Woede ná jong man se skietdood

Die polisie doen tans ’n interne ondersoek oor ’n beweerde skietvoorval wat verskeie polisiebeamptes betrek.
Augetto Graig
Augetto Graig - Sondag (1 Des) omstreeks 22:00 het ’n polisiebeampte in Windhoek se Damara-nedersetting ’n jong man glo in die bors geskiet.

Mnr. Johnny Doëseb (18) het later glo as gevolg hiervan gesterf.

Hoofinsp. Kauna Shikwambi, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Die drie polisiebeamptes wat na bewering by die voorval betrokke was, is nie geskors nie.

Die betrokke gemeenskap is ontstoke hieroor en het Dinsdag (4 Des) in Josef Gariseb- en Ulrich Zwinglistraat daaroor betoog en ’n klagskrif opgestel.

Die gemeenskapsaktivis mnr. Mervin Claasen sê die Doëseb-familie betwis inligting wat die polisie oor die voorval uitgereik het.

“Die polisie het valse inligting verskaf. Die nuus is verkeerd. Die geheime polisiebeamptes het dronk hier aangekom. Hulle het die jong man geslaan, blykbaar oor hy ’n week gelede ’n kar met ’n klip gegooi het.

“Sonder om hulself voor te stel, het hulle hom gegryp en begin slaan. Sy suster en sy antie het probeer keer, maar die antie is in die mond geslaan en hulle het die suster onder die ken geskop. Hulle het mekaar getrek en iemand het ’n bottel gegooi, wat die polisieman getref het. Johnny en die een man was saam geboei, maar toe skiet hy hom in die bors en stoot die mannetjie weer grond toe,” sê Claasen.

In die klagskrif eis die gemeenskap die beampte wat Doëseb na bewering geskiet het, moet in hegtenis geneem en aangekla word, ’n ondersoek na die voorval moet van stapel gestuur word, en die polisie se optrede teenoor die gemeenskap moet aangespreek word.

Doëseb se suster, me. Yeonice Doeses, het Claasen se weergawe van die gebeure bevestig en is van plan om ’n klag teen die beampte wat haar glo geskop het, aanhangig te maak.

“My broer het gehuil, en toe ek vra hoekom hulle hom slaan, sê die polisieman vir my: ‘Hou jou bek, ek sal jou skiet.’” sê sy.

Shikwambi sê egter: “Die onlangse ongelukkige voorval waarin ’n jong man sy lewe verloor het, kon vermy gewees het as die nou oorlede verdagte met die polisie saamgewerk het. Die verdagte in hierdie spesifieke voorval was ’n gesoekte persoon en die polisie het wettige redes gehad om hom in hegtenis te neem.”

Volgens die polisiewoordvoerder was Doëseb ’n verdagte in verskeie sake, wat gewapende roof, die besit van gesteelde eiendom, huisbraak, aanranding, poging tot roof en poging tot moord insluit.

Hoofkomm. Joseph Shikongo, polisiehoof in die Khomasstreek, het gister (4 Des) ’n mediakonferensie oor die voorval byeengeroep en gesê Doëseb was uit op borgtog toe hy die wet weer oortree het.

Hy sê die skietvoorval word deur die Namibiese polisie se interne ondersoekeenheid ondersoek, en waarsku die publiek dat ontevredenheid in ooreenstemming met reëls en regulasies uitgespreek moet word.

“Mense het gedreig om polisiebeamptes te brand en polisie-eiendom te beskadig. Dit is onaanvaarbaar,” sê hy.

“Ons sal nie toelaat dat mense oproerig raak nie. Ons kan nie ons werksaamhede stop of gemeenskappe toelaat om chaos te veroorsaak nie. Ons sal ons beamptes beskerm,” sê hy.

Hy het gewaarsku geen gebied sal ’n no go-area vir polisiebeamptes raak nie.

Shikongo het versoek getuies of lede van die publiek met inligting oor die voorval moet die polisie kontak.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!