Omstrede deurbraak in waardasiehof
Hof gee 40% ‘afslag’
Jacqueline Louw en Elvira Hattingh – Landdros Johannes Shuuveni se beslissing gister dat grondwaardasies vir belastingdoeleindes met 40% verminder gaan word, is met gemengde gevoelens uit regs- en landbougeledere ontvang.
Mnr. Sakkie Coetzee, die uitvoerende bestuurder van die Namibië Landbou-unie (NLU), sê die verwagting is seker dat hulle dankbaar moet wees oor hierdie toegewing, maar grondeienaars is nie ingenome nie.
“Ons sê nee dankie, want dit gaan net groter verwarring onder landbouprodusente veroorsaak terwyl die kern van die probleem steeds nie getakel word nie. Die essensie van die saak is dat die huidige waardasierol nie voldoen aan die nodige regulasies soos in die wet vervat nie en dat dit nie die produksie-potensiaal van landbougrond in ag neem nie.
“Die feit dat die afslag net geld vir diegene wat beswaar aangeteken het, beteken binne ’n sekere belastingsone gaan een grondeienaar minder as sy buurman betaal, wat verdere teenstrydighede tot gevolg gaan hê. Dit is glad nie die doel van ’n waardasierol nie,” het Coetzee gesê.
Shuuveni het die uitspraak gister in die Windhoekse landdroshof tydens die waardasiehofsitting gelewer. Hy het gesê die hof se mandaat is om na besware te luister en besluite te neem.
“Grondeienaars is geregtig om gehoor te word. Indien ons fouteer, kan appèl by die hoërhof aangeteken word.”
Die 40% vermindering in grondwaardasies geld slegs vir grondeienaars wat deur regspraktisyns verteenwoordig word. Volgens Shuuveni is die beswaarmakers wat nie regsverteenwoordiging het nie, se besware reeds hanteer deur ’n vermindering van N$150 per hektaar op die waardasies van hul eiendomme toe te staan.
Adv. Albert Strydom het in sy betoë gister die hof aan stigterspresident Sam Nujoma se belofte herinner dat daar ’n plek vir almal in Namibië is – ongeag van watter agtergrond. Nujoma het gesê dit is die rede hoekom die land vrede en voorspoed beleef het. Strydom het verder gesê daar kan net vrede wees as daar geregtigheid is.
Strydom het weer eens benadruk dat boere nie teen die betaal van grondbelasting gekant is nie, solank dit billik en regverdig is. Hy het ook genoem dat meer as 2 000 boere teen grondwaardasies beswaar gemaak het, wat beteken die waardasierol is nie billik nie.
Die waardasiehof het in ’n uitspraak op 9 November gesê die voorlopige waardasierol het leemtes en die hof is nie in staat om die waardes in hul huidige vorm te aanvaar nie. In dié uitspraak is die besware van die grondeienaars gehandhaaf wat beteken die die hof erken dat die inligting waarop die waardasierol gebaseer is, foutief is en aangepas behoort te word en ook dat die waarderingsmetode van die waardeerder nie korrek was nie.
Met verwysing na die waardasiehof se uitspraak het Strydom aangevoer dat regsverteenwoordigers moet aflei dat die hof nie die waardasierol wil verwerp nie om sodoende verdere vertraging van die proses te probeer vermy. Sy betoog is die vertraging is deur die waardeerder veroorsaak en nie die boere se toedoen nie.
“Die vertraging kan nie as verskoning gebruik word dat geregtigheid nie gelewer word nie,” is Strydom se argument.
Strydom het Republikein meegedeel dat hy die volle uitwerking van die 40% vermindering in grondwaardes nog moet oorweeg aangesien die vermindering steeds gebaseer is op die 2012-waardasiemodel wat die hof as “fundamenteel foutief” beskryf het.
Mnr. Charlie Bodenstein het namens sy kliënte betoog dat hulle insgelyks bereid is om belasting wat wettig en grondwetlik is, te betaal. Hy het genoem dat grondeienaars se besware nie as rewolusionêre optrede teen die owerhede gesien behoort te word nie. Hy het voorts onreëlmatighede in die waardasierol uitgewys wat veroorsaak dat dit nie gesertifiseer kan word nie. Een sodanige ongerymdheid is dat grondeienaars wat deur regspraktisyns verteenwoordig word, verskillend van dié sonder regsverteenwoordiging behandel word. Hy het ook aangevoer dat die voorlopige waardasierol nie aan die wet voldoen nie. Hy het gevra dat elke beswaar apart aangehoor word.
Die waardeerder, mnr. Protasius Thomas, se saak is dat hy die beswaarmakers se voorgestelde evalueringsmodel betwis.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie