekel- en breipenne “bietjie stiller geword”, maar “ons was ’n paar vasbyters wat met die wonderlike projek aangehou het”.

Verlede jaar het Alida Siebert ’n hekel-marathon in Windhoek gereël wat sommer weer nuwe ywer onder hekelaars en breiers gebring het en is die vuur weer opnuut aangesteek om vir ’n goeie doel die penne op te neem. Sedertdien word daar maandeliks in die hoofstad bymekaargekom om blokke te hekel en komberse te maak. Ook in Okahandja en Aranos het hul eie hekel-marathons aangebied.

Oud en jonk kan by die projek betrokke raak, beklemtoon Celine.

“Jongmense het al met groot ywer tydens die samekomste leer hekel!”

En al is jou ouma se gehekelde kniekombers jou enigste verwysing, is jy steeds welkom.

“Beginners word geleer om ’n basiese ‘granny square’ te hekel. Blokke kan enige patroon wees, solank dit net 20 cm x 20 cm is.”

Dit vat 36 van dié blokke om een kombers te maak.

Volgens Celine is daar op verskeie dorpe in die land vroue in hekel- en breigroepies wat buiten vir die blokke, ook musse en komberse skenk wat uitgedeel word.

“Ons maak die komberse met liefde en so mooi as wat ons kan.”

Die knus komberse word oraloor in die land aan bejaardes, kinders en minder bevoorregtes geskenk.

“Wanneer ons ’n paar komberse bymekaar het, vra ons vir voorstelle vir plekke waar daar ’n behoefte is en vir wie ons die komberse kan gee.”

Hoewel Knit a Bit van tyd tot tyd wolskenkings kry, gebruik die hekelaars en breiers die meeste van die tyd hul eie wol.

“Wolskenkings is baie welkom, al is dit oorskietwol.”

Die hoop en die doel is ook om elke jaar meer komberse as die vorige jaar te kan uitgee. Verlede jaar is 57 komberse uitgedeel aan die Lions se tehuis vir verswakte bejaardes op Swakopmund (13), die Orlindi-kinderhuis in Windhoek (27) en Huis Deon Louw op Gobabis (16).

Van die ander begunstigdes sedert 2015 sluit onder meer die Eastern Court-ouetehuis in Windhoek, Hands of Hope in Swakopmund, die Cat Adams-projek, die Hochfeld-sopkombuis, die Uis-demensia-projek, Bahnhoff, Seniorpark, die ouetehuise op Karasburg, Mariental en Lüderitz, Visions of Hope, Hentiesbaai-sopkombuis, die veilige tuiste vir vroue en kinders in Windhoek asook die tehuis vir verswakte bejaardes op Hentiesbaai in.

Vroeër die jaar is 32 gehekelde komberse aan bejaarde inwoners en ook aan dié wat nie so gesond is nie in die Finkenstein Manor-aftreeoord in Windhoek oorhandig. Lede van die kunsgroep van die aftreeoord het hand bygesit om die veelkleurige komberse te hekel en te brei. So het een van die inwoners ook sy "poncho" gekry en as pasella was daar ook vir elkeen ’n paaseier.

Volgens Cecile is die hoop en doelwit om elke jaar meer komberse as die vorige jaar te kan uitdeel.

Enigeen is welkom om saam blokke en komberse te maak, nooi sy.

“Al kan jy nie hekel nie, kan jy leer hekel of brei. Die enigste vereiste is jou passie om dit te wil doen.”

Met winter wat om die draai lê en loer en die dae wat korter en koeler raak, is nou die perfekte tyd om jou hekel- en breipenne nader te trek om ’n verskil in iemand se lewe te maak.



MAKLIKE RIGLYNE

Dié maklike riglyne sal jou gou op die regte hekel- of breipad sit: Vierkantige blokke van 20 cm x 20 cm (gehekel of gebrei). Jy kan enige wol gebruik, maar "double knit"-wol werk die maklikste. Gebruik die regte dikte pen vir die wol. Eerder ’n dikker pen as jy nie die regte dikte het nie. Té dun penne maak die blokke baie styf en moeilik hanteerbaar, terwyl 'n dikker pen die blokke sagter maak. Enige patroon kan gemaak word.

By gebreide blokke moet koussteek verkieslik nie gebruik word nie, want dit krul op en bemoeilik die aanmekaar hekel van die blokke. Komberse is ten minste 1.0 m x 1.2 m en enkelbedgrootte of groter. Reëlings kan getref word om die blokke by ’n lid van Knit a Bit te kry wat die komberse aanmekaar sal sit.

Planne is reeds aan die gang om vanjaar weer ’n hekel-marathon te hou, met die kalender wat reeds vir 10 Mei gemerk is.

“Ons het nou vier nuwe jong dames wat by die groep aangesluit het en ons toekomsplanne sluit in om aan te hou met die maandelikse byeenkomste. Dit is informeel en net lekker inspirasie!”

As jy wil blokke hekel, wol wil skenk of op enige ander manier by dié baie spesiale projek betrokke wil raak, besoek die Facebookblad Knit a Bit of bel vir Alida Siebert by 081 287 5384 vir meer besonderhede.

[email protected]



GRYS BLOKKIE

Het jy geweet?

Die naam hekel, is afgelei van die Franse term crochet, wat "klein haak" beteken en die eerste bewyse van gehekelde materiale het sy verskyning in die 19de eeu in Europa gemaak.

Die eerste keer wat dit bekend is dat instruksies vir die hekel van 'n item gepubliseer is, is in die Nederlandse tydskrif Pénélopé in 1823. Hierin word die uitdruklike gebruik van die term hekel gebruik om die tegniek in sy huidige vorm te identifiseer. Modes in hekel het verander aan die einde van die Victoriaanse era in die 1890's. Tydens die nuwe Edwardiaanse tydperk, die spitstyd tussen 1910 en 1920, het gehekelde kant selfs meer ingewikkeld in tekstuur en stikwerk geword.

Die sterk Victoriaanse kleure het verdwyn en nuwe publikasies het vir wit of bleek kleure gevra. Beursies is dikwels gehekel van helderkleurige kant en bevat fraai kralewerk.

Ná die Eerste Wêreldoorlog is veel minder hekelpatrone gepubliseer en die meeste van hulle was vereenvoudigde weergawes van die vroeë 20ste eeuse patrone.

Tydens die laat 1940's tot die vroeë 1960's was daar veral in Amerika verhoogde belangstelling. Baie nuwe en verbeeldingryke hekelontwerpe is gepubliseer vir kleurvolle doilies, vatlappies, en ander huisitems. Dié patrone het vir dikker drade en garings as in vroeëre patrone gevra en ook bont kleure ingesluit.

Hekelwerk bly hoofsaaklik 'n tuisteskepper se kuns tot in die laat 1960's en vroeë 1970's, totdat die jonger generasie begin hekel en oumablokkies gewild word – 'n maklike motief wat in die rondte gewerk word en helder kleure integreer. – Bron: af.wikipedia.org/wiki/Hekel

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer