Vader Tyd se stoepkuier
Sit sy daar op die stoepie, geleiklip. Die wintersonnetjie soos ’n kombersie om die ou bene. Meimaand ofte nie, ou bene kry vinnig koud. En God se son is verniet. Dit skyn oor almal, goed en kwaad, oud en jonk, het die jare haar geleer.
Af en toe kyk sy op van die boek op haar skoot na die jong gesinnetjie oorkant die straat, wat nooit tyd het nie. Dis diekant toe gejaag, daaikant toe gehol. Siek kinders, blaffende honde en ouers met die moeg van die lewe in hul oë.
Spartel-spartel. Hulle probeer ook maar net kop bo water hou.
Ure het hulle nie genoeg van nie, maar tyd het sý te veel, hier op die leiklipstoep. Sy sou kon uitruil, haar tyd oor ’n koppie tee en eintlik énige geselskap, want van leë ure en minute het sy in oorvloed. Sy sou dit kon uitdeel vir die wat te min het – gratis en verniet.
Dis maar soos die ou lewe is. Balans is daar nie: Eers val dit vooroor met jou, dan agteroor. Dit is slegs somtotale wat alles soos ’n balanseertoertjie laat lyk, dink sy met die slimmigheid wat ook net Vader Tyd jou kan leer.
Hier waar hy té veel ure in haar geselskap deurbring. Sy weet, Vader Tyd sal vertoef tot die uurglas leegloop. Sy het hom al probeer wegjaag na die gesin oorkant die straat, maar hy sit ook en bak in die wintersonnetjie, pal in haar geselskap.
Só ’n opdringerige vent en nie juis vriendelik met enige een nie.
Teen die kombuismuur is die gesiggies van kleinkinders, gekiek, geraam, glimlaggend. Geselskap in die baie, leë ure van die dag. Sy verbeel haar al hulle praat terug, want tyd het hulle ook te min van vir die lang kilometers na ouma toe.
Sy hoor net van die danslesse en sport, van kampioenskappe en Relie wat so mooi skilder – daar in die stad vol blink en min tyd. Vader Tyd vat ook van hulle, rek die kinderbene lank en maak dat die handjies wat eens binne hare kon pas, nou haar hande toemaak.
Skielik is die stoel op die leiklipstoep soggens leeg. Die wintersonnetjie het nog steeds sy kombers uitgehou, maar niemand was daar om dit by hom te vat nie. Die besige gesinnetjie oorkant die straat wonder of al die leë ure dan leeggeloop het? Dít tussendeur skoolkar ry en hol om betyds te wees vir werk.
Dan troos hulle hul daaraan dat die kleinkinders dalk kom kuier het. Of dalk het sy vir hulle gaan kuier – ’n paar goue ure, weg van Vader Tyd se droë geselskap. Oumenshande wat klein handjies vasdruk met ’n “vertel my bietjie van ...” daarby.
Want Kersfees tot Kersfees is ’n baie lang tyd.
En die ma van die gesin oorkant die straat verstol vir ’n oomblik in haar hardloop en gespartel. Sy kom op vir asem, want sy wéét van oumensoë wat eers verlang en sy weet dat uurglase mettertyd leegloop. Dán, as Vader Tyd eindelik aanstaltes maak, is dit die besige gesinne wat verlang.
Verlang en verlang, want die hemel het nie telefone of besoektyd nie. Vader Tyd loop nie terug in sy spore nie, nee, hy verwyl nou sy tyd op ’n ander sonnige stoep.
Die stoel op die stoep bly leeg. Die wintersonnetjie skyn steeds op die leiklipstoep. En die gesinnetjie oorkant die straat, hulle spartel steeds voort.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie