Weg oop vir staatslotery
Weg oop vir staatslotery

Weg oop vir staatslotery

Regulasies vir loterye en ander kompetisies het vandeesmaand van krag geword nadat die wet aanvanklik vier jaar gelede die lig gesien het.
Augetto Graig
Augetto Graig

>



Namibië kan nou met aanvoerwerk begin vir 'n staatslotery nadat regulasies vir die uitvoering van 2017 se Wet op Loterye die afgelope Woensdag gepubliseer is.

In dieselfde Staatskoerant sê die minister van die omgewing, bosbou en tourisme, mnr. Pohamba Shifeta, die regulasies is onmiddellik van krag.

Lede van die Loteryeraad is op dieselfde dag aangestel en sal aan die stuur staan van die wetsopdrag om te verseker dat geen loterye en kompetisies suiwer vir winsbejag tot nadeel van deelnemers en die publiek bedryf word nie.

Die raad sal ook as loerbroer optree oor feitlik alle kompetisies, wat aan streng riglyne onderhewig sal wees. Net kompetisies waarvoor die inskrywing N$5 of minder kos, sal uitgesluit wees van wetlike voorskrifte vir bemarkingskompetisies en regulasies plaas ook beperkings op die waarde van pryse in verskillende soorte kompetisies.

Mnr. James Einbeck, sekretaris van die Loteryeraad, het gister by navraag beklemtoon dit is dus reeds onwettig om skoolkinders te vra om lootjies te verkoop.

“Ons sal ondersoek instel by skole wat dit doen en hulle kan verantwoordelik gehou word. Dit is teen die wet om minderjariges te gebruik,” het hy benadruk.

Volgens Einbeck voorsien die wet vir swaar strawwe; 'n boete van tot N$4 miljoen, tot 20 jaar se tronkstraf, of beide.

Die regulasies sit voorskrifte oor 'n staatslotery, loterye met welwillendheidsdoelwitte, private loterye en verwante kompetisies uiteen.

Die staatslotery sal deur die raad of ’n goedgekeurde agent bestuur word, maar sal volgens Einbok die hoofbelang van die raad word. ’n Suksesvolle agent sal sekuriteit van N$100 miljoen moet bied.

Inkomste uit die staatslotery sal in ’n trustfonds belê word, waaruit in welsynsorganisasies, die kunste, kultuur, sport, bewaring, jeugbemagtiging, wetenskap en innovering en ander fokusgebiede belê kan word. Uit opbrengste - nadat administratiewe kostes gedelg is - moet 47% op welsyn bestee word; 28% op kuns, sport en kultuur en 23% op die jeug, geestesgesondheid en wetenskap. Die oorblywende 2% is vir nasionale noodgevalle soos vloed of droogte geoormerk.

Nie-winsgewende welsynsorganisasies kan aansoek doen om loterye of kompetisies aan te bied. Skole en kerke sal moet aansoek doen om kwytskelding van hul fondsinsamelings terwyl sportklubs 'n lisensie vir 'n private lotery sal moet bekom.

By vermaakgeleenthede mag looitjies nie meer as N$10 kos nie en die gesamentlike waarde van pryse mag nie N$10 000 oorskry nie. Private en welwillendheidsloterye se kaartjiepryse word ook beperk en pryse hiervoor kan tot N$1 miljoen beloop. Die regulasies stippel voorwaardes uit vir aansoeke om kwytskelding.

Minderjariges mag nie aan promosiekompetisies deelneem nie.

Volgens Einbeck moet alle instellings en besighede wat loterye en kompetisies bedryf hulself dadelik van voorskrifte vergewis en die raad nader. “Hulle moet almal nou na die ministerie kom hardloop. Dit is onwettig sedert 1 Desember” om sonder goedkeuring loterye en kompetisie aan te bied, het hy benadruk.

Die raad kan volgens Einbeck ’n grasieperiode oorweeg voor die nuwe regulasies toegepas word, en dalk om aggressiewe bewusmaking te doen, maar die besluite sal volgens hom van die voorsitter, mnr. Michael Mutonga, en sy span afhang.

Me. Tabitha Mbome is aangestel as die Loteryeraad se adjunkvoorsitter en die ander lede is mnre. Immanuel !Hanabeb en Wycliff Shillifa en mee. Charlotte Kapose en Herlinde Paulino Alcock. Hul termyne sterk tot Junie 2024.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!