Warm stryd om Sisa-boeke woed voort
Warm stryd om Sisa-boeke woed voort

Warm stryd om Sisa-boeke woed voort

Denver Kisting
Denver Kisting



Die Regsvereniging van Namibië (LSN) is van mening die bekende Windhoekse prokureur mnr. Sisa Namandje het moontlik sy regspraktyk se trustrekening vir geldwassery aangewend.

Hy verseg na bewering om dié liggaam toegang tot sy firma se boeke te gee om vas te stel of hul vermoedens steek hou, en is hulle genoop om die hof te vra om Namandje te dwing om sy boeke oop te gooi.

“In die middel van die grootste skandaal wat dié land waarskynlik ooit gesien het, het Namandje in Desember verlede jaar in 'n dokumentêr uitsprake oor trustrekenings gemaak wat 'n ondersoek regverdig.”

So het me. Uno ­Katjipuka-Sibolile, die regsverteenwoordiger van die LSN, gistermiddag in die Windhoek-hoërhof aan regter Herman Oosthuizen met verwysing na die sogenaamde Fishrot-skandaal gesê.

Katjipuka-Sibolile sê die LSN is 'n statutêre liggaam waaraan prokureurs moet behoort.

Volgens wet, sê sy, het die LSN die reg om onder sekere omstandighede 'n inspeksie op 'n regspraktyk uit te voer.

Prokureurfirmas is verplig om ­onderskeid te tref tussen die geld wat hulle namens hulself in 'n besigheidsrekening hou teenoor die fondse in 'n trustrekening wat namens 'n derde party veilig bewaar behoort te word, het Katjipuka-Sibolile benadruk.

Indien daar nie aan dié vereiste voldoen word nie, mag die LSN stappe doen, het sy gesê.

Volgens haar is Namandje se beweerde teenstand om sy boeke vir die LSN oop te gooi, geskoei op die vertrouensverhouding wat tussen prokureurs en hul kliënte bestaan wat in regsterme as privilegie bekend staan.

Maar, het Katjipuka-Sibolile ge­maan, privilegie mag opgeskort word.

Boonop moet daar daarvoor gevra word. “Dit ontstaan nie outomaties nie.”

Gewoonlik dring 'n kliënt daarop aan en hoewel 'n prokureur hom ook daarop beroep, moet dit in sy kliënt se belang wees, het sy gesê.

Hulle sal net kan weet of Namandje wel sy trustrekening onregmatig aangewend het as hulle toegang tot sy rekords kry.

Buitendien kan Namandje se bereidwilligheid om gesprekke rondom die kwessie te voer, nie as samewerking gesien word nie.

Gisteroggend het adv. Raymond ­Heathcote, SC, namens Namandje gesê die skending van die vertrouens­verhouding tussen prokureur en kliënt is een van die vernaamste redes hoekom 'n prokureur van die rol geskrap kan word.

Dit is net in 'n polisiestaat wat mense sonder taal of tyding by 'n plek kan instorm, op inligting beslag lê en na die owerhede toe hardloop, het hy gesê.

Boonop, sê Heathcote, is ­Namandje kragtens die Grondwet op privaatheid geregtig. Dít sluit vertroulikheid in, meen die senior advokaat.

Syns insiens oorskry die LSN met dié eis sy statutêre magte.

Hoewel dit hom verbyster dat die LSN van mening is die Wet op Regs­praktisyns se reëls kan die vertrouens­verhouding tussen prokureur en kliënt opskort, behoort daardie reëls in elk geval oorgedoen te word, sê ­Heathcote.

“Jy kan nie kom en magte misbruik en dan openbare belang skree nie.”

Die geding duur vandag voort.

• Ses mans, insluitend oudministers Bernhard Esau en Sacky Shanghala, is in aanhouding in verband met die Fishrot-skandaal.

Viskwotas ten bedrae van etlike miljoene dollar is glo deur dié skema geplunder.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!