Viertal gaan leer in Pakistan
Krieket
Vier lede van die senior nasionale manskrieketgroep van die Richelieu Eagles kry ’n sonderlinge geleentheid om ’n oefenkamp van sowat twee weke in Pakistan by te woon. Van links is die 32-jarige Pikky ya France, Nicol Loftie-Eaton (21), Mauritius Ngupita (21) en Shaun Fouché (22) wat gister uit Windhoek vertrek het op hul besoek aan die gerekende franchise en heersende kampioen in die Pakistanse Superliga, die Lahore Qalandars. “Ons is lankal op die uitkyk vir sulke geleenthede – om vir ons spelers blootstelling aan vreemde omstandighede te gee. Die Lahore-franchise is bekend as ’n goeie teelaarde waar die fynere kuns van draaiboulwerk beoefen word. Ons hoop dat die vier manne meer oor die tegnieke van draaiboulwerk, verskillende variasies, die opstel van strategieë in ’n wedstrydsituasie asook kolftegnieke teen draaiboulers sal kan leer,” het Krieket Namibië se uitvoerende hoof, mnr. Johan Muller, verduidelik. Die veelsydige Namibiër David Wiese het reeds in twee seisoene by die Qalandars groot naam gemaak en dié franchise is ter sprake vir ’n beplande internasionale vierhoekige T20-toernooi in Windhoek in September.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie