Werkers in opstand by behuisingsprojek

Lone wat nie betaal is nie, gee aanleiding tot dreigemente om huise op die perseel aan die brand te steek.
Estelle de Bruyn
Jessica Botes - Sommige huise van die massabehuisingsprojek wat deur die Delta-groep op Swakopmund gebou word, is amper vernietig deur ongeveer 50 werknemers van die maatskappy nadat hulle nie hul lone ontvang het nie.

Die werkers het verlede Woensdag op die perseel byeengekom en gedreig om die huise af te brand indien hul uitstaande lone nie teen 17:00 daardie dag betaal is nie.

Lede van die Namibiese polisie wat op die toneel was, het daarin geslaag om die woedende werkers te kalmeer. Hulle het die toneel verlaat met die belofte dat hulle Vrydag sou terugkeer om hul lone in ontvangs te neem.

Al het die maatskappy teen Vrydag nog nie die uitstaande lone betaal nie, het die besturende direkteur, mnr. Koos Gouws, twee van die maatskappy se voertuie by die Mondesa-polisiekantoor gelaat as waarborg dat die lone betaal sal word.

“Ons het albei voertuie geadverteer en ‘n aantal belangstellende kopers gevind. Sodra ons die betaling ontvang, sal ons die nodige stappe doen om die werkers te betaal,” het Gouws gesê.

Volgens hom het die maatskappy wat die tender gekry het om 400 lae koste huise ingevolge die massabehuisingskema te bou, kontantvloeiprobleme begin ondervind nadat die regering versuim het om hulle te betaal vir werk wat reeds afgehandel is.

Die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling het Vrydag ‘n dringende vergadering belê om die uitstaande betalings aan die maatskappy te bespreek.

Gouws het egter bevestig dat hulle nog geen reaksie van die ministerie ontvang het nie en dat nou na alternatiewe oplossings gesoek word om geld in die hande te kry.

Al sal die verkoop van die voertuie die maatskappy in staat stel om die uitstaande lone te betaal, sal dit nie voldoende wees om die uitstaande skuld te delg nie.

“Die bedrag wat ons benodig om die werkers en subkontrakteurs te betaal, beloop ongeveer N$200 000, maar ons skuld ook ander mense en verskaffers geld. Hoe besluit ‘n mens wie om eerste te betaal?” wou Gouws weet.

‘n Woordvoerder van die groep werkers, mnr. Gerson Kandjeje, sê hulle het reeds die polisie, die Erongo-streekraad en die ministerie om bystand genader.

“Niemand kon ons help nie en ons het geen ander keuse gehad om met ons dreigemente hierheen te kom nie. Ons is moeg om te wag, ons is honger en het nie geld om na ons gesinne om te sien nie. Wat moet ons doen?” het hy gevra.

Vrydag het die werkers ingestem om die bouperseel te verlaat en te wag totdat die voertuie verkoop is sodat hulle hul geld kan kry. ‘n Groep van die werkers het egter na die polisiekantoor in Mondesa gegaan waar hulle eise gestel het vir die geld om betaal te word.

Die ministerie se permanente sekretaris, mnr. Nghidinua Daniel, was nie vir kommentaar beskikbaar nie en het alle oproepe na mnr. Don Kondunda by die ministerie se departement vir massa-behuising verwys. Daar was geen antwoord by sy kantoor toe navraag gedoen is nie.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!