Warriors bespreek plek in groepfase

Sokker

12 September 2019 | Sport
Petrus Shitembi was een van die uitblinkers toe die Brave Warriors Dinsdagaand met 2-0 teen 'n goed georganiseerde Eritrea-span in die Sam Nujoma-stadion gewen het, om sodoende tot die groepfase van kwalifisering vir die 2022 Wêreldbekertoernooi in Katar deur te dring.

Die oorwinning volg op die sege met 2-1 verlede week teen dieselfde opponent in Eritrea se hoofstad Asmara, wat Namibië die kragmeting met die saamgestelde telling van 4-1 laat wen.

Afrigter Bobby Samaria se manne was sommer uit die staanspoor op die voorvoet.

Binne die eerste tien minute het Chris Katjiukua twee maal vanaf hoekskoppe sy kopstote bo-oor die dwarsbalk gestuur, voordat Benson Shilongo ook sy kopstoot van die dwarsbalk af sien terugspat het.

Die Oos-Afrikane het na 'n goed georganiseerde span gelyk en het ná 'n tyd hul selfvertroue herwin. Eritrea het die plaaslike doelwagter, Loydt Kazapua, met 'n vryskop getoets.

Die eerste treffer aan die Namibiese kant het egter gekom toe Absalom Iimbondi die besoekende doelwagter met 'n kragtige skop naby die doelhok geklop het. Iimbondi het sy terugkeer gevier nadat hy die vorige wedstryd in Asmara misgeloop het.

Eritrea se kaptein, Henock Goitom, het kort voor rustyd so byna 'n gelykmakende doel behaal, maar sy skop het net-net bo-oor die doelhok geseil.

In die tweede helfte het Eritrea algaande beter gespeel, maar het nie die Namibiese verdediging baie hoofbrekens besorg nie.

Dit was Shitembi wat die tuisskare groot genot verskaf het wanneer hy met sy glibberige dribbellopies en slim aangeewerk gewys het watter gevaar hy kan inhou. Die Namibiërs het 'n greep op die balbesit uitgeoefen, maar het uiteindelik nie die volle munt geslaan uit al die kanse wat hulle geskep het nie.

Die plaasvervanger Joslin Kamatuka se akrobatiese terugskop bo sy kop het reguit na die doelwagter se hande gevlieg, maar in die 84ste minuut het Namibië se kaptein vir die twee Eritrea-wedstryde, Peter Shalulile, 'n doel behaal nadat Kamatuka teen die regterkantlyn weggebreek het.

Met 'n akkurate aangee het hy vir Shalulile onbewaak gevind, wat die bal teen die doelnet laat bons het om die eindtelling 2-0 in Namibië se guns te maak.

Afrigter Samaria was in sy noppies dat sy manne hul talent kon ten toon stel.

“Dit was 'n aand waar ons die voëls kon vrylaat om hul vlerke te sprei en te vlieg. Ons was die span in beheer en die opposisie het ons nooit rêrig in die moeilikheid gehad nie. Ons het geweet ons sou die lyn oorsteek.

“Dit is 'n perfekte uitslag vir ons en Namibië kan nou net vorentoe beweeg. Kom ons kyk hoe gaan dit in die volgende ronde.”

Namibië het hiermee sy naam in die hoed gegooi vir die loting van die groepfase ter kwalifisering vir die volgende Fifa Wêreldbeker, met die eerste uitdunwedstryde wat in Maart 2020 afskop. Die loting sal na verwagting in November of Desember vanjaar gedoen word.

• In die tussentyd hervat die Brave Warriors hul aanslag op die Afrika Nasieskampioenskap (CHAN) se kwalifisering vir die volgende eindtoernooi volgende jaar. Namibië se volgende afspraak is teen Madagaskar. Die eerste wedstryd sal in Windhoek wees (die naweek van 20-22 September) gevolg deur die wegwedstryd (18-20 Oktober). Die wenner tussen Namibië en Madagaskar dring deur tot die CHAN-toernooi wat volgende jaar in Kameroen gespeel word.

– Nampa/NFA.org.na

Soortgelyk

 

Hardap kry 19 Mm³ water sedert Maandag

51 minute gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Sedert die afgelope Maandag het die Hardapdam ’n reusehoeveelheid water bygekry, naamlik 19,523 Mm³ (miljoen kubieke meter). Die dam is nou 27,2%...

Nóg twee kietsies kry nekbande

2 ure gelede | Omgewing

Nóg twee swartpootwildekatte is in die vroeë oggendure met nekbande toegerus. Prof. Morgan Hauptfleisch en sy span van die Black-Footed Cat Working Group is tans...

Okahandja-kleinhoewe oorstroom weer

13 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Terwyl die polisie gistermiddag bevestig het ‘n vrou is nog soek nadat die Okahandjarivier haar vroeg gisteroggend meegesleur het, was ‘n kleinhoewe-eienaar...

Geingob stil oor kleiner kabinet

13 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Ten spyte van die groot gewag daaroor in sy Oujaarsrede weet Namibiërs nog nie hoe groot pres. Hage Geingob se verkleinde kabinet...

Eerste swartpootwildekat kry nekband

13 ure gelede | Omgewing

Francoise Steynberg - Daar is geskiedenis gemaak toe Namibië se eerste swartpootwildekat vandeesweek met 'n nekband toegerus is. "Om die klein katjies op te spoor,...

Weer vir 27 Februarie 2020

13 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Verspreide donderbuie sal oor die noordelike streke en Omaheke- en Khomasstreek voortduur waar kitsvloede verwag word. Die nodige voorsorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik...

Drie stroop glo renoster in Etosha

13 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg - Nege verdagtes is verlede week in verband met renosterstropery of -horingsmokkelary in hegtenis geneem. Vanaf 17 tot 23 Februarie is beslag op...

Droogte: Baie boere wurg nog

13 ure gelede | Landbou

Ronelle Rademeyer - Foto’s van vol riviere, opgaardamme waarvan die vlakke styg en panne water langs die pad en in die veld het die afgelope...

PDM, ECN hof toe gesleep

13 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Mnr. Norman Tjombe, die Windhoekse prokureur wat vier ontstoke Popular Democratic Movement (PDM)-lede verteenwoordig, het gister bevestig hulle gaan hof toe.Alle aanduidinge...