Wát op aarde het Zenobia besiel?

Ma's wat kinders weens wraak ­vermoor, is raar

24 August 2018 | Mense
Die afgryslike detail van die skattige krulkopdogtertjie met die pragtige donker oë se heel laaste uur op aarde is nie meer 'n geheim nie.

Haar ma, Zenobia Seas (34), dien vandag al een week van 'n vonnis van 25 jaar uit weens die grumoord op haar jongste dogtertjie op 'n afgeleë plek naby Hentiesbaai.

Dié voorval, waartydens Seas vir Ava met komberse versmoor het, laat mense van oraloor stééds na hul asem snak.

Republikein publiseer vandag uittreksels uit inskrywings in Seas se dagboek.

Daarin vaar sy in hoofletters uit teen haar eertydse minnaar, mnr. Dumba Owoseb, Ava se pa.

Dit blyk Seas is oor die afgrond gestuur deur nuus dat Owoseb en sy in daardie stadium nuwe lewensmaat se babaseun per geskeduleerde keisersnit op 'n lente­dag einde September 2016 gebore sou word.

Dáárdie dag, 28 September, is ook Owoseb en Ava se verjaardag.

Seas het met Ava se lykie in haar kar die dagboekinskrywings onder die opskrif “F*K JULLE ALMAL” gemaak en teen Owoseb en sy nuwe minnares uitgevaar.

Sy skryf: “Ek het dit nou spesiaal gemaak én ek het dit hel gemaak! Ava het 'n uur geneem om te sterf. Ek het haar kanferolie gegee en toe het ek haar mond en neus toegehou sodat sy glad nie kon asemhaal nie.”

In uiters gekruide taal gaan Seas voort: “Dis my early b-day geskenk an jou! F*kk*n k*nd wat my kind se dag wil wegneem oor 'n [naam van minnares weerhou] wat rondslaap en jou getoor het (sic).”

Haar ouers en broer en suster is ook nie van dié bitsige aanval gespaar nie. Elkeen van hulle het 'n aandeel in dié ­tragedie, skryf sy.

Aan die pa van haar ouer kind, Ava se ousus, sê sy hy moet nou self daardie ­dogtertjie grootmaak.

Seas, 'n voormalige mynwerker, en haar twee kinders het sedert sy by 'n vorige werk afgelê is, by haar ouers gewoon.

Sy is die middelkind van 'n bekende egpaar van Swakopmund.

Republikein het die afgelope week by verskeie kenners gaan kers opsteek om enersyds te hoor hoe dit gebeur dat die mens wat veronderstel is om haar eie vlees en bloed se belange op die hart te dra, hulle om die lewe kan bring.

Ons het ook andersyds agter die kap van die byl probeer kom oor die ander, ewe belangrike vraag, naamlik hoe herstel 'n mens ná so 'n tragedie. Hoe tel 'n ma, 'n pa, grootouers, familie en vriende en 'n stukkende gemeenskap die skerwe op?

Namibië se reuseuitdaging met die storting en weggooi van babas is al só oorweldigend dat hedendaagse voorvalle van dié tragedie dikwels nie meer koerante se voorblaaie haal of mens enigsins meer skok nie.

Maar ma's wat hul (ouer) kinders vermoor, blyk 'n seldsame verskynsel te wees.

Die Windhoekse kliniese sielkundige dr. Shaun Whittaker sê tydens tydperke van oorlog kan dit gebeur dat 'n ma haar kind “uit liefde” om die lewe bring om hulle uit daardie ellende te bevry.

Hiernaas, sê hy, maak sommige ma's hul kinders “per ongeluk” tydens 'n oomblik van woede dood sonder dat die bedoeling was dat dit só ver moes gaan.

In ander gevalle het mens te doen met 'n moeder wat geestelik versteurd is en haar tot dié misdaad wend.

Maar in die geval “Zenobia Seas” het mens met iets gans anders te doen, sê dié terapeut die afgelope week by navraag. “Volgens die literatuur is die seldsaamste van alle situasies waar 'n ma haar kind uit weerwraak vermoor. Met Ava se geval was dit duidelik dit gaan oor woede en oor wraak.”

Whittaker sê hy het kort ná die voorval 'n video gesien waarin Seas die gebeurtenis op kamera vasgevang het toe Ava reeds ­leweloos was. “Die kind was al stil in daardie stadium. Sy (Seas) was woedend. Dit was absoluut verskriklik om te aanskou.”

Whittaker sê hy glo Seas het gehoop sy en Owoseb sou versoen kon word, maar dat die wending met sy seun se geboorte haar waarskynlik laat besef het daardie deur is nou toe. “Dit (die keisersnit) was die 'trigger'. Sy het geweet hy (Owoseb) was lief vir Ava en dit was haar manier om hom seer te maak.”

Die sielkundige sê korrektiewe owerhede moet daarop bedag wees dat Seas waarskynlik steeds 'n selfdoodrisiko is en fyn dopgehou moet word. Sy het nadat Ava gesterf het, glo probeer om haar eie lewe te neem hoewel regter Christie Liebenberg verlede week in die ­Windhoekse hoërhof gesê het dit het nie gelyk asof sy 'n ernstige poging aangewend het nie.

Whittaker sê as Seas sterf, sal dit nie die tragedie van Ava se dood ongedaan maak nie. “Die owerhede moet op hul hoede wees. Dit help nie om nog 'n tragedie te voeg by die ander een nie.”

Dié geval gee gestalte aan “die uiterste vernietigende element in woede, haat en verbittering”, sê hy.

Haar optrede “druis in teen alle verwagtings wat ons het oor 'n moeder se plek”, sê Whittaker. “Die samelewing stuur ongelukkig té veel die boodskap uit dat geweld dinge kan oplos. Ons moet die boodskap uitstuur dat daar lewe is ná 'n liefdesverhouding wat ten einde loop. Ons het vir Ava gefaal deur nie die ­gevaartekens te sien nie.”

Dr. Veronica Theron, verbonde aan die kantoor van die presidentsvrou, me. Monica Geingos, gee in haar persoonlike hoedanigheid vir Whittaker gelyk.

Sy sê sy wil nie mense verkwalik nie, maar Seas het oor 'n uitgebreide tydperk vóór die tragedie gedrag geopenbaar wat as rooi vlae aandag moes getrek het.

Onder meer was daar 'n geskiedenis van uitdagings met haar geestesgesondheid, sê Theron, 'n ervare maatskaplike werker.

Seas het in die verlede reeds haar eie lewe probeer neem én daar was aanduidings dat sy sukkel om verwerping te verwerk.



onmin met eks

Hoewel sy en Owoseb hulle destyds ­onafhanklik tot die howe gewend het om beskermingsbevele teen mekaar te bekom, moes daar ingegryp gewees het om hulle om 'n tafel te kry om hulle ­geskille opbouend te besleg, sê sy.

Tydens verlede week se bekentenis dat sy haar dogter vermoor en die bewyse probeer vernietig het, het Seas ernstige beweringe gemaak oor wat tydens haar en Owoseb se verhouding ontvou het.

Sy voer aan dié verhouding is gekenmerk deur verneukery, asook fisieke en emosionele geweld.

Volgens haar het Owoseb haar selfs by twee geleenthede in wyle Ava se teenwoordigheid aangerand.

Hoewel sy mandaat van die direk­toraat regshulp beperk was tot die moordsaak, het haar prokureur, mnr. Mpokiseng Dube, dié week gesê: “Ek hét haar (Seas) bewus gemaak van haar regte om klagte in te dien (oor die beweerde aanvalle) as sy sou wou.”

Hy beskou haar nie as 'n selfdood­risiko nie, sê hy. Teen die afgelope Woensdag het Seas nog geen aanduiding gegee dat sy teen die vonnisoplegging wil appelleer nie, sê Dube.

Dit is egter tekenend van haar gemoedstoestand dat Seas die ­hofverrigtinge so gou as moontlik wou afhandel, het ­Whittaker gemaan.

Ds. Wynand Fourie, jeugpredikant, het dié week só op die tragedie gereageer: “Om mens te wees, is om in die moeilik­heid te wees. Om te ly, is 'n karakter­eienskap van die persoonlike. Dis waar ons onsself bevind. Mans en vrouens en kinders ervaar lyding, dit is fisieke of emosionele pyn plus die bewustheid dat my waarde as mens wat geskep is na die beeld van God, bedreig word.

“Om hierdie lyding te erken en in gebed op die naam te noem, is noodsaaklik.

Dit gee waardigheid aan ons lyding. Dit herinner ons dat lyding, sowel as God, eg is. God is by ons in hierdie lyding. In lyding klim ons in die dieptes in; in die hart van hoe dinge regtig is. 'n Gelowige is dan juis iemand wat kies om lyding in die gesig te staar en daardeur te lééf.”

Dube het die afgelope week bevestig Seas is 'n Christen.



'Totale doodsheid'

Fourie sê verder: “Wanneer 'n ­driejarige kind deur haar eie moeder vermoor word, is daar baie lyding betrokke vir baie mense. Hoe gemaak? Wat veroorsaak dat 'n ma haar eie kind vermoor soos in die geval van Zenobia Seas? Wat is die impak hiervan op haar naasbestaandes, op haarself, op die samelewing? Wat gemaak met die pad vorentoe? Het die same­lewing hierdie vrou gefaal? Belangrike vrae. Antwoorde sou kon insluit: Zenobia se eie wonde en trauma bring haar op 'n plek van totale doodsheid, en haar beste reaksie hierop is, wel, om dood te maak. Haar aksies is vernietigend – nie net vir haar dogtertjie, Ava, nie – maar inderdaad ook vir haarself en 'n hele ­gemeenskap.”

Fourie sê voorts kinders is weerloos en aangewese op die sorg van volwassenes. “Kinders is kwesbaar en afhanklik. As die beskerming, versorging en opvoeding van kinders nie daagliks deel uitmaak van 'n gemeenskap se grootste verantwoordelikhede nie, dan is daar groot fout. Dit is mos nou eenmaal so dat nie alle tragedies afgeweer kan word in hierdie lewe nie, maar, myns insiens, is dit 'n saak van lewe en dood dat 'n gemeen­skap daagliks daarna moet streef om ­holisties gesond te leef – in liggaam, siel, verstand en gees – sodat ons kinders 'n veilige en gesonde omgewing het waarbinne hulle kan floreer. Indien ons dit nie nastreef nie, dan faal ons mekaar.”

Prof. Nico Horn, regsdosent verbonde aan die Universiteit van Namibië (Unam), reken die hof kon meer waarde geheg het aan die trauma wat Seas aanvoer sy ervaar het. Maar, sê hy, die vonnis is tog geregverdig. “Die beskuldigde is deur 'n psigiater ondersoek en geskik bevind om verhoor te word. Met ander woorde, sy is nie geestelik versteurd nie en was bewus van wat sy gedoen het. In die regte sê ons sy was toerekeningsvatbaar. Die hof kon meer waarde geheg het aan haar trauma en die effek op haar oordeelsvermoë. Maar die mediese en psigiatriese ­getuienis was sterk genoeg vir die hof om dit nie in ag te neem nie. Gesien uit dié hoek is 25 jaar geregverdig.”

Ava se pa, Dumba, het die afgelope week gevra dat sy en sy gesin se privaatheid ­gerespekteer word.

“Ek wil graag beklemtoon dat ek geen kommentaar het op dié artikel of een wat in die toekoms deur julle of ander publikasies gedoen sal word nie. Ek verstaan en respekteer jou standpunt en plig om die ­Namibiese nasie in te lig en op te voed. En dit is teen daardie agtergrond wat ek vra dat my en my gesin se privaatheid gerespekteer word, omdat ons nog rou oor die verlies van my dogter. Ek het geen verdere kommentaar nie, dankie.”



Ander voorvalle

Die Engelse dagblad The Namibian het in Oktober verlede jaar berig oor 'n 31-jarige vrou wat haar seun (10) se keel en geslagsorgane met 'n onbekende voorwerp afgesny het.

Dié voorval het glo naby Ondangwa plaasgevind.

Tydens Oktober 2014 het dieselfde koerant berig oor 'n onderwyseres van Ongwediva wat na bewering haar 26-jarige gestremde dogter met 'n panga doodgekap en toe die lyk verbrand het.

Hoofinsp. Kauna Shikwambi, 'n polisiewoordvoerder, sê min sulke gevalle van kindermoord is in Namibië bekend.

In die week wat Ava dood is, het die minister van armoedeverligting en maatskaplike welsyn, biskop Zephania Kameeta, gevra dat 'n nasionale konferensie belê word wat lig werp op geestesgesondheid, omdat hy reken dit is waar ons die pad byster geraak het.

Volgens 'n artikel op Psychiatry TM, 'n gesaghebbende aanlyn bron vir psigiaters, is vroue wat hul kinders vermoor, gemiddeld 29 jaar oud, hul slagoffers nagenoeg 3,2 jaar oud en geestes­ongesteldhede en selfdood is algemeen.

Dié vrou vermoor luidens die artikel hul kinders deur hulle te verdrink, hulle te versmoor of hulle te verwurg.

Sulke ma's voel dikwels afgesonder, kan werkloos wees en daar is 'n geskiede­nis van mishandeling.













'n Maatskaplike werker, wat vanweë professionele redes anonimiteit verlang het, sê: “In so 'n situasie moet 'n maatskaplike werker objektiewe en nie-veroordelende berading met empatie aan die oortreder bied, sowel as die familie wat hierdeur geraak is, om sodoende aan vergifnis te werk onder meer en ook om die oortreder deur die rouproses te help.



Wat veroorsaak dit?

• Geen of min ondersteuning van familie, vriende en of lewensmaat

• Jaloesie

• Vernedering in of na die verhouding

• Druk van familie en vriende aangaande die verhouding of omstandighede daaromtrent

• Manipulasie

• Mishandeling (fisiek, emosioneel)

• Trots wat verhoed dat mense hulp soek.



Wat is die impak daarvan op die ­oortreder en haar naasbestaandes én die samelewing?

• Oortreder: Skuldgevoelens, uitsluiting van familie en vriende, stigma

• Naasbestaandes: ­Skuldgevoelens (wat hulle kon doen om dit te verhoed, aan wie se kant hulle moet wees, twyfel of hulle té min gedoen het vir die oortreder as familie), ondergaan 'n drastiese transformasie om te lewe sonder om die persoon te sien van dag tot dag, vermisting (rou), isolasie, stigma

• Samelewing: Sneeubaleffek (ander kan dieselfde uitweg gebruik as hulle hulself in so 'n situasie bevind).



Wat is die weg vorentoe? Hoe lyk die genesingspad vir so iemand?

Om te begin deur vergifnis vir haarself te kweek sodat sy die pad van genesing kan aanpak. Dit sal 'n moeilike pad wees, maar met die ondersteuning van haar familie en vriende sal sy dit kan doen. Hoe moeilik ook al, moet hierdie genesingspad met 'n positiewe gesindheid aangepak word.



Reken u die samelewing het vir Zenobia gefaal?

Die samelewing het haar nie gefaal nie omdat die nodige maatskaplike dienste beskikbaar is indien sy dit sou benodig. Dit is ongelukkig dat navorsing oor hierdie dienste soms té laat of nooit gedoen word nie.

Ma's in situasies soos hare moet nie op hul eie en in stilte worstel nie, want hulp is beskikbaar. Sake soos hierdie het baie diep ­gewortelde oorsake, en veroordeling en kruisigings is ook nie altyd die beste opsie.”

Soortgelyk

 

Namibia resistant to Eskom power woes

1 uur gelede | Energie

NDAMA NAKASHOLE NamPower has assured Namibians that load-shedding in South Africa will not affect Namibia.NamPower issued a statement two days after South Africa’s cash-strapped power...

Staatshospitale mank aan voorraad

1 uur gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Betalings vir verskaffers van skroewe, penne en prosteses vir ortopediese operasies by die twee staatshospitale in Windhoek word “by tye” vertraag wat...

Ekspo gee volhoubare toerisme woema

1 uur gelede | Gebeure

Volgende jaar vind die Namibië Toerisme Ekspo (NTE) vir die 21ste keer plaas, en sal op herwinning fokus.Dit sal van 5 tot 8 Junie by...

Rundu: Verdrink in vullis of ly dors

1 uur gelede | Regering

Catherine Sasman - Rundu se strate en sypaadjies het in onooglike, stinkende vullishope ontaard omdat die dorpsraad noodsaaklike dienste afskeep.Dít om sy skuld van N$60...

Ondersoek staatskaping, eis amptelike opposisie

1 uur gelede | Politiek

Ronelle Rademeyer - Die sluier van geheimhouding oor Namib Desert Diamonds (Namdia) en berigte dat mnr. Tom Alweendo, minister van myne en energie, nie geweet...

Weer vir 15 November 2018

1 uur gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en bloedig warm in die verre Noordooste en die ||Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees. Enkele ligte...

Huurbeheerrade aangestel

1 uur gelede | Ministeries

Catherine Sasman - Ná vele haakplekke en vertragings het die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling vyf huurbeheerrade in vyf streke aangestel wat sedert Maandag...

Outjo se panga-moordenaar kry lewenslank

1 uur gelede | Howe

Ronelle Rademeyer - Die man van Outjo, wat erken het hy het sy meisie in 2015 vermoor deur haar verskeie kere met ’n panga op...

N$1,8 miljard nodig vir Etosha-heining

1 uur gelede | Ministeries

Ellanie Smit - Die heining om die Etosha Nasionale Park sal sowat N$1,8 miljard kos om te voltooi. Dít volgens 'n verslag van die...