Kavango-skemaboere ‘verdrink in skuld’

Krag, saad duur
Boere by die Sikondo-groenskema sê sommige het skuld van tot N$800 000, met stygende koste en 'n gebrek aan winste wat hulle kortwiek om tot voedselsekuriteit by te dra.
Phillipus Josef
Mediumskaalboere by die Sikondo-groenskema in Kavango-Wes sê hulle verdrink in skuld.

“Daar is sommige van ons wat skuld by handelsbanke het. Ons het opgehoopte skuld van N$700 000 tot N$800 000. Ons is nie in staat om dit af te betaal nie, omdat ons nie ’n wins maak nie,” het ’n boer gesê.

“Wins kom eerste. Voedselproduksie is tweede. Maar hoe kan ons produseer as die insetkoste ons dooddruk?” het hy gevra.

Die boere se kommer is gedeel tydens die eerste minister, Elijah Ngurare, se besoek aan die groenskema as deel van sy breër inspeksietoer van ontwikkelingsprojekte in die Kavango-Oos en -Wesstreek.

Die groep boere, wat elkeen ’n spreukbeurt gegee is om oor hul stryd te praat, het ’n droewige prentjie geskets van ’n lewe onder wat hulle beskryf as ’n landboustelsel wat wanbestuur word en geen ondersteuning ontvang nie.

Die een boer het verwys na ’n onlangse kwotasie vir die volgende plantseisoen, wat N$468 000 beloop, net vir saad, chemikalieë en kunsmis.

“Dit is wat ons bekommerd maak. En dit sluit nie eens die elektrisiteit vir besproeiing in nie.”



GEEN ERKENNING, ONDERSTEUNING

Terwyl die skema water vir boerderybedrywighede verskaf, word die koste van die krag wat verbruik word om dit na die plotte te pomp, tussen die boere verdeel. Dikwels sonder deursigtigheid, sê die boere.

Die groep het ook hul langdurige frustrasie geopper oor die feit dat hulle nie salarisverhogings ontvang het sedert Agribusdev, die semistaatsinstelling wat die skema bestuur, ’n paar jaar gelede die groenskema oorgeneem het nie.

“Wanneer ons Agribusdev nader, sê hulle ons val onder die ministerie. Maar wanneer ons na die ministerie toe gaan, sê hulle weer ons behoort aan Agribusdev. Ons is in die middel vasgevang,” het ’n boer gesê.

Volgens die groep word hul maatskappye ook glo nie erken wanneer hulle vir lenings aansoek doen nie.

“Ons wil voordeel trek. Maar wanneer ons na banke toe gaan, sê hulle vir ons jou maatskappy word nie erken nie. Ons is in die duister.”



PROBLEME

Die bestuurder van die Sikondo-groenskema, Maxwell Nghidinwa, het die las op die boere en in veral die koste van elektrisiteit erken, maar gesê pogings is aan die gang om die rekeningstelsel te herstel.

“Ons het ingenieurs van die ministerie gevra om ons te help om ’n regverdige en deursigtige manier te kry om die kragverbruik vir besproeiing te meet. Maar ja, die koste is ondraaglik en dit maak ons winste dood,” het hy gesê.

“As hierdie boere op volle kapasiteit gewerk het, kan hul uitsette gekombineer met die kommersiële kant, ’n werklike impak op voedselproduksie maak,” het hy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer