Harry Moths maak die tenk van sy Mighty Mack met n 2 liter golf-enjin vol vir sy 14de Koës Rally. FOTO OTIS Finck
Harry Moths maak die tenk van sy Mighty Mack met n 2 liter golf-enjin vol vir sy 14de Koës Rally. FOTO OTIS Finck

Koës se pan bewe met petrolkoppe en spoedvrate

Otis Daniels
Dit gaan, buiten vir die sportmanskap, oor die saamkuier met vriende wat jy dalk verlede jaar laas op Koës se pan raakgeloop het.

Adrenalienverslaafdes, petrolkoppe en spoedvrate trek vandag vir dag twee saam vir die ikoniese Koës Rally, 130 km oos van Keetmanshoop, wat vanjaar vir die 40ste keer plaasvind.

As een van die oudste veldrenne het die gebrul van viertrekvoertuie en motorfietse reeds in 1985 vir die eerste keer oor die pan weergalm.

Vir Dirk Trümer, wat al meer as 20 jaar aan die renne deelneem, beteken dit twee dae van pret. “Dit is ’n wonderlike geleentheid om deel van te wees. Dit gaan oor sportmanskap. Ons kan saam met vriende kuier wat ons lanklaas gesien het, en daar is altyd goeie kompetisie,” vertel Dirk.

Organiseerder Rickus Vermeulen beaam dat die energie en entoesiasme van die toeskouers en mededingers elke Koës Rally onvergeetlik maak.

Die geleentheid lok, buiten plaaslike deelnemers, ook entoesiaste uit buurlande soos Suid-Afrika en Angola.

Vandag kry die pan weer ekstra lewe wanneer deelnemers ’n hindernisbaan moet baasraak en ’n duin moet uitklim. En natuurlik is daar die snelwedrenne – gewoonlik ’n hoogtepunt vir beide bestuurders en toeskouers.

Die fokus is ook op pret: kleuters en junior motorfietsryers gaan vir Ma en Pa ’n ding of twee wys, gevolg deur ’n mini-tydren en nog snelrenne.

Natuurlik is daar genoeg te ete en te drinke by verskeie stalletjies, met egte Suide-braaipakke en hout beskikbaar as jy self ’n vleisie of twee op die kole wil gooi.

Let wel: geen alkohol sal in die pan verkoop word nie.

Die dag word afgesluit met die prysuitdeling wat om 19:00 by die Koës-boerevereniging se saal begin, en daarna is dit deurdruk tot dagbreek – partytjietyd!

Klik op die skakel: q.my.na/E79C as jy wil sien en hoor wat op Koës se pan gebeur.

Kommentaar

Republikein 2025-07-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer