• Tuisblad
  • Howe
  • Entrépo dagvaar regering oor staking van salarisaftrekkings
Foto ter illustrasie/argief
Foto ter illustrasie/argief

Entrépo dagvaar regering oor staking van salarisaftrekkings

Rita Kakelo
Die finansiëledienstefirma Entrépo Finance het die ministerie van finansies hof toe gesleep in ’n dringende aansoek om te keer dat die regering die gevestigde bestuurstelsel vir salarisaftrekkings (PDMS) staak, wat salarisgekoppelde leningterugbetalings vir staatsamptenare moontlik maak.

Die ministerie van finansies het onlangs planne aangekondig om die twee dekade oue stelsel uit te faseer, wat verontwaardiging en paniek binne die mikroleningsbedryf veroorsaak het, wat sterk staatmaak op salarisaftrekkings om terugbetalings te verseker en kredietrisiko’s te bestuur.

Entrépo voer aan die ministerie se besluit sal toegang tot bekostigbare lenings vir duisende staatsamptenare ontwrig, terwyl dit moontlik sy eie bedrywighede in duie sal laat stort wat van die PDMS-meganisme afhanklik is.



BELEGGING VAN N$300 M. IN GEVAAR

In hofstukke het Entrépo se direkteur, Jan Louw, gesê die maatskappy se sakemodel – wat die maatskappy toelaat om laer rentekoerse en vinnige toegang tot lenings vir noodgevalle soos mediese of opvoedkundige behoeftes te bied – geheel en al op die PDMS staatmaak.

Hy het gewaarsku dié besluit kan ’n belegging van N$300 miljoen in gevaar stel, aangesien finansiers kommer uitgespreek het oor Entrépo se lewensvatbaarheid as die stelsel geskrap word.



REGERING BAKLEI TERUG

Die ministerie van finansies hou egter vol hy kan nie gedwing word om ’n stelsel te behou wat die ministerie as onwettig beskou nie.

In sy beëdigde verklaring het die adjunk- uitvoerende direkteur vir openbare administrasie, Michael Humavindu, gesê die maatskappy wat die PDMS bedryf – Avril Payroll Deduction Management (Pty) Ltd – is nie as ’n betalingsdiensverskaffer ingevolge die Wet op Betalingstelselbestuur no. 14 van 2023 gelisensieer nie.

“Avril Payroll Deduction Management is nie deur die Bank of Namibia [Bon] geregistreer of gelisensieer nie,” het Humavindu gesê en aangevoer dat die voortgesette gebruik van die maatskappy die wet sou oortree.

Hy het ook gesê die stelsel bevoordeel ’n paar uitgesoektes onregverdig.

“Daar is 969 geregistreerde mikroleners in Namibië, maar slegs 31 aftrekkingskodes is uitgereik – waarvan ongeveer agt aan mikroleners behoort,” het hy gesê.

Volgens Humavindu trek dié reëling onwettig kodehouers voor deur aftrekkings vir tot 45 dae vir hulle te verseker, wat teenstrydig met artikel 20(3) van die wet is. Slegs statutêre aftrekkings, soos inkomstebelasting of pensioenbydraes, mag wettiglik sulke voorkeurbehandeling ontvang, het hy bygevoeg.

Die ministerie het gesê die huidige PDMS-kontrak sal op 30 November 2025 verstryk.



‘GEEN REGSGRONDE’

Die direkteur van uitgawes en finansiële bestuur in die ministerie, Martinus Nakale, het in sy beëdigde verklaring gesê Entrépo het versuim om elke 36 maande aansoek te doen vir sy aftrekkingskode soos vereis, wat veroorsaak het dat sy magtiging verval het.

Hy het gesê die regering kan dus nie wettiglik voortgaan om transaksies onder ’n vervalde kode te verwerk nie.

Nakale het verder aangevoer dat vroeëre ministeriële riglyne – insluitend ’n memorandum van Maart 2016 en vrystellings van 2003 – geen regsgewig dra nie en nie Entrépo se voortgesette afhanklikheid van die stelsel kan regverdig nie.

Die hoërhof in Windhoek moet nog ’n datum vasstel om die dringende aansoek aan te hoor.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer