Vyf bie op olifante
Francoise Steynberg – Die tender vir die verkoop van 170 Namibiese olifante is in geheimhouding gehul.
Al wat die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, gister wou verklap, is dat vyf tenders ingedien is.
Die omstrede tender het op 29 Januarie gesluit.
Wat die proses van die oopstel van tenders en evaluering daarvan betref, het die uitvoerende direkteur, mnr. Teofilus Nghitila, onlangs gesê dit sal onder toesig van beamptes van die tesourier in die ministerie van finansies gedoen word voor finale goedkeuring deur die omgewingsministerie.
Dit is byna 'n maand ná die sluitingsdatum van die tender en die uitslag is nog nie aan die publiek bekend gemaak nie, en is ook nie op die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) se webtuiste nie.
NIKS NOG ONTHUL
Behalwe die bevestiging dat vyf tenders ingedien is, is geen ander inligting openbaar gemaak nie.
Volgens die openbare verkrygingswette moet die inligting van 'n tender wat in die media geadverteer is, openbaar gemaak word.
Muyunda wou nie bevestig of die vyf bieërs plaaslike of buitelandse kopers is nie.
“Die proses duur voort en sal aangekondig word sodra konsultasies met alle rolspelers afgehandel is,” sê hy.
Volgens Nghitila is by Omatjete sowat 60 olifante waarvan 30 verkoop sal word; in die Kamanjab-gebied sowat 120 waarvan 50 verkoop sal word; by die Grootfontein-Kavango-beesplase sowat 130 waarvan 60 verkoop sal word en in die Grootfontein-Tsumkwe-gebied sal 30 uit sowat 70 olifante verkoop word.
'LEUNSTOEL-KRITICI'
Die verkope het wydverspreide, internasionale kritiek ontlok, maar Nghitila het begin Februarie kritici as “leunstoelbewaarders” afgemaak.
“Daar is voorstelle van ons kritici dat ons ons eie mense se pleidooie moet ignoreer ten gunste van toeriste en wense van leunstoelbewaarders duisende kilometers vanaf Namibië.
“Dít, ondanks die feit dat ons burgers aanvaar het dat hul lewensruimte met wilde diere gedeel word wat hul eiendom, bronne van lewensbestaan en selfs menselewens vernietig,” sê Nghitila.
“Dis jammer om te sien mense dink steeds Namibiërs en Afrikane kan nie hul eie sake bestuur nie. Ons geduld word erg beproef.”
Volgens Nghitila sal die opbrengs van die veiling in die Wildproduktetrustfonds gestort word en is vir wildbewaring en landelike ontwikkelingsprojekte geoormerk.
Die redes vir die veiling is volgens die ministerie gegrond op die uitdunning van die groeiende olifantbevolking om die impak van die jarelange droogte en die mens-olifant-konflik te verminder.
Wat mens-olifant-konflik betref, is volgens die ministerie altesaam 3 450 hektaar gewasse deur olifante beskadig.
Slegs een persoon is deur 'n olifant beseer.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie