• Tuisblad
  • Landbou
  • Meatco wil 75 000 kommunale beeste teen Januarie 2026 slag

Meatco wil 75 000 kommunale beeste teen Januarie 2026 slag

Strategie fokus op kommunale boere
Meatco het tydens die Okakarara Handelskou 'n nuwe strategie vir veeverkryging en boere-samewerking uiteengesit.
Jacques du Toit
Meatco het aangekondig dat die maatskappy teen Januarie 2026 beoog om 75,000 beeste te slag. Hiervan sal ongeveer 8 000 diere uit kommunale gebiede suid van die kordonheining verkry word - die hoogste tot hede - en sowat 12 000 uit die noordelike kommunale gebiede. Tot dusver is reeds sowat 25,000 diere vir die finansiële jaar geslag vanuit suidelike en noordelike kommunale gebiede asook uit kommersiële areas lui ‘n mediaverklaring wat Meatco na ‘n vergadering tydens die Okakararo Handelskou uitgereik het. Meatco se Vee-aankope- en Produksie-afdeling het ‘n strategiese plan genaamd “Kommunale Gebied Suid en Noord van die Veeartseny Kordonhiening” bedink om soveel as moontlik bees uit die kommunale gebiede noord en suid van die kordonheining te koop. BYDRAE TOT ONTWIKKELING In die verklaring word verder genoem dat die boereverenigings in die streke van Otjozondjupa en Omaheke beplan om kleinskaalse voerkraalprojekte te begin. Meatco sien hierdie inisiatief as ’n geleentheid om die verenigings te ondersteun en beeste direk uit die voerkraalstrukture aan te koop vir slagting of afronding, afhangend van die ouderdom en gewig van die diere. Meatco beklemtoon dat dit daarop ingestel is om mededingende produsentepryse te bied en as prysstabiliseerder in die vleisbedryf op te tree. Die mediaverklaring lui dit is noodsaaklik dat boere en Meatco hande vat om voordelige sakebande te bou en sodoende die Namibiese ekonomie te versterk. Vanaf November 2025 tot Januarie 2026 sal Meatco ’n prys van N$70 per kilogram betaal vir A2-4, AB2-4 en B2-4 grade terwyl C2-4 grade N$66 per kg ontvang vir diere wat direk by die abattoir afgelewer word. Vir die tydperk Augustus tot Oktober 2025 is die prys N$68,50 per kilogram. Die maatskappy het verder bevestig dat dit osse vanaf ’n gewig van 280 kg en hoër wil aankoop om hul afrondingsinisiatiewe te verbeter. OKAKARARA HANDELSKOU Volgens Meatco word die handelskou gebruik as ’n platform om bande met kommunale boere te versterk en volhoubare boerderypraktyke te bevorder. Meatco het daarop gewys dat dit deur die jare bygedra het deur die opgradering van krale en veilingsgeriewe, asook deur die ondersteuning van beesuitstallings by skoue. Op sy beurt het die uitvoerende hoof van die Okakarara Handelskou-vereniging, Ernst Katjiku, sy opgewondenheid uitgespreek om met Meatco geassosieer te word, veral met die bydraes wat Meatco deur die jare gemaak het. Hy het verder beklemtoon dat Meatco die vereniging se verwagtinge oortref het deur hul deelname en bydraes en het die korporasie aangemoedig om aan te hou om in die handelskou te belê, aangesien dit ’n goeie doel dien en tot die ontwikkeling van die plaaslike landbousektor bydra. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer