• Tuisblad
  • Afrika
  • Sonop voer weer tamaties uit ná 700 ton vernietig is

Sonop voer weer tamaties uit ná 700 ton vernietig is

Toegang tot Suid-Afrika kritiek
Die permitonttrekking is as "onbegryplik en onregverdig" beskryf en het glo miljoene in verliese veroorsaak en talle werknemers tydelik sonder werk gelaat.
Jacques du Toit
Jacques du Toit



Sonop Farms by Noordoewer kan weer eens sy vars produkte oor die grens stuur nadat die hooggeregshof in Pretoria in die buurland beslis het om die maatskappy se opgeskorte Suid-Afrikaanse invoerpermit te herstel.



Die uitspraak bring verligting vir een van Namibië se grootste tamatieprodusente, wat gedwing was om ­bedrywighede te staak en meer as 700 ton tamaties tydens die opskorting te vernietig.



Die maatskappy het die permitonttrekking as “onbegryplik en ­onregverdig” beskryf en gesê dat dit ­miljoene in verliese veroorsaak het en talle werknemers tydelik sonder werk gelaat het. Terwyl sommige berigte daarop dui dat alle ­Namibiese ­uitvoerders geraak is, het Sonop Farms se uitvoerende hoof, Albert van der Merwe, in ’n mediaverklaring wat verlede week uitgereik is, verduidelik dat hulle die enigste plaas is wat geteiken was.



“Ironies genoeg is slegs Sonop Farms se permit teruggetrek. In teenstelling met berigte dat alle ­Namibiese produsente geraak is, ­beklemtoon ons dat Sonop die enigste plaas is wie se permit gekanselleer as. Ander Namibiese produsente het voortgegaan om sonder ­onderbreking uit te voer,” het hy gesê. LEWENSBESTAAN BESKERM



Van der Merwe het gesê die ­“uitspraak verseker nie net ons vermoë om ­uitvoere te hervat en verdere ­verliese te beperk nie, maar nog belangriker, dit beskerm die lewensbestaan van ons werknemers en herstel ­stabiliteit vir hul huishoudings”.



Hy het gesê die gevoel van verligting op hul, is enorm, aangesien die onsekerheid van die afgelope week uiteindelik opgehef is.



“Benewens die syfers, was dit ’n diep ontstellende tyd vir ons werknemers, waarvan baie ­bekommerd was oor hul werk en vermoë om vir hul gesinne te sorg.”



SA MARK BLY NOODSAAKLIK



Alhoewel Sonop Farms ’n belangrike verskaffer aan Namibiese kleinhandelaars is, beteken sy ­grootskaalse ­bedrywighede dat toegang tot die Suid-Afrikaanse mark kritiek bly. “Ons voorseisoen-kleinhandel­programme vereis dat ons volumes plant wat die plaaslike vraag oorskry. Suid-Afrika bly ’n noodsaaklike mark vir ons,” het Van der Merwe ­verduidelik.



Sonop Farms het hom daartoe verbind om met die owerhede saam te werk om te verseker dat soortgelyke onderbrekings nie weer plaasvind nie.



Ten spyte van die finansiële skade, het die plaas dankbaarheid ­uitgespreek vir die ondersteuning wat dit ontvang het. “Ons is innig dankbaar teenoor ons lojale werknemers, kleinhandelvennote, ­bedryfskollegas en regspan vir hul veerkragtigheid. Bowenal dank ons ons Hemelse Vader, wat ons deur hierdie proses gelei het en krag gegee het in ’n tyd van groot beproewing.”



- [email protected]



Kommentaar

Republikein 2025-09-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer