‘Dit gee my ’n gevoel van vryheid’
Op die ouderdom van 68 is die meeste mense dolgelukkig met ’n daaglikse rustige stappie saam met hul troeteldier of om in die tuin rond te krap en kruie te plant.
Nie Elaine Frege nie. Nee, sy verkies die gebrom van ’n enjin onder haar, die wind in haar hare en die af en toe se adrenaliengelaaide “ontmoeting” met ’n bergpas wat ’n bok hoogtevrees sou gee.
“Ek is al vir meer as 48 jaar ’n motorfietsryer,” sê Elaine met die soort glimlag wat wys dat sy elke liewe kilometer daarvan geniet het.
“Dit gee my ’n gevoel van vryheid, asof ek nader aan my Skepper is. Die son op my vel, die wind in my hare, dit is hoe naby ek altyd voel God aan my is.”
Elaine se storie is egter nie een van ontspanne naweekuitstappies nie. Sy het al dik sand, ysige bergpaaie, vloeiende riviere en ’n ongeduldige vragmotorbestuurder in Delhi moes trotseer. Elaine het ook Ladakh, die wêreld se hoogste motorfietsroete tydens ’n 17 dae lange rit in 2012 verower en moes ’n terrein navigeer wat meer soos ’n hindernisbaan klink.
“Dit was uitdagend, ja,” sê sy, “maar ek is mal daaroor. Die berge toets jou en hulle beloon jou met skoonheid wat jy nie uit ’n motorvenster kan sien nie.”
Haar goue reël? Ry altyd waaksaam.
“Links, regs, voor, agter, jy moet oral kyk,” beklemtoon sy.
En maak seker jou ysterperd is in ’n perfekte toestand en dat jou mederyers meer kan doen as om net vir foto’s in leerbaadjies te poseer.
“In Indië het die motorfietsryers saam met wie ek gery het, na mekaar omgesien. In Namibië ry mense baie vinnig. Ek ry hier meestal alleen, want spoed kan doodmaak. Ons het te veel vriende op daardie manier verloor,” vertel Elaine.
As sy nog een laaste rit kon neem, sou Elaine nie huiwer nie: weer Ladakh.
“Dis nie net die rit nie, dis die tempels, die gevoel of jy van berge af vlieg, die kameraadskap by Rider Mania. In Indië gaan dit oor die reis, nie die spoed nie.”
Vir dié jonges wat met sterre in die oë na ’n motorfiets kyk en droom van glorie op ’n ysterperd, is Elaine se raad baie duidelik: ’n Motorfiets is nie ’n speelding nie.
“Begin klein met ’n 150cc, miskien selfs ’n bromponie en werk jou pad op. Jy kan nie alles van ander leer nie. Die klein dingetjies soos hoe om te parkeer, hoe om die systaander te gebruik, is net so belangrik soos om vinnig te ry.”
Elaine is nie net ’n motorfietsryer nie. Sy is ’n duidelike bewys dat passie nie ’n vervaldatum het nie. En te oordeel aan haar sprankel wanneer sy oor die oop pad praat, sal sy horisonne najaag solank die enjin loop.
Elaine vat ook dikwels die lang pad vir ’n goeie doel en sluit aan by liefdadigheidsritte waar haar passie vir fietsry haar hart ontmoet om ander te help. Want terwyl sommige mense hul lewe in jare meet, meet Elaine hare in die kilometers op haar ysterperd.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie