Willemse: 'Ek en Bokke het mekaar nie nodig'
Rugby
“Die Springbokke het my nie nodig nie en ek het hulle ook nie nodig nie.”
Uit dié woorde blyk dit die voormalige Bulle-slot Paul Willemse is allermins spyt dat sy rugbytoekoms in die blou van Frankryk, eerder as die groen-en-goud van Suid-Afrika lê.
Willemse, wat sy rugby vir Montpellier speel, het Vrydag aangekondig hy het Franse burgerskap verwerf. Hy is dus kiesbaar vir Frankryk se veldtog in die Sesnasies-reeks.
“Ek het my naam gisteroggend in die amptelike joernaal gesien,” het Willemse by 'n nuuskonferensie gesê – dít nogal in Frans.
“Ek is verheug. Ek is nou Frans, selfs al moet ek nog twee tot drie weke wag voordat ek my paspoort kry. Dit is 'n groot oomblik vir my en my familie,” sê hy.
Dié gebore Pretorianer wat op Tsumeb Gimnasium skoolgegaan het en ook op junior ouderdomsvlak die Namibiese skoletrui gedra het, het die Wêreldbekertoernooi vir o.20-spanne in 2012 saam met Suid-Afrika gewen. Hy het Suid-Afrika in 2014 verlaat om hom by die Top14-span Grenoble aan te sluit.
Willemse (26) het Vrydag ook aangekondig dat hy sy kontrak met Montpellier tot 2022 verleng het.
“Tans dink ek net aan Montpellier en wanneer die groep aangekondig word, sal ons sien of ek in die Sesnasies-reeks betrokke sal wees,” sê Willemse.
Volgens Wêreldrugby se regulasies, wat bepaal 'n speler mag ná drie jaar se verblyf in 'n sekere land vir daardie land uitdraf, sou Willemse in November reeds vir Les Bleus kon speel.
Bernard Laporte, president van die Franse Rugbyunie, het in Desember 2016 gesê hy het die “politieke besluit geneem dat geen oorsese spelers vir die nasionale span sal speel nie”.
Hy het toe aangekondig dat oorsese spelers voortaan slegs vir Frankryk mag uitdraf as hulle in besit van 'n Franse paspoort is.
Van 1 Januarie 2021 af sal spelers net vir hul aangenome lande mag speel as hulle vyf agtereenvolgende jaar in daardie land gewoon en gespeel het.
– Bygewerk van Sport24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie