Verslag: Meer as 50% kon nie ’n gesonde dieet bekostig

Ellanie Smit
Na raming kon 57,3% van Namibiërs verlede jaar nie ’n gesonde dieet bekostig nie, wat teen die 2024-wisselkoers sowat N$84 per persoon per dag gekos het.

Vanjaar se verslag oor die toestand van voedselsekerheid en voeding toon dat 900 000 mense in Namibië verlede jaar ernstige voedselonsekerheid ervaar het. Volgens die verslag het ’n geraamde 8,2% van die wêreldbevolking in 2024 honger ervaar – ’n afname van 8,5% in 2023 en 8,7% in 2022.

Die verslag dui aan dat tussen 638 miljoen en 720 miljoen mense verlede jaar honger gely het. Gebaseer op die punteberaming van 673 miljoen, verteenwoordig dit ’n afname van 15 miljoen mense vanaf 2023 en van 22 miljoen vanaf 2022.

Hoewel die afname verwelkom word, bly die jongste ramings hoër as die vlakke van voor die Covid-19-pandemie, met die hoë voedselinflasie van onlangse jare wat tot die stadige herstel in voedselsekerheid bydra, volgens die verslag.

Vordering was egter nie wêreldwyd konsekwent nie, aangesien honger steeds toegeneem het in die meeste substreke van Afrika en Wes-Asië. Daar word voorspel dat 512 miljoen mense teen 2030 chronies ondervoed kan wees. Byna 60% daarvan sal in Afrika wees.

Volgens die verslag het die persentasie van die bevolking wat honger in Afrika in die gesig staar, in 2024 20% oorskry, wat 307 miljoen mense raak.

In Wes-Asië het na raming 12,7% van die bevolking, of meer as 39 miljoen mense, moontlik in 2024 honger in die gesig gestaar.

Intussen het die wêreldwye voorkoms van matige of ernstige voedselonsekerheid – ’n assessering wat die ervaring van beperkings op toegang tot voldoende voedsel gedurende 'n gedeelte van die jaar registreer – effens tussen 2023 en 2024 afgeneem, lui die verslag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer