Die bekende Lüderitz-sakeman Erasmus (Poenie) van Zyl het na bewering sy vrou, Elna, herhaaldelik aangerand en glo ook ’n beskermingsbevel teen hom oortree. FOTO ARGIEF
Die bekende Lüderitz-sakeman Erasmus (Poenie) van Zyl het na bewering sy vrou, Elna, herhaaldelik aangerand en glo ook ’n beskermingsbevel teen hom oortree. FOTO ARGIEF

Lüderitz-sakeman se borgtog verleng

Saak hervat op 3 September
Sou die staat se saak teen Poenie van Zyl nie teen 3 September vir pleit- en verhoordoeleindes voltooi wees nie, kan dit moontlik van die hofrol geskrap word.
Otis Daniels
Die aanrandingsaak teen die bekende Lüderitz-sakeman, Erasmus (Poenie) van Zyl, is uitgestel en sy borgtog is tot 3 September vanjaar verleng.

Van Zyl is die eienaar van Reich’s Pharmacy in dié hawedorp en word daarvan beskuldig dat hy sy vrou fisiek aangerand en ook ’n beskermingsbevel oortree het.

Hy is tans uit op borgtog van N$10 000, nadat hy op 25 Maart voor landdros Whitney Ndaruka Chaka in die landdroshof op Lüderitz verskyn het. Die saak is op die rol vir pleit- en verhoordoeleindes geplaas. Alle getuies was teenwoordig buiten vir die klaagster Elna van Zyl. Die staatsaanklaer, Tuna Ipinge, het aan die hof gesê die staat is nie gereed om voort te gaan nie en het vir uitstel gevra.

Tangeni Hausiku, Poenie van Zyl se regsverteenwoordiger, het sy ontevredenheid oor die aansoek om uitstel deur die staat uitgespreek en versoek dat die saak van die hofrol geskrap word.

“Die staat se huis is nie in orde nie. Dit is nie die eerste keer nie en dit frustreer die regspleging vir die regte van die beskuldigdes.

“Dis ’n private instruksie en dit is tot nadeel van die beskuldigde dat die saak heeltyd uitgestel word.

“In vergelyking met die beskuldigde sal die staat nie benadeel word as die saak van die hofrol geskrap word nie,” het Hausiku gesê.

Chaka het die vooroordeel wat teen die beskuldigde veroorsaak is, erken.

“Indien die staat nie voortgaan met die verhoor op 3 September nie, wat ’n finale uitsteldatum is wat vir pleit en verhoor vasgestel is, kan jy aansoek doen dat die saak van die rol geskrap word,” het sy gesê.

Hausiku het ook ’n aansoek ingevolge artikel 63 van die Strafproseswet gebring om Van Zyl se borgtogvoorwaarde, dat hy elke Maandag tussen 08:00 en 17:00 by die polisiekantoor op Lüderitz moet aanmeld, te skrap.

“Die beskuldigde moet een keer per week by die polisiekantoor aanmeld wat dit vir hom moeilik maak om sy sake te doen. Kan die voorwaardes nie so verslap word sodat hy een keer elke twee weke vir reisdoeleindes aanmeld nie?” het Hausiku versoek.

Ipinge het egter hierteen beswaar gemaak. Chaka het gevolglik die aansoek van die hand gewys en gewaarsku dat Van Zyl geen kontak met die klaagster mag hê nie.

“Om een keer per week aan te meld het op geen manier ’n impak op die beskuldigde se besigheid nie.

“Niks verhoed die beskuldigde om uit die dorp te reis nie, solank hy vooraf reëlings met die ondersoekbeampte getref het nie.

“Daar is ’n rede hoekom die hof borgtog toegestaan het met sulke streng voorwaardes en ek gaan nie daarmee inmeng nie,” het Chaka gesê.



AGTERGROND

Van Zyl se skoonsuster, Ria van der Schyff, het hom op 8 September 2023 in ’n sosialemediaplasing daarvan beskuldig dat hy sy vrou, Elna, mishandel.

Volgens Van der Schyff het Van Zyl Elna uit hul huis gesluit wat haar buite in die koue gelaat het en hy het haar glo by verskeie geleenthede ernstig aangerand, wat onder meer tot gebreekte bene in haar regterpols gelei het.

Elna het gevolglik ’n saak teen haar man aanhanging gemaak en weens die beweerde voortgesette fisieke aanranding ’n beskermingsbevel teen hom verkry.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer