Terug skool toe
Terug skool toe

Terug skool toe

Errol Hurter
Soos WHS se groot reünie in 2017 nader kruip, word allerhande herinneringe opgediep. Stories oor onderwysers se eienaardighede loop. As een ou asem skep, val die volgende een in.
Ons formidabele Duits-juffrou (ja, die een wat springjurke se soomlengtes met ’n liniaal gemeet het) bring baie herinneringe. Jy moes ellelange lyste Duitse idiome en voorsetsels leer. As sy die klas instap, het sy die idioom begin en na ’n slagoffer gewys wat dit moes voltooi. Het jy die kat aan die stert beet, is jy na die linkerkant van die klas verban – die “dumm und stumm Reihe”. In elke klas is egter een persoon wat niks en niemand ontsien nie. Die dag toe hy met die instap vir haar sê: “Frau du siehst aus wie ein Blumchen zwischen Blumen” (dit terwyl daar net een blom op haar tafel was), was dit die laaste strooi. Eers moes hy buite staan en terug in die klas het hy permanent reg onder haar neus gesit.
Televisie was daar nie; ons blootstelling aan Engels was hoofsaaklik die skool. St. 6 beland ons by ’n baie korrekte onderwyser wat mens altyd deur ’n ring kon trek. Die les begin met “Morning class. Stand in the aisle” en dan spel hy die woorde letter vir letter met ons wat agterna dreun. Daarna was dit “Auwer Vaader” wat hy soms met ’n “faster, faster” onderbreek het. Op ’n dag besluit hy ons moet die lange gebed een vir een opsê. Die oplossing? Die seuns plak ’n geskrewe een agter op die baadjie van die een wat voor hom staan en lees dit af met oë wat op skrefies getrek is.
Ons skeinat-onnie het met ’n eksperiment te veel fosfor op die water gegooi. Die stukkie fosfor het al brandend heen en weer op die water gehardloop. Die volgende oomblik is daar ’n knal en die glasbak met ­fosfor ontplof. Die Duitse woorde wat uit ons meneer se mond gekom het, het ons Duitse woordeskat ­uitgebrei terwyl ons geskok ­toegekyk het.
En dan ons befaamde wiskunde-onnie wat ook die koshuisvader by ’n seunskoshuis was. Die een wat teenoorgesteld beduie en gepraat het. So sou hy na drie seuns in die eetsaal wys en sê: “Sal julle drie by my kantoor gaan wag vir ses houe elkeen” en drie vingers in die lug hê wanneer hy ses houe sê.
Een aand terwyl hy besig was om na ete te bid, vat een van die ouens nog ’n laaste happie brood. Blykbaar het dit so geklink: “Dankie Vader vir die voedsel wat ons geniet. Voed en versterk ook ons siele met die brood van die lewe . . . Penderis kom af kantoor toe . . . Amen.” Nou weet ons hy’t met oop oë gebid.
Met Maandae se saalopening was dit die groot vlaghysingseremonie, met die note van die volkslied in die agtergrond. Die trompetblaser het eenkant by die onderwysers gestaan. Soms het iemand ’n knoop in die tou te maak sodat die vlag nie tot bo gehys kon word nie. Die arme vlaghysers moes ruk en pluk om dit reg te kry of die vlag aftrek en weer van voor af begin.
Die stories hou nie op nie. Op ’n dag sê die streng Duits-juffrou vir dieselfde onmoontlike mannetjie met rooi miere “. . . du bist so unartig”. Al wiegend op die agterpote van sy stoel, is hy ook nie links nie en laat waai met “Frau, du bist so wreedartig”.

Kommentaar

Republikein 2024-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Deportivo Alaves 2 vs 2 Girona SerieA: Frosinone 0 vs 5 Inter Milan #N/A Currency: GBP to NAD 23 | EUR to NAD 19.82 | CNY to NAD 2.55 | USD to NAD 18.41 | DZD to NAD 0.14 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.31 | EGP to NAD 0.38 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.68 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.56 | RUB to NAD 0.2 | INR to NAD 0.22 | USD to DZD 134.06 | USD to AOA 834.06 | USD to BWP 13.6 | USD to EGP 47.35 | USD to KES 130.98 | USD to NGN 1439.8 | USD to ZAR 18.44 | USD to ZMW 26.75 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index 78464.25 Up +1.19% | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1754.6 Up +1.22% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13527.01 Up +0.36% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 26003.16 Up +0.05% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 360.52/OZ UP +0.59% | Copper US$ 4.62/lb UP +1.13% | Zinc US$ 2 961.00/T DOWN -0.06% | Brent Crude Oil US$ 83.21/BBP DOWN -0.0171 | Platinum US$ 995.62/OZ UP +1.05% #N/A