Namibië buiteperd in Nairobi
Sewesrugby
Kenia sal op sy tuiswerf beslis die gunsteling wees om die naweek se Safari Sewestoernooi te wen, wat ook as vanjaar se Afrika-kampioenskap in sewesrugby dien.
Afrigter Jurie Booysen se Namibiese span is vasberade om alles in die stryd te werp om teen die verwagtinge in die groot prys in te palm wat die naweek op die spel staan.
Die span wat die toernooi in die hoogste posisie afsluit, sal na die Wêreldrugby Sewesreeks se toernooie in Dubai en Kaapstad genooi word. Dit is met die uitsondering van die een span wat reeds gekwalifiseer is (Kenia), nadat Suid-Afrika op die laaste oomblik sy span aan die Nairobi-toernooi onttrek het.
“Ons oefenveld se oppervlak was baie hard en die dagtemperatuur is maar redelik hoog,” het spanbestuurder Robbie Dickson gister uit Nairobi laat weet.
Volgens hom behoort eers vandag ’n duidelike prentjie verkry te word van hoe naby aan volle sterkte Kenia (die verdedigende Afrika-kampioen en ook ’n kwalifiseerder vir Rio 2016) sal wees.
“Ons weet wel dat Collins Injera hier is,” het hy gesê met verwysing na die Keniaanse spoedvraat wat meer drieë as enigiemand anders in Wêreldreekstoernooie gedruk het.
Namibië het tradisioneel ’n wisselvallige rekord in sewestoernooie en sal dus nie kan bekostig om enige opponent ligtelik op te neem nie. In die 2015 Afrika-toernooi in Gauteng het die Namibiërs goed begin, maar het vyfde klaargemaak.
Behalwe dat dit Booysen self se eerste toernooi as nasionale afrigter is, het hy ook nie naastenby sy droom-twaalftal tot sy beskikking nie. Die Swakopmunder het ook skaars twee weke gehad om die spelers voor te berei wat by die proewe op 11 September opgedaag het.
Meer as 60 spelers (plaaslik en in die buiteland) wat in die land se hoëprestasie-groep is, is ook nie vir sy sewespan beskikbaar gestel nie. Uiteraard is FNB Wanderers op sy huidige veldtog in die Gold Cup klubreeks gefokus, maar dit klink steeds verdag dat geen ander topspelers uit ander geledere die kans sou kon gebruik om hul wedstrydfiksheid of sewesvaardighede te verbeter nie.
Gedane sake het egter geen keer nie en die aangewese Namibiërs sal dus maar die naweek hul oog op die bal moet hou.
Intussen is bekendgemaak dat Tuna Amutenya die Namibiërs op die veld as kaptein sal aanvoer.
• Regstreekse videostroom van die aksie sal glo op zuku.co.ke/live, of ZukuOfficial op Facebook gevolg kan word. Die Namibiërs open hul veldtog vandag met wedstryde teen Tunisië en Botswana (10:00 en 14:30 Namibiese tyd).
Die loting is:
Groep A: Kenia, Senegal, Nigerië.
Groep B: Zimbabwe, Mauritius, Uganda.
Groep C: Marokko, Zambië, Madagaskar.
Groep D: Tunisië, Botswana, Namibië.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie