Swak opgeleide verpleërs ’n ‘tydbom’
Beroep word gekommersialiseer
Wanneer studente swak opgelei is, onvoldoende gemonitor word en op hul eie in oorvol hospitale gelos word, word die veiligheid van die pasiënt onvermydelik in die gedrang gebring.
Openbare gesondheidsgeriewe is oorlaai met verpleegstudente wat nie voldoende gemonitor of gementor kan word deur professionele verpleërs wat reeds oorweldig is in instellings wat nie ontwerp is vir die hoë volumes nie.
Daarbenewens ontvang sommige van dié aspirant-verpleërs opleiding van “dosente” met net ’n diploma as kwalifikasie, terwyl sommige van die instellings studente aanvaar wat nie aan die basiese akademiese vereistes voldoen nie en sommige net graad 10-uitslae het.
Die uiteinde is ’n tydbom van ondervoorbereide gegradueerdes, waarvan sommige die werksmag betree sonder om die noodsaaklike en basiese vaardighede van verpleging te bemeester.
“Wanneer die gesondheid van ons burgers in die hande van swak opgeleide praktisyns is, is die gevolge nie net professioneel nie, maar heel waarskynlik ook noodlottig,” het die parlements- en PDM-lid, Winnie Moongo, gesê.
Sy het na die onbeheerde oprigting van verpleegskole en gesondheidsverwante opleidingsentrums verwys en gemaan bestaande openbare infrastruktuur is nie ontwerp om die groot volume studente te akkommodeer wat nou op kliniese plasings aandring nie.
“Wanneer studente swak opgelei is, onvoldoende gemonitor en op hul eie in oorvol hospitale gelos word, word die veiligheid van die pasiënt onvermydelik in die gedrang gebring,” het Moongo gesê.
Volgens haar registreer individue met “kommersiële motiewe” opleidingsgeriewe by die ministerie van nywerheidsontwikkeling, myne en energie sonder dat dit ondersoek word vir die aard en kwaliteit van opleiding, sowel as die impak wat dit op openbare gesondheidsdienste sal hê. Goedkeuring word van die Nasionale Raad vir Hoër Onderwys (NCHE) verkry met weinig of geen koördinasie met die gesondheidsektor nie.
’n Memorandum van Verstandhouding (MoU) word met die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste aangegaan om hul reeds oorlaaide openbare geriewe vir “prakties” te gebruik.
Die Raad vir Gesondheidsberoepe in Namibië (HPCNA) se mandaat om die publiek te beskerm en die kwaliteit van opleiding te verseker, word ook ondermyn deur die afwesigheid van ’n verenigde nasionale raamwerk vir die regulering van instellings vir gesondheidsopleiding. Dit het volgens Moonga ’n skuiwergat geskep wat die kommersialisering van die verpleegberoep toelaat.
Sy het verwys na die Verpleegraad van Namibië, wat vroeër ’n stel riglyne vrygestel het juis om die ongekontroleerde uitbreiding van opleidingsinstellings vir verpleërs en vroedvroue hok te slaan.
Die maatreëls is beoog as noodreëlings om die verdere agteruitgang van opleidingskwaliteit te voorkom. Dit sluit in ’n eenmalige inname per jaar van nie meer as 50 studente per kampus nie, ’n moratorium op nuwe kampusse tot verdere kennisgewing, sowel as verpligte evaluering voor registrasie.
Laasgenoemde beteken dat vanaf 1 Januarie vanjaar alle plaaslik opgeleide verpleeg- en vroedvrougraduandi ’n formele evaluering deur die Verpleegraad moet ondergaan voordat hulle kan registreer om te praktiseer. Bogenoemde is volgens Moongo egter nie betekenisvol geïmplementeer nie.
“Wanneer reëls as blote voorstelle hanteer word en oortreders geen gevolge in die gesig staar nie, wis ons nie net professionele standaarde uit nie, maar ook openbare vertroue.”
Sy het gemaan sou die opdrag nie dringend afgedwing word om werklike oorsig, monitering en verantwoordbaarheid te verseker nie, dit niks meer as voorstelle vir instellings sal bly wat daarop gemik is om vinnig geld te maak nie.
Moongo het ook ’n volskaalse parlementêre ondersoek na die gehalte van onderrig, die kwalifikasies en vaardighede van dosente, sowel as die kliniese opleidingsomgewings, versoek.
Sy het daarop aangedring dat die ministers van nywerheidsontwikkeling, hoër onderwys en gesondheid voor die parlement gedaag moet word om te verduidelik watter maatreëls tans in plek is om die goedkeuring en bedryf van die instellings te reguleer en ook om pa te staan vir hul bydrae tot “die gevaarlike neiging”.
“Verpleging is nie ’n besigheid nie. Wanneer wins beginsel verbysteek en wanneer sakebelange openbare veiligheid oorskadu, moet ons as wetmakers ingryp.”
Moongo is ondersteun deur die PDM- en parlementslid, Rosa Mbinge, wat sê die aantal instellings wat gesondheidsverwante programme aanbied het volgens die Namibiese Kwalifikasieowerheid (NQA) meer as verdubbel van die 12 geregistreerde instellings in 2015 teenoor die 30 in die begin van 2024.
Volgens haar het ’n opname in 2023 deur die Namibiese Verpleegstersunie gewys 42% van gesondheidsorgpraktisyns in die openbare en private sektor is dit eens dat pas gegradueerde verpleërs “ernstige tekortkominge” in basiese kliniese vaardighede het.
Die HPCNA het ook in sy jaarverslag vir 2024 gesê druipsyfers onder gegradueerdes van nuwer instellings in professionele raadseksamens was beduidend hoër en gemiddeld 38% in vergelyking met net 12% onder diegene van gevestigde geakkrediteerde programme.
Mbinge haal ook ’n opname van die Namibiese arbeidsmag in 2023 aan wat ’n ooraanbod van algemene verpleegkwalifikasies aandui.
Volgens die verslag dra dié wanverhouding tussen opvoedkundige uitsette en aanvraag in die arbeidsmark by tot beide gegradueerde werkloosheid en onderindiensneming binne die gesondheidsektor.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie