Warner ‘wys sagte plek, kan meer verwag’

07 March 2018 | Sport
Christo Buchner

Terwyl Graeme Smith glo toetskrieket tussen Suid-Afrika en Australië moet nie die vurigheid verloor wat dit tradisioneel kenmerk nie, en hy ’n bondgenoot in Shane Warne het wat dié mening betref, glo Simon Katich, die eertydse Aussie-aanvangskolwer, daar moet nie geskroom word om spelers te skors wat die spel in oneer bring nie.

Dié eertydse sterre het hul mening gegee oor die voorval tussen David Warner en Quinton de Kock in die eerste toets op Kingsmead in Durban waar daar persoonlike aanvalle op mekaar was en van hul familie in dié bekstryd betrek is.

Smith glo wel tog ook die lyn moet getrek word wanneer die aanvalle persoonlik van aard is. Dié eertydse Suid-Afrikaanse kaptein is ’n SuperSport-kommentator en hy sê dit was duidelik uit die oudio van die mikrofoon by die paaltjies dat sekere individue die grens van aanvaarbaarheid oorskry het.

Die woordestryd tussen Warner en De Kock het oorgespoel na die spelersgang tydens die teepouse. De Kock het glo persoonlike dinge oor Warner se vrou kwytgeraak.

“Jy kon duidelik hoor oor die mikrofoon (in die paaltjies op die veld) dat daar persoonlike dinge gesê is en dit het my nie verbaas dat daar só ’n reaksie was nie. Dit is onnodig om so persoonlik te raak,” het Smith aan cricket.com.au gesê.

“Dit is een ding om die spel hard te speel en om mededingend te wees en ’n woordestryd binne die reëls is goed. Ek het dit ook gedoen en dit is deel van die spel. Tog is daar grense wat nie oorskry moet word nie en gebeur dít, sal emosies oorkook.”

Hy voel spelers moet meer aanspreeklik gehou word vir hul aksies op die veld en dat die skeidsregters situasies beter moet dophou wanneer die kwik op die veld styg.

“Wanneer Suid-Afrika teen Australië speel, verwag jy dit gaan hard wees. Jy weet dit gaan mededingend wees. Dit is maar hoe ons in albei lande grootgemaak is. Niemand geniet egter hierdie persoonlike aanvalle nie en dit is heeltemal onnodig,” sê hy.

Al was hulle mededingende teenstanders op die veld, stem Warne saam met Smith hieroor.

“Om mekaar verbaal te probeer intimideer en ontsenu was nog altyd deel van enige reeks tussen Suid-Afrika en Australië “Respek is egter die sleutel en julle kan ná die tyd ’n bier saam drink en aanbeweeg. Hou op met die gekerm,” het Warne op Twitter gesê.

Katich glo daar moet baie ferm opgetree word en dat spelers wat hierdie persoonlike grens oorskry, summier geskors moet word. Die wedstrydskeidsregter, Jeff Crowe, het tot Woensdagmiddag om drieuur om stappe teen De Kock en Warner te neem.

“Ek glo hy moet ’n voorbeeld maak van hierdie oortreders en dan sal spelers ophou daarmee. Net deur vir ’n toets geskors te word, sal spelers besef hulle kan nie so optree nie. Wanneer ’n span sonder ’n sleutelspeler in ’n toets moet klaarkom, sal dit hulle sodanig beïnvloed dat hulle polisieman op die veld sal begin speel en spanmaats berispe wat die grens van aanvaarbaarheid oorskry, eerder as om toe te laat dat dit oor en oor gebeur. Hopelik sal die wedstrydskeidsregter streng genoeg wees om sulke gedrag met wortel en tak uit te roei,” het Katich aan die SEN-radiostasie in Australië gesê.

Hy voorspel dat indien daar nie nou streng opgetree word deur die wedstryd-skeidsregter nie, gaan hierdie soort van scenario hom oor en oor afspeel in die res van die toetsreeks. Nog twee voormalige Aussie-sterre sê Warner moet in bedwang gebring word, want hy is soos ’n bul voor wie ’n rooi doek gehang word.

Sy bynaam is juis “Bul” en hy is bekend vir sy kort humeur. Nadat hy getroud is en pa geword het, is sy bynaam verander na “Dominee,” omdat hy rustiger geraak het, maar met hierdie voorval het hy daardie nuwe bynaam afgeskud.

Adam Gilchrist sê Warner sukkel nog om die goue middeweg tussen die “Bul” en “Dominee” te vind.

“Dit is ’n bekommernis en hy moet teleurgesteld wees oor hoe hy opgetree het,” sê Gilchrist.

Al het hy ná die toets blad geskud met De Kock en dit die vredesduif blyk te gewees het, glo Brad Hogg Warner kan min simpatie van die Suid-Afrikaners in die res van die reeks verwag, berig Reuters.

“Hulle gaan vir die laaste drie toetse aan hom karring en om eerlik te wees, die Suid-Afrikaners het sy sagte plek gevind deur na sy vrou te verwys,” sê Hogg. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Man sterf op Walvisbaai-Swakopmund-pad

10 ure gelede | Ongelukke

Die 27-jarige Franico Esly Huseb is vandag omstreeks 07:30 dood, nadat die bakkie waarin hy op reis was op die pad tussen Swakopmund en Walvisbaai...

Eksamenuitslae dán bekend

10 ure gelede | Onderwys

Die voorlopige uitslae vir graad 10 (JSC) en graad 12 (NSSC) hoë vlak vir voltydse en deeltydse kandidate word aanstaande Donderdag (20 Desember) amptelik bekendgemaak....

Drie meisies verdrink in sandputte

11 ure gelede | Ongelukke

Die Namibiese polisie in die Ohangwenastreek het ‘n beroep op kontrakteurs gedoen om sandputte toe te stoot wat geskep is met die uitgrawe van sand...

1,6 miljoen toeriste besoek Namibië in 2017

12 ure gelede | Toerisme

Altesaam 2,2% meer toeriste het Namibië in 2017 as in die vorige jaar besoek met meer as 1,6 miljoen buitelandse toeriste wat die land ingestroom...

Studente betaal meer by Unam

13 ure gelede | Onderwys

Die finansiële verknorsing waarin die Universiteit van Namibië (Unam) verkeer, tesame met die algemene ekonomiese vooruitsig vir die land, het die universiteitsraad genoop om klasgelde...

Plunderwoude: Ministerie ontken ongerymdhede

23 ure gelede | Plaaslik

Elvira Hattingh - Die ministerie van landbou, water en bosbou sê die meerderheid permitte wat vir die oes en vervoer van hout uitgereik is, is...

Polisie op sy knieë

23 ure gelede | Polisie

Denver Kisting – Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, sê die land se finansiële verknorsing het die mag op sy knieë.Ndeitunga het...

Avihe-moordenaar het dalk landuit gevlug

23 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – As Avihe Cheryl Ujaha (9) nie deur iemand in haar binnekring vermoor is nie, is haar moordenaar(s) waarskynlik al landuit.Só sê die...

Weer vir 13 Desember 2018

23 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm met geïsoleerde buie plek-plek in die noordelike en sentrale dele. Elders sal dit sonnig en baie tot...