Windhoek sloop ‘onbewustelik’

Sinkhuise in nedersetting vernietig

23 July 2021 | Infrastruktuur
Augetto Graig – Die Windhoek munisipaliteit se sloping van sinkhuise in die Tobias Hainyeko kiesafdeling Dinsdag was volgens burgemeester dr. Job Amupanda sonder die kennis of goedkeuring van hom óf die stadsraad uitgevoer.

“Hierdie aaklige toneel is ’n kollektiewe mislukking,” het hy in ’n regstreeks uitgesaaide toespraak oor die voorval gesê. “Dit was sonder my kennis as burgemeester; ook die voorsitter van die bestuurskomitee en die adjunkburgemeester was onbewus. Die optrede was nie deur die politieke leierskap goedgekeur nie,” het hy gesê.

Verwydering van onwettige strukture is op 21 Julie deur munisipale kontrakteurs onder toesig van Namibiese polisie en stadspolisiebeamptes uitgevoer.

Besonderhede van hoeveel families deur die uitsetting dakloos of sonder heenkome gelaat is, word vervat in ’n verslag van die stadspolisie aan die stadsraad, wat egter weens gebreke teruggestuur is. Talle individue het ’n vriesende koue Woensdagnag sonder skuiling deurgebring.

Die adjunkhoof van die stadspolisie, Leevi Ileka, het by die geleentheid bevestig die stadspolisie het reeds ’n maand gelede eienaars van die sinkhuise begin inlig dat hulle onwettig op die grond was. Hy kon nie bevestig dat die betrokke grond verkoop is of dat die ontwikkelaar wil begin bou nie.

“Ek weet nie wie die eienaar van die grond is nie. Dit is ook nie waar dat tot ’n honderd huise gesloop is nie, maar die besonderhede sal in die verslag wees,” het hy gesê.

Amupanda sê: “Hoewel ek nie daarvan bewus was nie, neem ek verantwoordelikheid vir die pyn en lyding veroorsaak aan die inwoners, in die naam van die raad. Namens die stadsraad vra ek om verskoning vir die roekelose en onverantwoordelike gebeure van gister.”

Vrae oor wat nou met die betrokke inwoners sal gebeur, bly onbeantwoord.

Die burgemeester het eerder klem gelê op binnegevegte in die stadsraad, weerhouding van samewerking vanaf die munisipaliteit, en die gevare van persoonlikheidspolitiek en beroemde politici wat teen ingrypings keer.

Amupanda maan die munisipaliteit se oponthoud met die afhandeling van die lys aansoekers vir behuising, en die gebrek aan steun om beheerde toegang tot nedersettings in te stel, het “die situasie geskep om die geldigheid van die stad te ondermyn”.

NASIONALE GESPREK
Die burgemeester het ’n spesiale raadsvergadering vir 5 Augustus aangekondig, wat regstreeks oor die radio uitgesaai sal word, spesifiek oor Windhoek se behuisingskrisis.

Grondgrypery vind al jare in die hoofstad plaas, met ’n groeiende bevolking sonder opsies. Daar sal op ’n nasionale gesprek oor grond voorberei word, terwyl Amupanda se politieke koalisie hul planne vir hervorming probeer deurdruk.

Amupanda beoog ’n munisipaliteit wat sy eie sekuriteitsdienste verskaf, sy eie grond diens, sy eie huise bou. Raadslede wat in die pad van sy visie staan, moet weet hulle sal volgens die gedragskode aanspreeklik gehou word. “Ons sal nie hierdie raad met ’n vuurwapen teen die kop bestuur nie,” het hy gesê.

Die adjunkburgemeester, me. Clemencia Hanases, sê sy is teleurgestel in die munisipaliteit, terwyl mnr. Fillemon Hambuda, voorsitter van die bestuurskomitee, sê die stad se behuisingsprobleme kom lank aan, nadat die stad jare gelede amptelik die situasie as ’n plaaslike ramp laat verklaar het.

“As ons toe reeds opgetree het, sou ons nie nou hier gesit het nie. Ek sou verwag raadslede lig gemeenskappe in van die verskaffing (van huise) wat ons wel doen en die ordelike metode vir grondverskaffing,” het hy gesê.

[email protected]

FOTO
Die burgemeester van Windhoek, dr. Job Amupanda, sê die omstrede sloping van sinkhuise vandeesweek was sonder sy kennis gedoen. Foto argief

Soortgelyk

 

Mariental-hospitaal kry suurstofaanleg

15 minute gelede | Gesondheid

Die Mariental-hospitaal het 'n skenking van N$7 miljoen van Namib Desert Diamonds (Namdia) ontvang. Die omgewingsvriendelike suurstofaanleg met 'n kapasiteit van 500 liter wat aan...

Kleuter sterf ná pot kookwater op hom val

39 minute gelede | Misdaad

'n Driejarige seuntjie van Mondesa, Swakopmund, is Sondag dood, nadat sy boetie (5) 'n pot kookwater op hom afgetrek het. Volgens die polisie in die...

Bordjies verhang in Duitse verkiesing

6 ure gelede | Internasionaal

Die Sosiaal-demokratiese Party (SPD) het volgens voorlopige uitslae gister se algemene verkiesing in Duitsland met 25,7% van die stemme gewen.Dit beteken egter nie mnr. Olaf...

Klein, maar getrain

13 ure gelede | Landbou

William Klazen junior (5) van Windhoek is gister aangewys as die beste kindertouleier by die Windhoek Skou in die afdeling vir nul tot ses jaar....

Tragedie tref ná rugbywedstryd

13 ure gelede | Plaaslik

Andrew Poolman – Die tragiese heengaan van Edwardo Nell kort ná ’n rugbywedstryd Saterdag is vir FNB Wanderers-klub en die rugbygemeenskap ’n diepe skok.“Ons is...

Nida probeer kraaines oor geldsake ontrafel

13 ure gelede | Ministeries

Jo-Maré Duddy – Die agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) is besig om ‘n regsmening in te win oor sy wetlike verpligting om die mediesefondsbydraes...

Rowers buit byna ’n miljoen in Walvisbaai

13 ure gelede | Misdaad

Dani Booysen en Erongo-redaksie – Die Namibiese polisie het bevestig gewapende rowers het Saterdagoggend by Pupkewitz MegaBuild in Walvisbaai N$943 616,84 gesteel.Vyf mans – twee...

Naweekpret by ‘motorhuismark’

13 ure gelede | Gebeure

Windhoek Express (WE) se eerste Garage Market het Saterdag plaasgevind. Markgangers kon verskeie stalletjies met handgemaakte items en produkte deur plaaslike entrepreneurs besoek, musiek luister...

Weer vir 27 September 2021

13 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die //Kharas-, Kunene- en Khomasstreke. Elders gedeeltelik bewolk en baie warm.KUS: Gedeeltelik bewolk en matig met buie in die...