Vyftien sinkhuise in Mondesa vernietig

23 June 2020 | Misdaad
Misdaadredaksie



Die winter en die gepaardgaande behoefte aan hitte het die afgelope week nie net 'n lewe geëis nie, maar ook talle mense dakloos gelaat nadat hulle huise deur vlamme in puin gelê is.

'n Ses maande oue baba het Vrydag omstreeks 11:50 in haar ma se sinkhuis doodgebrand. Na bewering het onwettige elektriese bedrading die brand veroorsaak. Die voorval het in die Uukango Park- informele nedersetting op Eenhana plaasgevind.

'n 24-jarige man het glo Vrydag tussen 17:00 en 18:00 op Rooibank in die Walvisbaai-distrik sy ma se sinkhuis aan die brand gesteek. Die huis en die inhoud ter waarde van N$5 000 is in die vlamme vernietig. Na bewering het die man gedreig om sy 53-jarige ma te vermoor. Hy is in hegtenis geneem.

'n Brand het Vrydag tussen 11:30 en 12:00 in 'n sinkhuis in die agterplaas van 'n huis in Mondesa in Robbie Savagestraat uitgebreek. Die brand het glo na twee aangrensende huise en sinkhuise versprei. Altesaam 12 sinkhuise en twee huise het afgebrand. Die derde huis is gedeeltelik beskadig. 'n Sterk wind op Swakopmund het die vlamme aangevuur. Die oorsaak van die brand, asook die waarde van die skade, is nog nie bekend nie.

'n Brand het Saterdag tussen 19:00 en 19:30 ook in 'n sinkhuis in 'n agter­plaas van 'n huis in Ongulumbashestraat in Mondesa uitgebreek. Drie sinkhuise en die inhoud is vernietig en deel van die hoofhuis het ­afgebrand. Die oorsaak van die brand, asook die waarde van die skade, is nog nie bekend nie.

'n Verdagte wat tans op borgtog vir verkragting is, is Saterdag weer in hegtenis geneem nadat hy 'n 22-jarige vrou op Mariental verkrag het.

Die voorval het tussen 18:00 en 19:00 by die Nampower-stasie in die ­Ombili-nedersetting plaasgevind. Die vrou was op pad huis toe, toe die 39-jarige verdagte haar verkrag het.

'n Verhoorafwagtende ­gevangene wat in die Okongo-polisiekantoor aangehou is, het Sondag om 17:00 glo siek geword. Hy is na die staats­hospitaal op Okongo geneem waar hy dood ­verklaar is. Die ­verdagte is op 18 Februarie op Okongo op aanklag van verkragting in hegtenis geneem. Hy het in die hof verskyn en het N$1 000 borgtog verkry. Hy kon dit egter nie betaal nie en het in aanhouding gebly. Sy naasbestaandes is nog nie van sy dood in kennis gestel nie.



Moord

'n 22-jarige Angolese man het Vrydag om 20:45 glo vir mnr. Sakaria Itonywa (40) met 'n mes doodgesteek.

Die voorval het in die Okadhiya ­Koshumba-nedersetting plaasgevind. Die verdagte en die oorledene het in dieselfde huis gewoon. Die verdagte is in hegtenis geneem.

Mnr. Josef Isaak (42) is Saterdag om 17:30 op die plaas Koichas in die Tses-distrik glo deur sy neef met 'n mes doodgesteek. Hy is op die toneel dood en die 60-jarige verdagte is in ­hegtenis geneem. Die rede vir die moord is ­onbekend en die polisie­ondersoek duur voort.

Mnr. Ndakomani Nghidamusha het op die toneel gesterf nadat hy glo deur 'n 37-jarige man met 'n pistool geskiet is. Die voorval het in ­Oshitambi ­Shanehale- informele ­nedersetting in Okuryangava plaasgevind. Die oorsaak van die voorval is nie bekend nie en die polisieondersoek duur voort.



Poging tot moord

Na bewering het 'n soldaat wat van diens af was Vrydag op 21:00 in Omukarustraat in Freedom Square in Katutura 'n 30-jarige man in sy linker voet geskiet. Die 55-jarige verdagte het sy eie pistool gebruik. Die slag­offer is glo familie van die verdagte se meisie. Die verdagte het glo mense sien drink en 'n skoot afgevuur wat die slagoffer getref het.



Roof en diefstal

Drie mans het Vrydag om 17:00 glo 'n man tussen die Ehangano- en ­Soweto-informele nedersettings op Outjo aangeval. Hulle het sy sak met items ter waarde van N$7 440 gegryp. Die slagoffer is 'n informele straat­verkoper. Een van die verdagtes wou hom met 'n mes steek. Die slag­offer het egter 'n pistool by hom gehad en die man in die been geskiet. Die ­verdagte is na die hospitaal geneem. Die ondersoek duur voort.

'n Onbekende aantal verdagtes het Saterdag by die kantoor van die ­ministerie van sport, jeug en nasionale diens in Khorixas ingebreek. Hulle het N$2 200 in kontant en skoonmaakmiddels ter waarde van N$300 gesteel.

Drie mans is Vrydag om 16:00 by Plot-1 Hardap op Mariental in ­hegtenis geneem nadat hulle glo een bok gesteel en geslag het. Die bok se waarde is N$2 500. Hulle is onder­skeidelik 17, 25 en 32 jaar oud.

Soortgelyk

 

Iran: Kernkragontploffing veroorsaak beduidende skade

1 uur gelede | Internasionaal

’n Kernkragontploffing Donderdag in ’n pakhuis by die Ntanz-aanleg in sentrale Iran het beduidende skade aangerig en kan die produksie van sentrifuges vertraag wat uraan...

Egipte arresteer dokters om kritici stil te maak

1 uur gelede | Internasionaal

Ongeveer tien dokters en ses joernaliste is vanaf Februarie in Egipte in hegtenis geneem omdat hulle die regering van pres. Abdel Fattah el-Sissi kritiseer oor...

Covid-19 knou Media24

4 ure gelede | Afrika

Media24 oorweeg dit om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante...

Kenia heropen grense na 4 maande

4 ure gelede | Afrika

Mnr. Uhuru Kenyatta, die president van Kenia, het Maandag die heropening van dié land se grense “in fases” aangekondig.Internasionale vlugte sal vanaf 1 Augustus...

55 nuwe Covid-19-gevalle bring totaal op 593

5 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) dr. Kalumbi Shangula sê 55 nuwe gevalle van Covid-19 is die afgelope 24 uur in die land...

Twee vas oor olifanttande

15 ure gelede | Misdaad

Volgens die weeklikse wildmisdaadverslag vanaf 29 Junie tot 6 Julie is twee nuwe wildmisdaadsake aanhangig gemaak en vier verdagtes in hegtenis geneem. Mnre. Alfred...

Kleintjies terug skool toe

15 ure gelede | In beeld

Leerlinge vanaf graad 0 tot 3 het gister weer vir aangesig tot aangesig onderrig teruggekeer met leerlinge en ­onderwysers wat opgewonde was om weer by...

Tuiskwarantyn aan kus ’n opsie

15 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) gaan meer buigsaam wees in die kwarantyn van kontakte van bevestigde Covid-19-gevalle in die...

Psemas: ‘Tender sluit almal behalwe Methealth uit’

15 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Dit wil voorkom asof die bepalings van ’n tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, op so ’n manier...