Links skuldig aan brandmoord
Finale betoë oor twee weke
Manfred Links is gister in die hoërhof in Windhoek skuldig bevind op klagte van moord en poging tot moord ná hy in 2020 petrol oor sy meisie gegooi en haar aan die brand gesteek het.
Die man wat in 2020 petrol oor sy meisie gegooi en haar aan die brand gesteek het terwyl sy hul 13 maande oue kind in haar arms vasgehou het, is gister in die hoërhof in Windhoek skuldig bevind.
Manfred Links is skuldig bevind op een klag van moord op sy meisie, wyle Michelle Roelph, asook een klag van poging tot moord op hul dogtertjie. Die voorval het tydens ’n argument op 1 Januarie 2020 naby hul huis in Ariamsvlei plaasgevind.
Hoewel Links beweer hy het Roelph nie met opset doodgemaak nie, het regter Christie Liebenberg beslis hy moes voorsien het dat sy optrede tot haar dood sou lei.
Liebenberg het Links ook skuldig bevind op die klag van poging tot moord op sy dogter aangesien hy moes besef het dat sy “sonder twyfel blootgestel sou wees aan die gevaar”.
Links is wel vrygespreek van ’n bykomende klag van poging tot moord.
Hy het getuig dat hy die petrol gekoop het met die doel om Roelph se besittings aan die brand te steek, maar Liebenberg het in sy uitspraak verwys na die getuienis van die petroljoggie wat aan Links die petrol verkoop het.
Volgens die petroljoggie het Links gesê hy gaan Roelph aan die brand steek, sou hul verhouding nie verbeter nie.
Liebenberg het ook gesê Links se getuienis dat hy Roelph slegs een keer met petrol gegooi het, vals is as die hoeveelheid petrol waarmee hy haar gegooi het, in ag geneem word.
Roelph is ná die voorval in die hospitaal opgeneem en 81% van haar liggaam was met brandwonde bedek. Sy is op 12 Januarie dood en volgens die nadoodse ondersoek het sy weens haar brandwonde aan nierversaking gesterf.
KIND OORLEEF
Roelph kon daarin slaag om hul dogter op die vloer te gooi voordat sy aan die brand gesteek is en die meisie het die voorval oorleef.
’n Familielid het haar op 2 Januarie 2020 na die hospitaal geneem waar haar brandwonde behandel is. Die verpleegster wat die meisie behandel het, het tydens die verhoor getuig dat sy brandwonde aan haar regtervingers en -voet opgedoen het.
Links sal weer op 29 Maart in die hoërhof vir finale betoë verskyn voor sy vonnisoplegging.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie