Windhoekers ontwikkel ‘slim’ watermeter

Drie plaaslike ingenieurs het ‘n produk ontwikkel wat op meters aangebring kan word en waterrekeninge drasties kan laat krimp.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Al ooit gehoor van ‘n watermeter wat jou SMS as jou huis of besigheid ‘n lekkasie iewers het, en jou boonop in staat stel om die stopkraan met die druk van ’n knoppie toe te maak?

Drie Windhoekse ingenieurs het ‘n unieke slimmeter ontwikkel wat watergebruik monitor, ‘n databasis daarvan tot drie jaar lank bywerk en jou waterlesing boonop maandeliks aan die munisipaliteit stuur.

Mnr. Cobus Blaauw, ‘n meganiese ingenieur in Windhoek, sê hy en ‘n venoot het ‘n onderneming bedryf wat waterlekkasies opspoor toe hy dié blink plan kry.

“Ek het besef daar’s ‘n groot behoefte aan die vroegtydige opsporing van waterlekkasies. Die meeste mense kom eers agter hulle het ‘n lekkasie wanneer hulle groot waterrekeninge kry. Dikwels is die rekeninge meer as N$100 000,” sê Blaauw.

Hy het aan die werk gespring en ‘n “slim watermeter” oorsee gesoek, maar kon nie een kry wat aan al die nodige vereistes voldoen nie.

“Mens kry wel stelsels wat een maal ‘n dag oor waterverbruik kommunikeer, maar baie kan nie ook ingespan word om ‘n gebou se watertoevoer af te sluit nie. Baie van die beskikbare stelsels kan ook nie deur middel van jou selfoon beheer of gemonitor word nie,” sê Blaauw.

Hy het Smart Group Technologies se elektriese ingenieurs genader om saam ‘n slim watermeter te ontwikkel.

Die uiteinde was ‘n eg Namibiese produk wat plaaslik gemaak word, sê hy.

Só WERK DIT

“Die meter word op jou munisipale meter aangebring en ‘n beheerklep, wat soos ‘n stopkaan werk, word ook aangebring. ‘n Kommunikasiestelsel, wat deur die selfoonnetwerk met die kliënt asook ‘n rekenaarbediener kommunikeer, is ook deel van die slimmeter,” sê Blaauw.

“Sodra die rekenaarbediener kommunikasie van die slimmeter af ontvang, bepaal hy volgens ‘n algoritme wat ons geskryf het of daar ‘n waterlekkasie is of nie. Indien daar ‘n probleem is, verwittig dit jou deur middel van ‘n SMS,” sê hy.

“Jy kan ook op jou selfoon na volledige verslae oor jou watergebruik kyk, op ’n maandelikse, weeklikse of daaglikse basis, en jou gebruik oor verskillende tydperke vergelyk,” sê hy.

Van hul kliënte het op dié manier byvoorbeeld ontdek wanneer ’n toilet se watertoevoer nie afsluit nie of water tuis oormatig verbruik word, sê hy.

“Jy kan kies wanneer die stelsel vir jou ‘n waarskuwing oor jou waterverbruik moet stuur, en met die druk van ’n knoppie kan jy die klep op jou watermeter laat sluit. Jy kan ook bepaal dat die waterklep moet sluit sodra ‘n sekere hoeveelheid water gebruik is.

“Indien daar ‘n waterlekkasie is, laat weet die stelsel jou ook hoeveel liter per uur verlore gaan. Jy kan besluit of jy die klep dadelik wil sluit of dit eers oophou,” sê hy.

Blaauw sê die meter het ook ‘n voorafbetaal-opsie.

“Die stelsel is geoutomatiseer en baie aanpasbaar. Dit kan gestel word om by verskillende verbruikers se behoeftes aan te pas.”

Hy sê die meters kan ook gebruik word om vas te stel hoeveel waterverliese ‘n dorp of woonbuurt ervaar.

“Ons hou ons kostes baie laag en ons maak seker alle onderdele van die stelsel is plaaslik beskikbaar,” sê hy.

Blaauw sê verskeie van hul kliënte het deur die slimmeter al groot bedrae geld gespaar.

“Die munisipaliteit het al goedgekeur dat die toestel op meters aangebring kan word, en al ons meters is SABS-goedgekeur,” sê hy.

PLAASLIKE WERKSGELEENTHEDE

Blaauw sê die plan is om plaaslike werksgeleenthede te skep.

“Ons wil mense in diens neem en elektroniese opleiding gee om die meters te bou, te toets, aanmekaar te sit en te aktiveer.”

Hy sê hulle het reeds verteenwoordigers op Gobabis, Okahandja, Otjiwarongo en aan die kus.

Tans kos die volle slimmeter N$1 495, insluitende BTW en installering.

‘n Maandlikse fooi van N$50 is betaalbaar vir die meter se gebruik van die selfoonnetwerk.

Daar is ook ‘n goedkoper opsie wat behels dat die monitorstelsel sonder die beheerklep aangebring word.

Dan kos dit N$995, asook die bykomende N$50 per maand.

Vir meer inligting, besoek www.smartgrouptechnologies.com of kontak Blaauw by 081 478 1765 of [email protected].

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion English Championship: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!