Wêreldbank: Geen tyd vir ideologiese debat in SA

‘SA glad nie voorbereid’

06 December 2018 | Ekonomie
William Horne – Suid-Afrikaners sal militant moet raak oor openbare gesondheidsorg en onderrig sodat die land by die res van die wêreld ten opsigte van mensekapitaal kan opvang.

Dit is die mening van Jim Yong Kim, president van die Wêreldbank, wat Maandag ’n toespraak by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg gelewer het.

Kim sê navorsing deur die Wêreldbank dui daarop dat 70% van ontwikkelde lande se rykdom kom van mensekapitaal soos vergestalt deur openbare gesondheid, opvoeding en infrastruktuur.

Lae-inkomste-lande wat tot dusver tot ’n hoër vlak ontwikkel het, is dié lande wat die ontwikkeling van mensekapitaal prioritiseer.

Volgens hom meen die meeste ontwikkelende lande ongelukkig dat hul toekoms van natuurlike hulpbronne en die vervaardigingsektor afhang. Dit is hierdie wanpersepsie wat sal lei tot katastrofiese werkloosheid en armoede in die nabye toekoms wanneer outomatisering en kunsmatige intelligensie die wêreldekonomie herskep.

Die enigste manier om voor te berei is om te belê in die bevolking, grootskaalse infrastruktuur te bou vir ’n digitale ekonomie wat inklusief kan funksioneer, en om te verseker dat die land mededingend kan wees in die internasionale vrye mark en dus beleggings kan lok.

“Suid-Afrika is glad nie voorbereid om in die ekonomie van die toekoms mededingend te wees nie. Julle moet eintlik op die oorlogspad wees om die nodige veranderinge betyds te bewerkstellig,” het hy gesê.

Luidens die Wêreldbank se navorsing ly 27% van Suid-Afrikaanse kinders aan die permanente gevolge van vertraagde ontwikkeling as babas.

Dit kan lei tot ’n agterstand in breinontwikkeling en minder neurale bane wat die kinders se vooruitsigte vir opvoeding erg belemmer.

Daar is geen manier waarop Suid-Afrika getransformeer kan word sonder direkte buitelandse investering nie. Om hierdie beleggings te lok, moet Suid-Afrika sy instellings verbeter sodat beleggers vertroue het om hier te belê.

Jim Yong Kim, president van die Wêreldbank

Dit is dié kinders wat weens die afwesigheid van voldoende mediese sorg en besteding in hul vroeë jare nooit mededingend in die digitale ekonomie sal kan wees nie, sê Kim. “En nie weens hul eie toedoen nie, gaan hulle in die toekoms die bron van politieke onstabiliteit wees wanneer hulle deur middel van tegnologie elke dag die wêreld waaraan hulle nooit sal kan deelneem nie sal sien, hoor en voel.”

Om openbare gesondheid en opvoeding reg te ruk is verantwoordelike en aanspreeklike leierskap, asook direkte buitelandse investering (DBI) nodig.

“Daar is geen manier waarop Suid-Afrika getransformeer kan word sonder DBI nie. Om hierdie beleggings te lok, moet Suid-Afrika sy instellings verbeter sodat beleggers vertroue het om hier te belê,” sê Kim.

Al is daar ideologiese verskille tussen Suid-Afrikaners oor die toepaslikheid van vryemark- en liberale beginsels wat die land se instellings aanloklik vir die buiteland sou maak, sê Kim, is die tyd vir debat verby.

“Almal is geregtig op hul mening en hul ideologie. Maar die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel is so swak dat julle nie meer die voorreg het om oor ideologie te debatteer nie.

“Selfs die kommunistiese lande soos China en Viëtnam voer nie meer die ideologiese debatte wat julle hier voer nie.

“Hulle weet aan die ekonomiese front is bewyse al wat saak maak, en dat dit deurslaggewend vir ’n land is om vir sy eie volhoubaarheid aan die internasionale vrye mark deel te neem.” – Netwerk24

Soortgelyk

 

Eis van miljoene ná miskraam

7 minute gelede | Howe

Ronelle Rademeyer - ‘n Vrou wat aanvoer sy het ‘n miskraam gehad nadat sy drie dae lank sonder kos en water in die polisieselle by...

Kuns tussen die wingerde

7 minute gelede | Byvoegsels

Ronelle Rademeyer - “Ek glo ’n goeie skildery ontstaan wanneer ’n bietjie talent en ’n groot klomp passie op die skilderdoek ontmoet.”Dit is hoe die...

Twee Namibiërs in SA hof oor diamante

7 minute gelede | Howe

Francoise Steynberg - Twee Namibiese mans het gister in die Bellville-landdroshof in Kaapstad in verband met die onwettige besit van 27 ongeslypte diamante verskyn. Mnr....

Namibiër vertolk hoofrol in Fiela se kind

7 minute gelede | In beeld

Die Namibiese aktrise Zenobia Kloppers het die hoofrol in die fliek Fiela se kind losgeslaan. Zenobia, wat Fiela Komoetie sal speel, is ’n bekende aktrise...

Live for the moments, not the milestones

7 minute gelede | Mense

Mariselle StofbergCarla van Zyl is the top medical student from the class of 2018 at the University of Namibia (Unam). This motivated, driven and passionate...

Musieklegende se stem stil

7 minute gelede | Kuns en vermaak

Lloyd Zandberg - Die geliefde Suid-Afrikaanse musikant, Brian Finch (72), het Sondag sy maande lange stryd teen kanker verloor.Finch en sy vrou, Marion, woon al...

Padgebruik al duurder

7 minute gelede | Infrastruktuur

Die Padfondsadministrasie (RFA) het ’n 4,3%-verhoging op padgebruik aangekondig, wat van 1 Mei af geld. Dit beteken tariewe by grensposte verhoog, asook tariewe op voertuie...

Weer vir 21 Mei 2019

7 minute gelede | Weer

BINNELAND: Mestal mooi weer en baie warm in die Noordooste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm, maar koud in die...

Kragverspreider gedagvaar

7 minute gelede | Howe

Henriette Lamprecht – ’n Ma van Mondesa op Swakopmund dagvaar die Erongostreek se kragverspreider ná die dood van haar minderjarige dogter. Theonese Anthea Simon is...