Foto’s Kazimierz Nowak/Wikipedia
Foto’s Kazimierz Nowak/Wikipedia

Drie Belge op ’n Pool se spoor

Henriette Lamprecht
Dis die storie van ’n skrywer, ’n akteur en radio-joernalis wat op hul fietse byna ’n eeu later die roete in Namibië en Angola volg van ’n Poolse reisiger, korrespondent en fotograaf.

Dié Pool Kazimierz Nowak het in 1931 die “mal” fiets opgesaal en van sy geboorteland deur Afrika en terug met ’n fiets gery. In Namibië het sy fiets egter ná drie jaar se trap deur Afrika se bos en sand iewers naby Leonardville besluit tot hier toe en nie verder nie.

Nowak stop egter geensins sy reis deur Afrika nie en lê die volgende 2 200 kilometer te perd af tot by Quipeio in Angola waar hy ’n nuwe fiets kry. Die feit dat hy nie die hele reis deur Afrika met ’n fiets kon aflê nie, het Nowak altyd gepla en dit is waar die Belge Tom Ysewijn (skrywer), Titus de Voogdt (akteur) en Jeroen Franssens (podsender) in die prentjie kom.

Tom, Titus en Jeroen pak Nowak se roete van 2 000 km in Namibië met hul fietse aan om uiteindelik die fietssirkel vir Nowak te voltooi wie se reis deur Afrika vyf jaar en vier maande geduur het.

Op die perdespoor van Nowak meer as 90 jaar gelede, gaan Tom, Titus en Jeroen met hul fietse sy reis volg wat hom deur Gobabis, Steinhausen en Hochfeld, Waterberg en vandaar Grootfontein en Tsumeb geneem het voordat hy via Etosha na Ondangwa en Okatana toe is.

Die drie avonturiers hou familie, vriende en nuwe en ou aanhangers deurgaans op hoogte op Jeroen se podsending nowak_podcast.

In ’n inskrywing onderweg na Tsumeb, vertel die drie hulle vertrek vroeg om “om de hitte voor te blijven”.

“De wind is genadeloos, stofwolken jagen over het verlaten mijnlandschap,” en skryf verder hulle het van beeste tot gemsbokke gesien.

“Na uren beuken tegen de wind duiken we een vallei in, de weg begint te dalen. Wat een verademing.” Die inskrywing vertel ook van hul tente opslaan by Ghaub, “tegen de middag bereiken we de oude missiepost van Gaub, een plek uit de 19e eeuw die nu een serene lodge is, vol leven: wrattenzwijnen, eekhoorns, zelfs luipaarden en bavianen in de verte.”

Nowak het tydens se jarelange reis honderde artikels en briewe aan sy vrou in Pole gestuur wat gehelp het om dit in koerante te publiseer. Sodoende kon hy sy gesin ondersteun van wie hy so lank weg was.

Gebore in Stryj op 11 Januarie 1897 het Nowak van 1931 tot 1936 alleen te voet, per fiets, te perd, met ’n boot en op ’n kameel regoor Afrika gereis. Sy reis het ’n afstand van 40 000 km van Libië tot Kaap Agulhas, Suid-Afrika en terug tot in Algerië gedek. Op 13 Oktober 1937 sterf hy in

Poznan as gevolg van die tol wat sy reise, malaria en beenoperasies op sy brose en vermaerde liggaam gehad het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer