• Tuisblad
  • Howe
  • Nalatigheid ontken in dood van psigiatriese pasiënt
FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEF
FOTO TER ILLUSTRASIE/ARGIEF

Nalatigheid ontken in dood van psigiatriese pasiënt

Rita Kakelo
Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het enige nalatigheid in die dood van ’n psigiatriese pasiënt, Karel Ndakolo (16), by die Oshakati-staatshospitaal in November 2023 ontken.

’n Polisieverslag lui dat ’n verpleegster Ndakolo bewusteloos op die vloer van die hospitaal se psigiatriese eenheid gevind het, terwyl ’n ander pasiënt op sy bors en maag gespring het.

Die gesondheidsministerie het verklaar dat die voorval onvoorsienbaar was en nie die gevolg was van enige nalatigheid aan die kant van sy personeel nie.

Ndakolo se ma, Maria Alweendo, het ’n siviele regsgeding van N$10 miljoen teen die ministerie vir skadevergoeding aanhangig gemaak.

Alweendo noem die hospitaal se beweerde versuim om haar seun se kwesbaarhede te assesseer, swak kommunikasie ná die aanvanklike aanranding, die heropname in ’n onveilige saal sonder voldoende toesig, die afskeep van beloofde veiligheidsmaatreëls en die versuim om die noodlottige aanranding te voorkom ondanks duidelike waarskuwingtekens.

Die ma eis skadevergoeding van N$2,2 miljoen vir posttraumatiese en toekomstige mediese uitgawes, N$800 000 vir mediese en begrafniskoste, N$2 miljoen vir pyn en lyding en N$5 miljoen vir emosionele angs en verlies.



IN GOEDER TROU OPGETREE

In reaksie hierop het die ministerie by die hoërhof geappelleer en aangevoer die personeel het nog altyd in goeder trou en met redelike sorg opgetree. Ndakolo is op 20 Oktober 2023 in saal 16 opgeneem. Die ministerie het ook gesê hy is voorheen behandel vir beserings ná ’n vroeëre onderonsie met ’n ander pasiënt en is in ’n private isolasiekamer geplaas vir monitering.

Daarbenewens het die ministerie aangevoer Ndakolo was reeds dood teen die tyd dat die personeellid die ander pasiënt, wat onlangs van die mediese saal oorgeplaas is, tydens ’n roetine-ondersoek op hom gevind het.

Volgens die ministerie was daar geen waarskuwingtekens dat enigeen van die twee pasiënte gewelddadig of gevaarlik was nie.

“Die voorval was nie voorsienbaar nie en daar sou nie van ’n redelike persoon in dieselfde posisie verwag word om dit te voorkom nie,” het die ministerie in hofstukke gesê.

Die ministerie betwis ook die geldigheid van die regsgeding en voer aan dat dit buite die vereiste driemaandevenster aanhangig gemaak is soos in die wet op geestesgesondheid uiteengesit is.

Die dagvaarding is eers in Oktober 2024 beteken, byna ’n jaar ná Ndakolo se dood.

Partye verskyn voor regter Orben Sibeya in die hoërhof.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer