No Image Caption

Bybelse wysheid

Sanet Pearson
DR. ANNES NEL

Hebreërs 4:10-11: “... elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan...”

Soms leef ons van naweek tot naweek. Ons wil net rus. Iemand het gesê die ergste Vrydag is wanneer jy besef dit is nou eers Woensdag! Wanneer rus mens regtig? Die meeste mense sal een antwoord gee: naweke en vakansies!

Vakansies en rus is nie dieselfde vir die skrywer van Hebreërs nie. Om te rus is ’n diep geestelike oefening. In die Bybel word rus dikwels gesien as die punt wanneer mense ’n doel bereik het. Aan die einde van die skeppingaksies rus God (Gen 2:2,3).

Ons vind nie regtig rus as ons oor naweke rus of wanneer ons met vakansie is nie. Ons kan terugkom van vakansie af en steeds dodelik moeg wees, want ons het nie die rus van God beleef nie. Ons vind rus wanneer ons tuiskom op die plek waar God ons rus gee (4:10). As ons nie by Hom rus vind nie, volg ons die voorbeeld van ongehoorsame Israel wat nooit die beloofde land binnegegaan het nie – die doel wat God wou hê hulle moes bereik.

Net voordat Matteus Jesus se woorde oor die Sabbat in Matteus 12 aanhaal, maak hy duidelik wie Jesus is. Jesus sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matt 11:28). Ons vind ware rus, bereik ons werklike doel in die lewe wanneer ons by Jesus tuiskom.

Here Jesus, gee my die rus waarna ek smag, deur die krag van u Gees. Amen

* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2022-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer