Wurm jouself in ’n boek in

Lloyd Zandberg
Sukkel jy ook om te besluit wat om te lees? Sommige boeke is intimiderend en ander net eenvoudig te vervelig om jou mee te voer - en jy weet nooit vooraf wat om te verwag nie. Tel mens net enige boek op, blaai tot by die eerste hoofstuk en trek met ’n stink spoed weg? Of doen jy eers navorsing voor jy ’n besluit neem - wie't nou tyd of lus daarvoor? Dit maak nie saak hóé jy begin lees nie, begin net. Dit sal jou wêreld verander.

Kollig het Namibia Media Holdings (NMH) se personeel in ’n hoek gedruk oor wat hulle lees. En dit is nou maar so: As jy in die media werk, is jy veronderstel om van lees te hou. Hiermee ‘n lekker leeslys vir jou vakansie - veral as jy, soos die meeste van ons, nie weet waar om te begin nie. Geniet die reis!

Kollig wou die volgende weet:

1 - Watter Engelse boek kan jy aanbeveel en hoekom?

2 - Watter Afrikaanse boek kan jy aanbeveel en hoekom?

3 - Hoekom is lees vir jou so lekker?

Karin Eloff (Subredakteur, Republikein)

1 - The Witches van Roald Dahl. Die man het ’n manier om jou bang te skryf - en ek's nie eers ’n kind nie. Sy idees is superoorspronklik en hy praat ook nie neerhalend met kinders nie. Min kinderboeke kry dit reg om kinders nie te onderskat nie.

2 - Koors deur Deon Meyer. Dit was die eerste Deon Meyer wat ek ooit gelees het, en dalk die enigste een wat ek sal lees. Dié een is glo anders as al sy ander boeke - en vir seker een van die boeiendste boeke wat ek al ooit gelees het. ’n Post-apokaliptiese ecanario fassineer my altyd, en hoe fyn en breekbaar die grens tussen mens en monster nou eintlik is. Wanneer jy alles verloor, kom almal se ware kleure uit - ons raak almal maar wilde diere wanneer ons oorlewing bedreig word. Wanneer mens dit besef, oordeel mens minder. Baie humbling.

3 - Wanneer ek lees, is ek vir enkele minute of ure nie bewus van myself en my eie chaos nie. Dis ’n helse verligting.

Ronelle Rademeyer (Nuusredakteur, Republikein)

1 - The House of Spies deur Daniel Silva is ‘n spioenasieriller wat jou die bladsye gulsig laat verslind. Dit handel oor die wêreld se voorste spioene wat in ‘n multinasionale operasie saamspan om die Isis-meesterbrein agter ‘n reeks terreuraanvalle in Westerse lande vas te trek. Silva is ‘n meesterlike verteller wat die spanningsdraad in die boek snaarstyf gespan hou.

2 - Misverstand deur Marita van der Vyver speel in Parys af en handel oor ‘n middeljarige skrywer wat nie sy oor-die-muur gevoel kan afskud nie. Ook hier word die terreurwerklikhede bygetrek en die leser ingesleep by ‘n intieme belewing van die aanval tydens ’n rockkonsert by die Bataclan-teater in Parys verlede jaar toe gewapende aanvallers skielik op die skare losgebrand het.

3 - Ek lees vir twee redes: om te ontglip na ‘n fiktiewe wêreld en om verkwik te word deur skrywers wat oor taal- en kultuurgrense heen universele waarhede en insigte ontsluit. Ek het vanjaar moeite gedoen om die werke van die Turkse skrywers Orhan Pamuk en Elif Shafak te lees. Verlede jaar was dit die Portugese skrywers José Saramago en Fernando Pessoa.



Mariselle Stofberg (Leerlingjoernalis, Republikein)

1 - Red Queen deur Victoria Aveyard. Dit is die eerste boek in haar fantasiereeks. Dit handel oor ’n samelewing wat verdeel is tussen Reds en Silvers. Reds is die laerklas, wat hul naam aan hul rooi bloed te danke het. Die Silvers, met hul silver bloed, is die hoër klas, wat talente het soos onder meer die vermoë om metaal, vuur, water ensovoorts te manipuleer. Die boeke neem jou op hierdie reis saam met karakters wat jou siening oor die lewe heeltemal verander. Dit is eerlik geskryf, en bly jou by lank ná die laaste bladsy klaar gelees is.

2 - Van skoolbank tot bordeelbed deur Elanie Kruger met Jaco Hough-Coetzee. Dit is gebaseer op die ware verhaal van geloof en oorwinning van Elanie Kruger en is ’n spanningsroman wat jou van die eerste bladsy af aangryp. Dit is brutaal eerlik en raak jou tot in jou siel.

3 - Dit neem jou op ’n reis saam met karakters wat soos familie word. Vir ’n rukkie hoef jy nie te dink aan jou studies, dreigende deadlines en min geld nie. Jy besoek plekke wat jy nooit sal sien nie en word deel van verhale wat jou hele perspektief verander. Lees verander die manier waarop ek dink en ook my houding teenoor die lewe.

Estelle de Bruyn (Politieke joernalis, Republikein)

1 - A Husband’s Secrets deur Liane Moriarty.

3 - Lees is 'n ontvlugting in 'n ander wêreld in, waar jy, anders as met flieks, jou eie beelde uit die woorde skep, self dink hoe die karakters lyk, en jou verbeelding kan laat gaan. As 'n mens 'n boek byderhand het, is jy nooit alleen nie, soos op 'n lughawe waar jy ure moet wag.

Yandi du Plessis (Leerlingjoernalis, Republikein)

1 - The Butterfly Garden deur Dot Hutchison. Die boek is, volgens my, ‘n literêre juweel. Natuurlik sal dit nie in almal se smaak val nie. Die storielyn is ingewikkeld, donker, grafies en steurend. Tog is ek heeltemal deur dié riller meegesleur. Die verhaal gaan oor Maya, ‘n jong meisie wat ontvoer is deur The Gardener, ‘n reeksmoordenaar wat meisies ontvoer om hulle “skoenlappers” in sy tuin te maak. Die FBI moet, met Maya se hulp, die vreemde situasie uitpluis.

2 - Judaskus deur Rudie van Rensburg. ‘n Geraamte word op ‘n stortingsterrein ontdek en die lyke begin ophoop. Kaptein Kassie Kasselman moet die leidrade probeer verbind en agter die kap van die byl (of mes) kom, voor dit te laat is. Ek was nie in staat om die boek neer te sit tot kaptein Kasselman die saak uitgepluis het nie. Die storielyn is ingewikkeld en die gebeure is meesterlik verweef.

3 - Ek lees, want anders as met TV, kan ek my eie idee vorm van hoe die karakters en hul omgewings lyk. Ek kan myself só in ’n sekere sin deel maak van die stories. Boeke laat ons as lesers toe om die karakters op ‘n dieper vlak te leer ken.

Monique de Scande (Grafiese ontwerper, Republikein)

1 – The Bone Garden deur Tess Gerritsen. Ek hou in die algemeen baie van Tess se werk. Daar is iets aan haar karakters en manier van skryf wat my aanhoudend boei. En wanneer ek haar werk lees, kan ek dit nie neersit nie. Hierdie spesifieke Gerritsen-boek gaan oor ‘n vrou wat ‘n skedel in haar agtertuin ontdek en dan begin die soektog na die eienaar daarvan.

2 – Swartskaap deur Odette Schoeman. Dit bly een van die beste boeke onder die son. Ek lees dit gewoonlik een keer ‘n jaar.

Yanna Smith (Nuusredakteur, Namibian Sun)

1 - Delores Claiborne deur Stephen King. The author manages to tell a moving story of a woman and her unique set of challenges without any tear jerking. This novel, which has only one single chapter and Delores speaks throughout, and alone, shows the heart and the grit of a woman who does that which needs to be done, without any fluff, tails or self-pity. The book made me laugh and cry at the same time and left me astonished that Stephen King could have such a firm grasp of such a complex, female character. I will remember this book forever.

2 - Z is vir Zackie deur Jaco Jacobs. Dis ‘n reeks kortverhale vir kinders tot so 9/10 jaar. Zackie en sy maatjie Vincent kry te doen met boelies en dogtertjies wat vreeslik graag pop speel en natuurlik, mev. Langenhoven, wat in Zackie se straat (Mostertstraat) woon. Die stories is vreeslik mooi geïllustreer en lees maklik. Die verhaal ontvou vinnig, so die kinders raak nie verveeld nie. Dis baie kreatief en snaaks en jong kinders, veral seuns wat nie graag lees nie, sal hulself met die karakters en hul uitdagings kan vereenselwig.

3 - Ek hou daarvan om myself met boeke te move.

Gerine Hoff (Redakteur, Windhoek Express)

1 - Girl on a Train deur Paula Hawkins. Dit is nou ook ’n fliek en ek meen dit het redelik getrou aan die boek gebly, ten spyte van die feit dat hulle sê: “Don’t judge a book by its movie!” Ten spyte van baie mixed reviews, het die boek my al van bladsy 1 af geboei en ek het dit binne ’n paar dae gelees. Dit is ’n senutergende riller en niemand kan vertrou word nie – veral nie die drie vroulike hoofkarakters wat elkeen issues het nie, om nie eens te praat van die manne nie. Maar ek wil nie te veel weggee nie – lees dit eerder!

2 - Ek is nie veel van ’n Afrikaanse leser nie . . . Die laaste Afrikaanse boek wat ek gelees het, is Lloyd Zandberg se debuut Per Ongeluk! Ek is deel van ’n boekklub (lees: wyndrink en eet-klub) wat een keer ’n maand boeke ruil. So daar is elke maand nuwe boeke om van te kies en keur. As ek nie in ons “biblioteek” regkom nie, is die aanlyn-biblioteek BookBub wonderlik omdat jy gereeld boeke gratis of spotgoedkoop vir jou Kindle kan koop. In die algemeen is ek mal oor chick lit omdat ek nie te hard hoef te konsentreer nie en ek kan maklik vir ure lank binge read wanneer die lus my pak.

Yolanda Nel (Joernalis, Windhoek Express)

1 - Two Brothers deur Ben Elton (2012).‘n Tweeling is in Duitsland gebore in 1920. Net een oorleef en die Joodse ma besluit om ‘n Duitse baba wat in die hospitaal is, aan te neem. Hulle maak steeds die kinders as ‘n tweeling groot. Hoewel dit baie geskiedkundig is, kan ek nie die boek neersit nie. Lees neem my op avonture waar ek nooit anders sou wees nie. Ek reis van Amsterdam tot in Bali deur net ‘n bladsy om te slaan.

2 - Om na ‘n wit plafon te staar deur Jaco Kirsten (2009). ‘n Reguit roman oor ‘n motorjoernalis wat te veel drink en te veel rook en wat sy loopbaan ‘n hupstoot probeer gee. Ná ‘n misverstand kry hy ‘n boek-deal vir ‘n nuwe roman – iets wat hy nog nooit gedoen het nie. Lekker ligte leesstof, snaaks met tye.

3 - Jy leer mense ken deur die karakters wat hulle skep, al het jy hulle nog nooit ontmoet nie.

Sanet Pearson (Proefleser: Republikein, Erongo, Noorderlig, Suiderland, Kollig, Die Boer en ander byvoegsels)

1 - Healing begins with sanctification of the heart deur dr. MK Strydom. Die boek verduidelik die verband tussen jou denkwyse (goed of sleg) en jou liggaam en hoe siektes jou liggaam kan affekteer. Dit is van belang vir ons almal omdat ons nie siektes kan vryspring nie.

2 - 5 tale van die liefde van tieners deur Cary Chapman. Ek het dié boek gekoop om meer te leer oor tieners en om te probeer om my kinders beter te verstaan en ’n beter verhouding met hulle te bou.

3 - Dit laat my ontspan en ek hou daarvan om iets nuuts te leer.

Jacqueline Louw (Hofverslaggewer, Republikein)

1 - Peace Like A River deur Leif Enger. ’n Vriendin het my van hierdie boek vertel en dit is een van die beste wat ek al ooit gelees het. Dit is ’n roman oor die wonder van geloof, familie en klassieke avontuur – ’n ongelooflike storie. Die 11-jarige Reuben Land vertel die verhaal van sy familie se reis deur die Badlands van die Dakota-state in Amerika op soek na sy voortvlugtige broer. Reuben, sy vader – ’n man van diep geloof – en sy jonger sussie, Swede, volg die vlugtende Davy. Die karakters van die twee jong kinders is onweerstaanbaar!

2 - By fakkellig deur Karel Schoeman

By fakkellig is ’n roman oor die werkersklas se opstand teen die aristokrasie wat afspeel in die 17de eeu in Ierland. Schoeman is ’n meester roman- en geskiedskrywer en ek kan eenvoudig nie genoeg van sy boeke lees nie.

3 - Ek was nog altyd ’n boekwurm, maar deesdae, waar ek daagliks in my werk as hofverslaggewer met die donkerste kant van die mensdom te doen kry, het ek die ontvlugting in ’n fantasiewêreld nodiger as ooit.

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!