’n Kans om te kan sien
Luke Ockhuizen is vroeggebore op sewe maande, maar hy het reeds enorme uitdagings oorkom.
Nou is die tien maande oue Luke se ma, Anjelica Essen, desperaat vir mediese hulp om haar seuntjie die kans te gee om uiteindelik die wêreld om hom te kan sien.
Vir nou is Luke se wêreld ’n plek wat hy deur middel van klanke, aanraking en die liefde en warmte ontdek van diegene wat vir hom lief is. Hy glimlag dikwels, geniet musiek en is vol energie.
Sy lewenslustige persoonlikheid is so aansteeklik dat ’n mens soms vergeet Luke kan nie sien nie, volgens Anjelica van Rehoboth.
Maar agter sy vrolike glimlag skuil ’n seuntjie wat reeds ’n moeilike stryd om oorlewing gevoer het en ’n ma wat vashou aan die hoop dat haar seuntjie eendag haar gesig sal kan sien.
Anjelica het nooit gedink haar tweede swangerskap sou so ’n onverwagse wending neem nie. Tot op sewe maande van haar swangerskap was alles normaal en was daar geen waarskuwingstekens dat Luke sy opwagting vroeër sou maak nie.
“Ek was nie gereed nie. Dit het so skielik gebeur,” onthou sy.
Luke het met geboorte net 1,5 kg geweeg en die vreugde van sy koms is deur vrees oorskadu.
Hy is byna dadelik by Anjelica weggeneem vir mediese hulp met onder meer sy asemhaling.
“Ek onthou ek was bang. Hy het so vinnig gekom en hy was so klein. Ek kon hom nie vashou soos ander ma’s nie. Hulle het hom vinnig weggeneem om hom te help asemhaal. Ek het net gebid dat hy sal lewe,” vertel Anjelica.
Luke het meer as twee maande in die hospitaal deurgebring, waar hy ’n broeikas en suurstof nodig gehad het om te oorleef. Vir Anjelica was die eerste weke van haar seuntjie se lewe met kommer en gebede gevul en die hoop dat Luke sal oorleef.
Toe hy ses maande oud was, het sy begin besef iets is fout met sy sig. Anders as ander babas van sy ouderdom, het hy nie speelgoed of gesigte met sy oë gevolg nie. Hy het slegs op lig gereageer, veral in ’n donker kamer. Haar moederinstink het vir Anjelica gesê iets is fout met die verwoestende moontlikheid dat haar seuntjie moontlik blind is.
“My hart het gebreek. As ma droom jy jou kind sal jou gesig sien. Ek het baie gehuil. Ek het aanhoudend gevra hoekom my baba?”
Sy het egter ook vir haarself gesê sy sal nie moed met hom opgee nie.
Mediese ondersoeke het twee toestande geïdentifiseer wat Luke se oë aantas: aanhoudende fetale vaskulatuur (Persistent Hyperplastic Primary Vitreous (PHPV)) in albei oë en komplikasies wat verband hou met retinopatie (ROP) by vroeggebore babas.
PHPV ontstaan wanneer weefsel wat normaalweg voor geboorte behoort te verdwyn, binne-in die oog agterbly; ROP beïnvloed weer die ontwikkeling van die retina, veral by babas wat te vroeg gebore is.
TWEEDE OPINIE
Anjelica het Luke na die Windhoek Sentrale Hospitaal geneem, waar hy verskeie ondersoeke ondergaan het, insluitend ’n CT-skandering, B-skanderings en ’n ondersoek onder narkose. Die gesin kon egter nie die behandeling kry waarop hulle gehoop het nie en het besluit om ’n tweede opinie te soek.
Hulle raadpleeg nou spesialiste by die Olympia Eye and Laser Centre in Windhoek waar verdere ondersoeke nodig is om vas te stel of chirurgie Luke se sig kan verbeter.
Dokters moet nog vasstel of sy retinas vasgeheg is en of die weefsel wat sy oë aantas, verwyder kan word. Luke het wit lense in albei oë en die wit weerkaatsing maak dit vir dokters onmoontlik om verby die lense te sien en die toestand van sy retinas behoorlik te beoordeel.
Hy sal moontlik ’n prosedures bekend as lensektomie en vitrektomie moet ondergaan, wat behels dat die aangetaste lens en weefsel verwyder word sodat lig die oog kan binnekom. Dokters sal egter tydens die operasie die oog moet oopmaak om vas te stel of die retina vasgeheg is. Die uitslag van die ondersoek sal help bepaal watter verdere moontlikhede vir behandeling daar is.
Alhoewel daar geen waarborge gegee is dat sy sig herstel sal word nie, gee die feit dat Luke steeds op lig reageer, sy ma ’n rede om aan hoop vas te klou.
Vir Anjelica word tyd en finansies egter al hoe groter struikelblokke.
“Ons het nie mediese fonds nie. Alles moet kontant betaal word. Elke besoek, elke skandering, elke rit van Rehoboth na Windhoek kos geld wat ons nie het nie. Soms moet ons wag omdat ons eers die geld moet bymekaarmaak. Daardie wagtyd is pynlik,” sê sy.
Met verdere ondersoeke en moontlik duur chirurgie in die vooruitsig, is die finansiële las iets wat hulle nie alleen kan dra nie.
MEDIESE KOSTE BYNA N$100 000
’n Mediese kwotasie van die Olympia Eye and Laser Centre, gedateer 20 November 2026, sit die koste uiteen vir Luke se ondersoek onder narkose, ’n lensektomie, ’n vitrektomie en ’n membranektomie. Die gekwoteerde bedrag sluit onder meer sowat N$38 825 vir die operasie, N$35 350 vir teaterkoste en N$4 500 vir narkose in wat die totaal op sowat N$96 675 te staan bring.
Ten spyte van hierdie uitdagings, toon Luke steeds die vasberadenheid wat hom deur sy eerste maande van sy lewe gedra het. Hy is ’n vrolike, energieke seuntjie wat lief is vir musiek, daarvan hou om vasgehou te word en reageer op die geluide om hom.
Op tien maande het Luke besluit om te kruip sommer heel oor te slaan en wil hy eerder probeer staan en loop.
Sy ontwikkeling mag dalk anders lyk as dié van ander kinders, maar Luke vind sy eie maniere om die wêreld om hom te ervaar.
Anjelica het sy oë geword wat hom deur alledaagse aktiwiteite lei, oor alles om hom met hom te gesels en altyd te sorg dat hy veilig is, terwyl hy die wêreld deur middel van aanraking en klank verken.
“Hy is ’n vegter. Hy het in die broeikas geveg om te lewe, en hy veg steeds," sê Anjelica trots.
Om met die onsekerheid saam te leef, is nie maklik nie, erken sy. Sommige dae vind sy die krag om aan te hou, terwyl ander dae trane bring wanneer Luke uiteindelik aan die slaap raak. Sy is bekommerd oor sy toekoms en hoe die lewe daarna sal uitsien as haar seuntjie se sig nie herstel kan word nie, sê Anjelica.
Tog put sy krag uit Luke, haar familie en haar geloof waar sy by haar ouma en tannie woon en omring is deur geliefdes wat die las help dra.
Haar grootste wens is nie noodwendig dat Luke perfekte sig moet hê nie, sê Anjelica, maar dat hy genoeg sig het om te kan speel, skool toe te gaan en uiteindelik ’n onafhanklike lewe te lei.
“Ek wil hê die wêreld moet vir Luke sien – nie net sy oë nie, maar ’n pragtige, sterk, gelukkige seuntjie wat ’n kans verdien om die wêreld te sien.”
Anjelica doen ’n beroep op mediese kundiges, organisasies, besighede en lede van die publiek wat moontlik kan help met die koste van Luke se spesialisbesoeke, verdere ondersoeke en moontlike operasies. Sy hoop ook om in verbinding te tree met organisasies wat kinders ondersteun wat gespesialiseerde oogbehandeling benodig.
“Dankie dat julle nie julle oë wegdraai van my baba af nie. Selfs ’n klein bietjie hulp kan sy hele lewe verander.”
Vir nou hou Anjelica vas aan die hoop dat Luke eendag sal opkyk, haar gesig sal vind en die ma sal sien wat nooit opgehou het om vir hom te veg nie en wat hom van die heel begin af liefgehad het.
Persone of instansies wat Anjelica en Luke wil ondersteun, kan haar by 081 258 5412 of per e-pos by [email protected] kontak.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie