Windhoek moet sy titel herwin

Tydens die amptelike opening van die Windhoek-munisipali­teit se opgeknapte hoofkwartier het die Namibiese president 'n dringende beroep op leiers én landsburgers gedoen.
Augetto Graig
Augetto Graig



President Hage Geingob sal 'n dag bepaal waarop almal sal bydra en help om die land op te ruim.

“Skaam jou,” het Geingob gesê oor die toestand van Windhoek wat ná jare nie meer as die skoonste dorp in Afrika beskou word nie. Hy het die opdrag gegee dat die hoofstad die onderskeiding moet herwin.

Die amptelike opening van die Windhoek-munisipaliteit se uitgebreide nuwe hoofkwartier was ook 'n geleentheid vir Geingob om ver­skeie leiers aan te spreek.

“Ek gaan 'n dag vir 'n nasionale opruimingsveldtog bepaal. Windhoek moenie net die skoonste stad in Afrika wees nie. Hoekom kan dit nie die skoonste ter wêreld wees nie?

“Die raad moet hard werk asook aanspreeklikheid en deursigtigheid behou.

“Ons moet armoede uitwis en ons almal moet deelneem, ook in die stryd teen korrupsie.”

Die president was die eregas by die seremonie waar 31 burgemeesters en uitvoerende hoofde teenwoordig was. Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling me. Sophia Shaningwa, streekgoewerneur Laura McLeod-Katjirua, oud- en adjunkburgemeesters asook voormalige raadslede was ook onder die gaste.

Windhoek se burgemeester, mnr. Muesee Kazapua, het gesê die voltooiing­ van die N$180 miljoen-gebou is danksy 'n besluit in 2010 en die harde werk wat die vorige leierskap­ gedoen het om die probleem rakende die tekort aan kantoorruimte vir raadswerkers op te los. “Die nalatenskap leef voort,” het hy gesê.

Die burgemeester het sy dankbaarheid uitgespreek oor die goeie gesindheid­ waamee die visie bewaarheid is. “Ek het geen twyfel dat met hierdie gebou meer doeltreffende diens gelewer sal word nie,” het hy gesê.

Volgens Kazapua kom die opening van die gebou op dieselfde tydstip as die transformasie van die stadsraad om by die veranderende gesig van die hoofstad te pas. “Ons het onsself verbind tot ons plig om te sorg,” het hy gesê.

Die groei van die stad se bevolking, wat elke jaar met 4 persent toeneem, lei tot groter aanvraag na dienste soos water, elektrisiteit, sanitasie en behuising, het Kazapua gesê. “Die tekort aan behuising en beperkte hulpbronne is tans die uitdaging.”

Kazapua het benadruk dat die nuwe verkrygingswet meer burokratiese vertragings meebring, en die stad se pogings vir die verskaffing van behuising en gedienste grond benadeel. “Hopelik is die struikelblok binnekort iets van die verlede,” sê hy.

In sy toespraak het Geingob op die kritieke rol van goeie bestuur in ontwikkeling klem gelê. “In Namibië vorder ons oor die afgelope 27 jaar, en al die treë is geneem na vrede en veiligheid, die oppergesag van die reg, gesonde bestuur en makro-ekonomiese norme. Dit is treë na volhoubare ekonomiese groei. Die nuwe vyfverdieping-kantoorgebou en raadsaal is 'n simbool van ons vooruitgang en ontwikkeling.

“Ons moet die gesamentlike visie omhels. Die gebou is 'n spieël wat die lewe van die hoofstad en die hele gemeenskap weerkaats. Dit vang die gees van die verlede en Windhoek vas, en wys dat ons samelewing hande moet vat en na gedeelde voorspoed beweeg.”

Volgens hom moet stedelike leier­skap vertroue bou en is dit die sleutel in die stryd teen armoede en korrupsie. “As 'n leier eers vertroue gewen het, is die pad na ontwikkeling makliker en mense aanvaar die gesamentlike visie. Die gebou en Windhoek moet bekend raak vir aanspreeklikheid en deursigtigheid.

“Ons leef in 'n tyd van aanhoudende verandering wat stimulerend en vol hoop kan wees, of vol disoriëntasie en verwarring. Die beste verandering is bestuurde verandering. Laat die hoofstad die voortou neem.”

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!