VW toor ekstra woema uit sy driesilindertjie

'n Nuwe Volkswagen Polo is volgende jaar op pad
As swanesang in die nie-Duitse wêreld (Duitsland kry hom nie) het VW ekstra skop in Wolfsburg se 1.0-liter-driesilinder-petrolturbo gesit en 'n Polo-luikrug met R-Line-afwerking – plus 'n stamperige rit – geskep. Egmont Sippel ontleed.

Oukei, hier's jou keuses: 'n Volkswagen Polo 1.0 TSI BlueMotion (70 kW/160 Nm uit 'n 1.0-liter-driesilinder); of 'n Polo 1.2 TSI High­line (81 kW/175 Nm uit 'n 1.2-liter-viersilinder).

Albei enjins is turbo-aangejaag.

Maar nou's jy 'n haastige soort mens en die verskil is daai ekstra silinder; die Polo 1.2 TSI is meer as 'n sekonde vinniger van 0-100 km/h (10.1 sek. vs. 11.3 sek.) en topspoed druk die naald 5 km/h verder (196 km/h vs. 191 km/h).

Dit nou as albei luikruggies via 'n handratkas dryf; 'n vyfgang in die geval van die driesilinder en 'n sesgang vir die viersilinder.

Die TSI Highline se ekstra 200 cc bied dus gemaklik meer krag, spoed en versnelling.

Maar daar is 'n rede vir die 1.0 TSI se BlueMotion-nomenklatuur. Dis 'n handelsnaam – BlueMotion – wat deur Volkswagen gebruik word vir modelle met die klem op beter brandstofverbruik en laer gifgas-uitlate: 'n brandstofsku enjin om mee te begin (en VW se driesilindertjie is 'n juweel), plus lang ratverhoudinge, staan-gaan-tegnologie, regeneratiewe remwerk, bande met min rolweerstand en, les bes, skoner lugdinamika (onder meer via laer vering en dus 'n ­laer motor).

In gevalle waar net sekere elemente van die BlueMotion-filosofie ingespan word, in stede van die hele pakket, praat VW van BlueMotion Technology.

Goed, so die Polo 1.2 draf die Polo 1.0 kaf. Maar nieteenstaande daai een ekstra gang in die handratkas verloor die viersilinder sleg as dit by verbruik kom: 6,1 liter/100 km teenoor die driesilinder se 5 liter/100 km.

Dis die BlueMotion-tegnologie, sien, wat – saam met laasgenoemde se kleiner enjin – daai verskil maak.

Dit terwyl die DSG net twee voordele bied: gemak, en 'n veel vinniger 0-100 km/h-lopie (9.3 sek. vs. die handrat se 10.1 sek.).

Topspoed en verbruik bly ­onveranderd.



Moeilike keuse, dus?

Mmmm, ja. Maar op die oog af nie so moeilik soos wat dit is as jy die vergelyking met VW se nuutste klein Polo, naamlik die 1.0 TSI R-Line, uitbrei nie.

Anders as wat mens sou verwag, gebruik die R-Line nie die groter viersilinderbron nie, maar wel die 1.0-liter-driesilinder, einste gekoppel aan die viersilinder se sewegang-DSG en ook met wulpser instellings sodat die driesilinder gelykkragtig met die viersilinder trek (81 kW elk).

Hier's egter die interessante syfers: die warmgeblaasde 1.0-liter lewer 25 Nm meer wring wat teen veel laer toere piek: 200 Nm by 2 000 o.p.m. teenoor die 1.2 se 175 Nm by 4 000 o.p.m.

Wat mens noop om te vra hoekom die R-Line se 0-100 km/h-lopie tydsgelyk (9.3 sek) aan die 1.2 DSG s'n is? Die ekstra wring teen laer toere in 'n ligter motor moet tog 'n tiende of twee vinniger wees, dan nie, as die motors deur identiese ratkaste tjol – soos hulle wel doen?

Synde dat die kooppryse ook identies is, bly daar twee onder­skeidende faktore oor: (1) verbruik; die R-Line wen gemaklik (5,3 liter/100 km vs. 6,1 liter/100 km); en (2) ritgehalte; die 1.2 TSI Highline met 45-diep-bandsywalle (op 16”-allooie) ry gemakliker as die R-Line se 40-diep-sywalle (op 17”-allooie).

Of, as jy heeltemal sober oordeel, wen die 1.0 TSI BlueMotion gemaklik, want hy rol op 185/60-R15's.

Van belang is die bandsywalle se aspek-ratio van “60” in die syfer hierbo, wat veel meer padskokke absorbeer as die “40” in die R-Line se 215/40-R17's. Laasgenoemde se rit is amper-amper onaanvaarbaar ferm, die soort wat jy sal verduur as jy in 'n vuurpyl sit en derhalwe dun rubber benodig om die allerbeste uit hantering te toor; hoe laer of dunner die sywalle, hoe minder fleks hulle deur draaie en hoe stabieler trap die kar in sy eie spoor.

Maar nou's die Polo R-Line allesbehalwe 'n vuurpyl, sy verhoogde kraglewering ten spyt. Uiteindelik lewer hy steeds te min krag om (via lae bandprofiele) 'n wins in hantering oor 'n verlies in ritgehalte te regverdig.



Hoe vinnig kan mens nou ieder geval met 81 kW vorder?

En as jy die lepel heelpad vloer toe skop, sien jy maklik ­12 liter/100 km op die suipmeter; allermins BlueMotion (soos op die agterklap aangedui), terwyl jy heelpad lank die ongerief van 'n stamperige rit op normale laeprofielbande (eerder as BlueMotion se lae-rolweerstandrubber) moet verduur.

Ten minste spog die R-Line met staan-gaan-tegnologie wat beteken VW eintlik BlueMotion Technology op sy stert moet skryf.

Die res van die R-line – soos ontwerp, ingenieurswese, bougehalte, tegnologie, toerusting, materiale, afwerking en vir 'n verandering ook 'n mooi charismatiese drie­silinderklank (met iets van die 1960's se tweeslag-DKW-driesilinder wat as ondertoon deurslaan) – is natuurlik pure Volkswagen.

Maar so is die Polo 1.0 TSI BlueMotion ook; pure VW en hy ry baie lekkerder, drink 'n slukkie minder en kos goedkoper.

Die keuse is egter joune. En dalk is jy nog 22 jaar jonk. Met daai pyn vir misligte en “side skirts” en mêghs.

Want jy weet mos wat op daai soort ouderdom tel. Dis net wiele en, wel, nogmaals wiele . . .

O ja, en die R-Line haal 197 km/h, die 1.2 TSI net 196 km/h.

Saak beklink.

Of het jy darem 'n bietjie “kommin sens” ook? – Netwerk24/Egmont Sippel

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!