Weduwee opnuut in rou gedompel

Ondanks pogings van sommige gemeenskapslede om die Rehoboth-begraafplaas in stand te hou, loop dié kerkhof dikwels onder diewe deur.
Denver Kisting
Denver Kisting – ’n Jong weduwee van Rehoboth, me. Narichia Botes, het verlede week amper geknak toe sy by haar man, mnr. Waylon Botes (33), se graf opdaag.

Verlede Woensdag sou hul derde huweliksherdenking gewees het, het haar ma, me. Betty Renton, gister aan Republikein gesê.

Narichia het op dié dag, wat vir die paartjie ’n spesiale dag sou wees, ’n draai by haar man se graf in die Rehoboth-begraafplaas gaan maak.

Tot haar skok moes sy ontdek dat ’n boompie, wat sy by sy graf se voetenent geplant het, deur vandale uit die grond geruk is.

Hiernaas, sê Renton, het Narichia ook vasgestel van die blomme op Waylon se graf is gesteel.

“Groot was haar skok en teleurstelling om net ’n leë gat daar te vind waar die boompie geplant is. Sy het ook ontdek dat van die blomme weg is, wat op die graf was. Dit is baie hartseer dat mense die grafte plunder waar geliefdes hul laaste rusplek vind.”

Renton het ’n beroep gedoen op vandale om op te hou om grafte te skend en blomme en bome te plunder.

“(Ek) versoek dat mense wat so iets doen asseblief ander se geliefdes sal respekteer.”

Waylon is vroeg in Julie vanjaar in ’n motorongeluk op die Solitaire-pad dood.

Hy het omgekom enkele ure ná hy ’n foto van die mis oor die Swakoprivier via WhatsApp aan Republikein gestuur het.

Dié foto is later daardie week in die koerant gepubliseer.

Volgens me. Amanda Groenewaldt, ’n bestuurslid van die Rehoboth Cemetery Development Forum (RCDF), het die verval van die begraafplaas haar genoop om dié liggaam in die lewe te roep.

“Die forum het ten doel om die begraafplaas te omhein, skoon te maak, te verfraai en in stand te hou.”

Hulle het tot dusver daarin geslaag om die ou gedeelte van die kerkhof te omhein, sê Groenewaldt.

Die nuwe uitbreiding is tans in hul visier, sê sy.

In dié stadium steun hulle swaar op skenkings van die gemeenskap.

Groenewaldt het inwoners opnuut gevra om betrokke te raak en die forum se pogings te versterk.

Tot onlangs was hulle in staat om bedags ’n veiligheidswag aan te stel om die plundertogte teen te werk, sê Groenewaldt.

Omdat hul geld op is, kon hulle egter nie meer dié diens bekostig nie, sê sy.

Me. Nathalia /Goagoses, die ministeriële verteenwoordiger vir die Rehoboth-dorpsraad, het gister by navraag gesê dié munisipaliteit kan tans net die mas opkom wat die voorsiening van ’n veiligheidswag saans by die perseel betref.

“Hierdie raad het nie geld nie – om vir u die waarheid te vertel.”

Sy sê egter sy het nog geen formele klag oor die skending van grafte en vandalisme ontvang nie.

Sou dit haar kantoor bereik, sál sy dit ondersoek, sê sy.

/Goagoses het benadruk die raad duld geen vandalisme nie en sal teen skuldiges optree.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!