Welwitschias-trein rol oor Old Boys

Klubkrieket

11 November 2019 | Sport
Andrew Poolman - Die gekombineerde kusspan MR24/7 Welwitschias rol voort as die voorloper, met drie oorwinnings ná naweek nommer drie in Krieket Namibië se premierliga vir eendagkrieket (50 boulbeurte).

As die besoekers aan Windhoek Hoërskool se veld het hulle Saterdag die onervare spannetjie wat WHS Old Boys in die veld gestoot het, se keel toegedruk en die tuisspan vir net 102 lopies uitgeboul.

Die doodsteek is toegedien deur Matthew de Gouveia, wie se regterarm draaiballe hom die lieflike boulsyfers van ses paaltjies vir nege lopies van 4.3 boulbeurte besorg het.

Een van sy ses slagoffers was Christiaan Schumacher, wat met 40 lopies van 64 balle (2x4 1x6) as kolwer nommer drie die sterkste weerstand gebied het, totdat De Gouveia hom been-voor-paaltjie betrap het.

Net twee ander WHS-kolwers kon dubbelsyfers behaal, naamlik Gareth Cloete (13 van 32 balle, 3x4) en Herman Steytler (18 van 31 balle, 1x4). Steytler se vertrek was die begin van 'n vernietigende ineenstorting vanaf 90/2 tot 102 almal uit.

De Gouveia se verwoestingswerk is deur nog 'n draaibouler, Shalako Groenewald (2/2 in vier boulbeurte, twee leës) ondersteun.

WHS was ooglopend met die rug teen die muur en het op hul beurt ook die boulwerk met twee draaiers geopen. Daar was aanvanklike sukses toe Llewellyn Louw (2/27 in 8 bb) en Vernon Cloete (2/30 in 7) elkeen twee keer toegeslaan het.

Old Boys se hoop het dus opgevlam met die telling op 57/4 en die kusspan se kaptein Lauritz Haccou (9), Steve Winborn (4), Nian Grobler (12) en Matthew de Gouveia (5) almal goedkoop terug in die pawiljoen.

Shalako Groenewald het op 87/5 teruggestap toe hy vir 14 van 12 balle (1x4 1x6) uitgevang is, maar uiteindelik was daar nie genoeg lopies om Sean Silver (25 nie uit nie van 33 balle, 1x4 1x6) en Enrico van der Westhuizen (12 nie uit nie van 18 balle) te keer nie.

Die Welwitschias (103/5) wen dus ná 21.1 boulbeurte met vyf paaltjies.



CCD KLOP UNITED

Die CCD Tigers, wat hul enigste vorige wedstryd teen die kusspan verloor het, het op koers gekom deur hul wegwedstryd teen Trustco United met 29 lopies te wen.

United het die loot gewen en die Tigers ingestuur om eerste te kolf. Die besluit is aanvank­lik geregverdig met die vroeë deurbrake om van Wayne Raw (7) en Rene Were (8) ontslae te raak.

Dit het egter die veelsydige Nicol Loftie-Eaton voor die penne gebring, wat tans gewis een van die mees invloedryke spelers in die liga is. Net 28 balle later het hy sy kolf omhoog gelig om die applous vir sy vyftigtal te erken.

Loftie-Eaton is uiteindelik vir 70 lopies (63 balle) uitgevang, nadat hy drie sesse en agt viere geslaan het.

CCD Tigers se totaal het op 181 almal uit in 43.4 boulbeurte geëindig, danksy verdere kleiner bydraes deur CCD se kaptein Joshuan Julius (20), Ricardo Strauss (20) en Mika Mutumbe (22 van 28 balle, 1x6).

United se stadiger boulers was meer suksesvol, by name die kaptein Danie van Schoor (3/43 in 10) en Lo-han Louwrens (3/28 in 6), terwyl Dewald Nell (2/21 in 5.4) en Darren van Dyk (1/27 in 10) ook heel tevrede kon voel.

United se topkolwers is egter tot op 'n rampspoedige 9/4 uitgewis deur die openingsboulskof van Mika Mutumbe, wat op 'n streep vir Dewald Nell (3), Hendrik van der Walt (1) en Eben van Wyk (0) laat uitvang het.

Mutumbe, 'n regterarm mediumsnelbouler wat van 2016 tot einde 2018 ook die nasionale Eagles verteenwoordig het, het later ook teruggekeer om met 4/21 in 9.4 boulbeurte vir oulaas die hardnekkige Nyashadzaishe Nyasha (27 van 49 balle) se weerstand te beëindig.

'n Vyftigtal van net 42 balle deur Darren van Dyk (67 van 62 balle) was sentraal in die periode waarin United gedreig het om dalk te wen. Van Dyk het met sewe sesse en drie viere ook sy slaankrag gewys.

Die gebrek aan steun vir Van Dyk benewens Danie van Schoor (19), Nyasha (27) en Henry Olivier (15) het egter die Filistyne gesink, met 29 lopies die verskil tussen die spanne.

Mutumbe se vuurwerke het ewe puik boulwerk deur sy maats Nicol Loftie-Eaton (3/26 in 7) en Elton Ambambi (3/30 in 10) oorskadu.

• Komende Saterdag se wedstrydbepalings (vanaf 09:30): Welwitschias teen United by Sparta op Walvisbaai; Samsung FNB Wanderers teen CCD Tigers by Wanderers.

Na verneem word sal die klubs vanaf komende naweek weer hul nasionale spelers beskikbaar hê.

Soortgelyk

 

Miljoene gevra ná ongeluk leerling eis

6 ure gelede | Howe

Henriette Lamprecht – Die ouers van ’n matriekleerling wat in 2016 in ’n motorongeluk dood is en waarin haar vriend ernstig beseer is, dagvaar...

Geingob neem aanstoot

6 ure gelede | Regering

Denver Kisting – ’n Hoë prys is vir Namibië se demokrasie betaal en strukture mag nie vir persoonlike en politieke gewin misbruik word nie. “Ons...

VERKIESINGS 2019: PRESIDENSIËLE KANDIDATE

6 ure gelede | Politiek

Bernardus SwartbooiLandless People's Movement (LPM) Bernardus Clinton Swartbooi het weggebreek van Swapo toe hy in 2017 weens kritiek teen die regering gedwing is om as...

Weer vir 11 November 2019

6 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met enkele tot geïsoleerde donderstorms in die Noorde, Noordooste en oostelike dele. Elders sal dit gedeeltelik bewolk...

Namibië, China se band opnuut gekap

6 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Pres. Hage Geingob loop veral in die sosiale media deur nadat China se premier, me. Sun Chunlan, gesê het dié land en...

‘Gevaarlike’ man ná vyf dae aangekeer

6 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – Vyf dae nadat ’n man onder polisiebewaking uit ’n hospitaal verdwyn het, is mnr. San Ricky Geingob weer agter tralies.Hoofinsp. Kauna Shikwambi,...

‘Jagter’ se prokureur onttrek

6 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - Die sogenaamde jagter wat daarvan beskuldig word dat sy ’n Britse joernalis tydens ’n jag- en visvangsafari ingeloop het, se regsverteenwoordiger het...

Tragedie tref toergroep

6 ure gelede | Ongelukke

Iréne-Mari van der Walt op Swakopmund - Altesaam 34 Duitse toeriste se Namibiese reis is kortgeknip ná hul “Rotel”-bus aan die brand geslaan het.Die bus...

VERKIESINGS 2019: GRONDHERVORMING, LANDBOU EN DIE KLIMAAT

6 ure gelede | Politiek

In die reeks neem ons politieke partye se manifeste in oënskou wat sekere sleutelkwessies betref.ALL PEOPLE’S PARTY (APP)• Vergoeding vir volksmoorde en hervestiging van die...