Wiele rol vir speenkalwers na Suid-Afrika
Voerkraalbaas sê oor invoere uit Namibië
Ronelle Rademeyer - Met vier Suid-Afrikaanse voerkrale wat reeds geregistreer is om speenkalwers uit Namibië te ontvang en nóg vier wat binnekort gaan volg, skyn daar weer vir beesboere lig in die tonnel.
Mnr. Paul Strydom, hoofbestuurder van die Vleisraad van Namibië, het by navraag bevestig dat die Suid-Afrikaanse voerkrale Morgan Beef, Maye West, Mushlendow en Braams reeds by dié land se direktoraat dieregesondheid van die departement van landbou geregistreer het om vragte speenkalwers uit Namibië te kan ontvang.
Die groot en bekende voerkrale Sparta, Karan Beef, Beefmaster en Beefcor is ook besig met registrasie. Strydom sê hy hoop dit sal vinnig afgehandel wees sodat uitvoere so spoedig as moontlik kan hervat.
Dit sal groot verligting bring vir plaaslike produsente en hoe gouer die speenkalwers daar in voerkrale opgeneem word, hoe vinniger is hulle slaggereed. Die vraag na beesvleis styg tradisioneel vanaf November tot Januarie, sê Strydom.
Mnr. Dave Ford, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Voerkraalvereniging (Safa), sê die buurland slag jaarliks sowat 2,6 miljoen beeste waarvan nagenoeg 10% uit Namibië afkomstig is.
“Ons beskou dit as ’n belangrike mark en ons het die Namibiese speenkalwers nodig,” het hy in ’n telefoniese onderhoud aanRepublikein gesê. Geen speenkalwers is sedert 1 Julie toe Suid-Afrika se streng nuwe invoerregulasies van krag geword het, na die buurland uitgevoer nie.
Intussen het die Suid-Afrikaanse dieregesondheidsowerheid egter die standaard operasionele prosedure (SOP) vir die invoer van vee na voerkrale en abattoirs verander.
Geregistreerde voerkrale mag Namibiese speenkalwers ontvang mits die diere in geseëlde vragmotors daar aankom. Dié voerkrale is onderhewig aan ’n streng ouditstelsel om seker te maak die naspeurbaarheidsprosedures word noukeurig nagekom, sê Ford.
“Om te registreer is ’n uitgerekte administratiewe proses, maar die departement (van landbou) werk regtig saam en probeer dit so vinnig as moontlik afhandel,” sê hy.
Intussen het die Vleisraad benadruk dit is belangrik dat produsente die datums waarop hul diere teen siekte soos antraks ingeënt is en die toetsresultate teen siektes tuberkulose, noukeurig aanteken en op rekord hou om die uitvoerproses te vergemaklik.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie