Tromp en Greyling begin vir Kings
Rugby
Twee Namibiërs, buitesenter JC Greyling en heelagter Johann Tromp, is in die beginspan van die OP-Kings in hul tuiswedstryd Saterdag teen die Westelike Provinsie, wat regstreeks op SuperSport vertoon word.
Die meeste spelers in die OP-Kings se groep sal gedurende die komende klompie dae noodgedwonge speelkans kry.
Die Kings speel Saterdag in die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth teen die Westelike Provinsie.
Dan vertrek hulle na Kimberley, waar hulle Woensdag met Griekwas kragte meet.
Dié kragmeting is vroeër uitgestel toe daar nog onsekerheid was of die Kings wel in die Curriebeker se Premierliga sou speel.
Asof dít nie reeds ’n steil genoeg berg is om uit te klim nie, moet die Kings dan volgende Saterdag in Bloemfontein teen die Vrystaat-Cheetahs speel.
“Dis ’n taai toffie, maar ons het besluit om die uitdaging positief te benader,” het Charl Crous, wat deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie gesekondeer is om toe te sien dat dinge agter die skerms by die Kings glad verloop, gesê.
“Die meeste spelers in ons groep sal omtrent speelkans kry. Daar sal beslis rotasie wees en spelers wat dalk nie onder ander omstandighede sou gespeel het nie, sal moet speel.”
Crous kon nog nie sê hoeveel spelers die Kings na Kimberley en Bloemfontein toe vat nie.
“Kyk, Griekwas het dit nou ook maar moeilik getref,” het Crous gesê.
“Dit was vriendelik van hulle om die wedstryd uit te stel, maar nou speel hulle hierdie Saterdag in Mbombela teen die Pumas en dan Woensdag teen ons.”
Griekwas het darem die volgende Saterdag ’n loslootjie.
RENALDO LEI DIE PUMAS
Die agtsteman Renaldo Bothma sal die Pumas môre in Mbombela in die Curriebeker-wedstryd teen Griekwas aanvoer.
Die Namibiese kaptein, wat vir die Bulle in die Superrugby-reeks gespeel het, neem die kapteinskap oor van die slot Hugo Kloppers, wat ’n plaasvervanger in die wedstryd is.
Jannie Stander speel slot in die plek van Kloppers wat voorheen vir Griekwas gespeel het.
Dit is een van sewe veranderinge in die Pumas se beginspan wat vier in die agterlyn insluit.
THEUNS SPEEL OP ELLISPARK
Die Namibiër Theuns Kotze sal die nr. 10-trui op Ellispark dra wanneer die Boland-Kavaliers môre ongetoetste kombinasies in hul Curriebeker-rugbystryd teen die Goue Leeus inspan.
Brent Janse van Rensburg, die Boland se afrigter, het bevestig dat die losvoorspelers Jacques Engelbrecht en Zandré Jordaan, asook die heelagter Nico Scheepers, weens beserings nie in Johannesburg in aksie sal wees nie.
Dié drie is in die nederlaag van 20-41 teen die Haaie in Wellington beseer.
Vir die Kavaliers is dit ’n groot terugslag, met Engelbrecht en Jordaan die span se vernaamste baldraers en voorste verdedigers. Scheepers is die Wynboere se voorste stelskopper, terwyl hy ook baie veilig onder die hoë bal in die laaste vesting is.
Wayne Wilschut en Shaun McDonald neem Jordaan en Engelbrecht se plekke onderskeidelik op agtsteman en steelkantflank oor. Dit terwyl die losskakel Adriaan Carelse op heelagter in die plek van Scheepers uitdraf.
Janse van Rensburg het ook besluit om Gerhard Jordaan op skrumskakel bo die ervare Marnus Hugo te kies. – Netwerk24 en eie berig

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie