Dr. Esperance Luvindao Foto argief
Dr. Esperance Luvindao Foto argief

Geestesgesondheid: ‘Elke Namibiër verdien die reg op sorg’

Net twee geriewe vir hele land
Elizabeth Kheibes
Namibië se openbare geestesgesondheidstelsel het hewige kritiek in die parlement uitgelok vir die feit dat die land net twee geriewe het wat sy hele bevolking moet bedien.

Dit volg nadat die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, gister die wetsontwerp op geestesgesondheid ter tafel gelê het wat daarop gemik is om die Geestesgesondheidswet van 1973 uiteindelik te vervang.

Volgens haar poog die wetsontwerp om geestesgesondheidsorg te moderniseer deur ’n regtegebaseerde, pasiënt-gefokusde stelsel te vestig wat waardigheid, gelykheid en toeganklikheid in alle streke bevorder.

“Geestesgesondheid is ’n integrale deel van openbare gesondheid en noodsaaklik vir ons nasie se maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling.

“Vir te lank is dit nie voldoende geprioritiseer nie, gestigmatiseer en deur ’n verouderde raamwerk beheer wat nie meer ons demokratiese waardes weerspieël nie,” het Luvindao aan die parlement gesê.

Sy het gesê die wetsontwerp verteenwoordig ’n verskuiwing weg van die ou institusionele model van inperking na gemeenskapsgebaseerde sorg en sosiale herintegrasie.

“Geestesgesondheid is nie ’n saak van skaamte of verwaarlosing nie. Dis ’n saak van waardigheid, gelykheid en hoop.

“Elke Namibiër, ongeag geslag, ouderdom of agtergrond, verdien die reg op sorg, deernis en gemeenskap,” het sy gesê.

Die voorgestelde wet sal geestesgesondheidsdienste desentraliseer en verseker dat primêre gesondheidsorgklinieke en distrikshospitale sifting, diagnose en behandeling kan bied. Dit stel ook onafhanklike hersieningsrade in om geriewe te monitor, misbruik te voorkom en pasiënte se regte te beskerm.

“Geestesgesondheidsorg moet nie tot Windhoek beperk word nie. Ons moet verseker dat alle Namibiërs, van die mees afgeleë landelike gemeenskappe tot die hoofstad, toegang het tot behandeling, rehabilitasie en herintegrasiedienste,” het Luvindao beklemtoon.

Terwyl parlementslede van verskeie politieke partye hul steun vir die wetsontwerp uitgespreek het, het James Uerikua die debat gebruik om aandag op die land se ernstige gebrek aan verwante geriewe en hulpbronne te vestig.

“Hierdie wetsontwerp het op ’n gepaste tyd gekom omdat baie van ons mense, veral in landelike gebiede, in stilte ly sonder toegang tot hulp,” het hy gesê.

Uerikua het die ministerie vir die omvattende hervorming geprys, maar gewaarsku dat sonder behoorlike beleggings in infrastruktuur en personeel, die doel van die wetsontwerp ondermyn kan word.

“Die finansiële aspek, die ondersteuning van infrastruktuur en die beskikbaarheid van hulpbronne is groot struikelblokke.

“Ons kan nie voortgaan om net twee geestesgesondheidsgeriewe te hê wat die hele land bedien nie,” het hy beklemtoon.

Uerikua het die gebrek aan toegang aan Namibië se hoë selfdoodsyfer, een van die hoogste in Afrika, en veral onder mans, verbind. Hy het aangevoer dat kulturele en sosiale druk mans ontmoedig om emosionele nood uit te druk, wat dikwels tot selfbesering of selfdood lei.

Die wetsontwerp op geestesgesondheid kriminaliseer mishandeling, verwaarlosing en diskriminasie, verbied gedwonge sterilisasie en waarborg pasiënte se regte op verteenwoordiging, privaatheid en inligting. Indien dit ingestel word, sal dit Namibië se huidige wet van 52 jaar vervang.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer