Wat gaan nou in Sirië gebeur?

Die Siriese konflik is nie verby nie, dit is bloot op ’n nuwe trajek, skryf Mehmet Ozalp.
Mehmet Ozalp - ’n Noemenswaardige wending het in Desember in die Siriese konflik plaasgevind. Die gebeure aan die einde van 2018 het die land op ’n nuwe trajek geplaas, een waarop pres. Basjar Al-Assad sy mag wil konsolideer en die Islamitiese Staat (Isis) ’n geleentheid sien om met sy bedrywighede voort te gaan.

Pres. Recep Tayyip Erdogan van Turkye het die bal aan die rol gesit met sy aankondiging dat hy met militêre optrede oos van die Eufraatrivier gaan begin in ’n gebied wat beheer word deur die Amerikaans gesteunde Siries Demokratiese Magte. Die groep staan onder Koerdiese leiding.

Al-Assad en Rusland, sy grootste bondgenoot, het sedert die begin van die agt jaar lange konflik nog nie militêr met die Koerde slaags geraak nie.

Al-Assad en Rusland het die Koerde nie as terroriste of insurgente beskou nie maar as beskermers van hul gebied teen Isis en ander jihadistiese magte.

Turkye beskou egter die Koerdiese streek as ’n bedreiging. En sy vrese is legitiem: Indien die Koerdiese streek in Sirië onafhanklikheid verkry, kan dit verenig met die Koerdiese streek in die noorde van Irak en uiteindelik die hoofsaaklik Koerdiese suidooste van Turkye eis.

Turkye se beoogde militêre operasie oos van die Eufraat het nog nie begin nie, maar die aankondiging was ’n sterk stap gerugsteun deur die groot militêre magsopbou op die Turkse-Siriese grens. Dit het druk op die Amerikaanse regering en pres. Donald Trump geplaas om ’n besluit oor Sirië te neem: Staan sterk teen Turkye en plaas verdere druk op die reeds gespanne verhouding, of onttrek aan die land en ontduik só enige verantwoordelikheid vir die situasie.

Trump het die tweede keuse gekies – hy het verklaar die VSA sal sy magte volledig aan Sirië onttrek en Patriot- grond-tot-lug missiele aan die Turke verkoop om hul poging om die Russiese S-400-missielstelsel aan te skaf te verhoed.

Die onttrekking van Amerikaanse magte is op kenmerkende Trump-wyse op Twitter gedoen: “Ná geskiedkundige oorwinnings oor Isis is dit nou tyd om ons goeie jong mense huis toe te bring!”

AMERIKAANSE BELEID

Trump het dit sedert April 2018 duidelik gemaak dat hy wil hê die VSA moet hom aan Sirië onttrek. Tien dae nadat hy sy voorneme bekend gemaak het, het chemiese aanvalle Trump gedwing om sy magte in Sirië te hou en terug te slaan. Maar hierdie keer het die druk van Turkye gewerk óf Trump het dit gesien as die ideale tyd om uitvoering te gee aan sy plan om te onttrek.

Tydens oudpres. Barack Obama se bewind was die VSA se buitelandse beleid met betrekking tot Sirië om daar aan te bly totdat Isis volkome verslaan was, Iran en sy bondgenote verwyder is, en ’n politieke oplossing in ooreenstemming met die Geneefse vredesamesprekings onder leiding van die Verenigde Nasies (VN) bereik is. Trump het beweer die eerste doelwit is bereik en het dit as voldoende gronde beskou om te onttrek.

Toe kondig Trump op 21 Desember 2018 aan James Mattis, die minister van verdediging, gaan aan die einde van Februarie aftree. The Washington Post het berig Mattis en Trump het kwaai koppe gestamp oor die Siriese onttrekking. Mattis het in sy bedankingsbrief aan Trump geskryf: “Jy het die reg op ’n minister van verdediging wie se standpunte meer met joune ooreenstem”.

Die Amerikaanse beleid oor Sirië word al sedert die begin van die konflik in 2011 gekenmerk deur verskille. Trump het tot dié verwarring bygedra en sy lukrake besluitneming is ook tekenend van sy ontevredenheid met sy eie regering.

RUSLAND SE SPEL

Die wêreldwye kommer is natuurlik dat die VSA se onttrekking Rusland die streek se militêre en politieke leier sal maak met Iran en Turkye as sy bondgenote. Pres. Wladimir Poetin van Rusland het al in die openbaar gesê Rusland respekteer Turkye se nasionale belange in Sirië.

Hy het bygevoeg Turkye is bereid om kompromieë aan te gaan, saam te werk om die situasie te verbeter, en teen terrorisme te beveg.

Een Russiese oogmerk is om te verseker Al-Assad bly Sirië se president. Rusland mag Turkye toelaat om beperkte operasies in die Koerdiese streek uit te voer, nie net om ’n kompromis met Turkye te handhaaf nie, maar ook om uiteindelik druk op Koerdiese magte uit te oefen om met Rusland saam te werk en Al-Assad se regime te aanvaar.

Rusland is besig om ’n fyn strategie te bedryf – hy stel Turkye tevrede, maar nie ten koste van Al-Assad se soewereiniteit in Sirië nie. Erdogan was ’n groot teenstander van Al-Assad in die vroeë jare van die konflik. Rusland maak daarop staat dat Erdogan se erkenning van Al-Assad ander lande met ’n Soenni-meerderheid sal oortuig om hulle by die Rusland-Sirië-kamp te skaar.

Die Turkse minister van buitelandse sake het al gesê Turkye sal dit oorweeg om met Al-Assad in Sirië saam te werk indien Sirië demokratiese verkiesings hou. Maar Al-Assad sal natuurlik net tot ’n verkiesing instem as hy die versekering kry dat hy sal wen.

Die Verenigde Arabiese Emirate het aangekondig hy gaan sy ambassade in Damaskus heropen en daarna het Bahrein verklaar hy het nooit sy diplomatieke betrekkinge met die Siriese regering verbreek nie. Hoewel Saoedi-Arabië dit ontken het, was daar al mediaberigte dat dié land se ministerie van buitelandse sake diplomatieke betrekkinge met Sirië gaan aanknoop.

’n Belangrike stap in Turkye se erkenning van Al-Assad was tydens ’n ontmoeting op 23 Januarie tussen Poetin en Erdogan. Poetin het Erdogan herinner aan die Adana-ooreenkoms van 1998 tussen Turkye en Sirië. Die ooreenkoms het ’n tydperk van ongekende bilaterale betrekkinge tussen Sirië en Turkye ingelui. Dit het tot 2011 geduur toe die huidige konflik uitgebreek het.

Erdogan het toegegee die ooreenkoms bestaan nog, waarmee hy bedoel het Turkye en Al-Assad se regering kan saamwerk teen terreur. Trump het moontlik ook nie ’n probleem hiermee nie. Toe hy Amerika se oorwinning in Sirië aangekondig het, het hy geen melding gemaak van Al-Assad nie, wat daarop dui hy gee nie om of Al-Assad aan die bewind bly al dan nie.

* Mehmet Ozalp is verbonde aan die Charles Sturt Universiteit waar hy medeprofessor in Islamitiese Studies is.

– Netwerk24/Berig verkort

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Celta Vigo 4 vs 1 Las Palmas | Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion English Championship: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!