Woede oor groen lig vir leeuplase

88 plase sonder geldige permitte

15 March 2019 | Afrika
Elise Tempelhoff - Bewaringsorganisasies is woedend en teleurgesteld dat die departement van omgewingsake geen “politieke wil” het om die geblikteleeubedryf te sluit nie.

Dit was die algemene reaksie gister van belanghebbendes nadat die departement die vorige dag ’n voorlegging oor die omstrede bedryf aan die portefeuljekomitee oor omgewingsake gedoen het.

Volgens die voorlegging het staatsamptenare die laaste paar maande 227 leeuplase besoek. 88 van die plase het sonder geldige permitte handel gedryf. Die departement het egter hul permitte summier hernu.

Dr. Louise de Waal van Green Girls in Africa, ’n konsultant vir die toerismebedryf, het die departement se optrede as “skokkend” bestempel.

“Die permitte is hernu sonder dat enige een van die eienaars van die leeuplase beboet is.”

Volgens die departementele span is die meeste plase, 111, in die Vrystaat. 62 van hulle het sonder permitte met leeus geboer en vermoedelik met hul skelette handel gedryf.

In Noordwes, waar die naasmeeste leeuplase is, het amptenare 74 leeuplase besoek en 20 het nie permitte gehad nie. In Limpopo het hulle 31 leeuplase besoek waar ses nie permitte gehad het nie.

TEENSTRYDIG MET VERSLAG

Volgens die departement word leeuplase nie in die Wes-Kaap toegelaat nie.

Stefania Falcon van Future for Africa Wildlife, wat die debat in die parlement bygewoon het, het gesê die komiteelede “was soos lammers in die hande van die amptenare van die departement”.

“Pleks daarvan dat die portefeuljekomitee die departement dwing om die bedryf te sluit, het hulle saamgestem beter regulering daarvan moet eerder plaasvind.”

Dit is teenstrydig met die verslag wat die portefeuljekomitee in Augustus verlede jaar gepubliseer het en waarin sterk standpunt ingeneem word teen die bedryf.

Falcon het gesê sy is “uiters teleurgesteld” in die portefeuljekomitee se “skielike ommeswaai”.

Audrey Delsink, Afrika-direkteur van die Humane Society International, het gesê sy is “stomgeslaan” deur die departement van omgewingsake se voorlegging.

Volgens haar kruip die departement van omgewingsake boonop agter die departement van landbou, bosbou en visserye weg wat die welsyn van die duisende geblikte leeus in Suid-Afrika betref. “Dit gaan ’n mens se verstand te bowe dat ondanks navorsing wat wys die geblikteleeubedryf kan Suid-Afrika R54 miljard aan toerisme-inkomste kos, die portefeuljekomitee skielik daarmee tevrede is dat die bedryf eerder gereguleer word.”

TELEURGESTELD

Ross Harvey, van die SA Instituut vir Internasionale Betrekkinge, het gesê hy vind dit teleurstellend dat die departement van omgewingsake die aanbevelings in die verslag van die portefeuljekomitee geïgnoreer het.

“Hoe kan die departement die handel in leeubeendere probeer reguleer? Die leeutelers het ook al bewys hoeveel minagting hulle vir regulering het.”

Die departement het erken 1 600 leeuskelette is verlede jaar en die vorige jaar uitgevoer. ’n Kwota sal glo binnekort vir vanjaar vasgestel word.

Bewaringsorganisasies is ook ontstoke oor die aantal fasiliteite waar mense met leeuwelpies en ander groot katte kan speel.

Volgens die departement is daar agt sulke “pretparke” in Gauteng. By een word jagluiperds verhuur vir huwelikseremonies. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Eis van miljoene ná miskraam

21st of May 00:00 | Howe

Ronelle Rademeyer - ‘n Vrou wat aanvoer sy het ‘n miskraam gehad nadat sy drie dae lank sonder kos en water in die polisieselle by...

Kuns tussen die wingerde

21st of May 00:00 | Byvoegsels

Ronelle Rademeyer - “Ek glo ’n goeie skildery ontstaan wanneer ’n bietjie talent en ’n groot klomp passie op die skilderdoek ontmoet.”Dit is hoe die...

Twee Namibiërs in SA hof oor diamante

21st of May 00:00 | Howe

Francoise Steynberg - Twee Namibiese mans het gister in die Bellville-landdroshof in Kaapstad in verband met die onwettige besit van 27 ongeslypte diamante verskyn. Mnr....

Namibiër vertolk hoofrol in Fiela se kind

21st of May 00:00 | In beeld

Die Namibiese aktrise Zenobia Kloppers het die hoofrol in die fliek Fiela se kind losgeslaan. Zenobia, wat Fiela Komoetie sal speel, is ’n bekende aktrise...

Live for the moments, not the milestones

21st of May 00:00 | Mense

Mariselle StofbergCarla van Zyl is the top medical student from the class of 2018 at the University of Namibia (Unam). This motivated, driven and passionate...

Musieklegende se stem stil

21st of May 00:00 | Kuns en vermaak

Lloyd Zandberg - Die geliefde Suid-Afrikaanse musikant, Brian Finch (72), het Sondag sy maande lange stryd teen kanker verloor.Finch en sy vrou, Marion, woon al...

Padgebruik al duurder

21st of May 00:00 | Infrastruktuur

Die Padfondsadministrasie (RFA) het ’n 4,3%-verhoging op padgebruik aangekondig, wat van 1 Mei af geld. Dit beteken tariewe by grensposte verhoog, asook tariewe op voertuie...

Weer vir 21 Mei 2019

21st of May 00:00 | Weer

BINNELAND: Mestal mooi weer en baie warm in die Noordooste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm, maar koud in die...

Kragverspreider gedagvaar

21st of May 00:00 | Howe

Henriette Lamprecht – ’n Ma van Mondesa op Swakopmund dagvaar die Erongostreek se kragverspreider ná die dood van haar minderjarige dogter. Theonese Anthea Simon is...