Vry Teek gee nog nie bes

Die slordige polisieondersoek in ’n destydse hoëprofielverkragtingondersoek was gister opnuut onder skoot.
Denver Kisting
Denver Kisting – Ofskoon geregtigheid gister in sy eie woorde in die hemel én op aarde geseëvier het, beplan oudregter Pio Teek (71) nie om ’n siviele eis teen die staat te laat vaar nie.

Die 13 jaar, waartydens hy in en uit strafhowe was weens bewerings van ontvoering, verkragting en die deel van pornografie en alkohol met minderjarige meisies, was vir hom soos ’n kruisiging, sê hy.

Hy het gister sy verligting met die media gedeel oomblikke nadat hy in die hooggeregshof finaal tot ’n vry man verklaar is.

Die hooggeregshof het gister in ’n bevinding van meer as 50 bladsye ’n appèl van die staat van die hand gewys.

Die staat het na dié hof teen ’n uitspraak in die hoërhof geappelleer, waarin Teek onskuldig bevind is op aanklagte van die ontvoering en verkragting van twee minderjarige meisies.

Die hooggeregshof het ook bevind die hoërhof was nie verkeerd om Teek eweneens onskuldig te bevind aan die verskaffing van drank aan die meisies en die toon van pornografiese beeldmateriaal aan dié kinders nie.

Die grondwetlike reg op ’n regverdige verhoor het ten doel om onder meer te verseker onskuldige mense word nie verkeerdelik skuldig bevind nie, lui gister se uitpraak.

’n Verkeerde skuldigbevinding het ’n negatiewe uitwerking op die vryheid, waardigheid en moontlike ander belange van ’n beskuldigde, het die hof gemaan.

As daar nie aan dié grondwetlike vereistes voldoen word nie, kom strafregtelike geregtigheid in die gedrang, aldus die uitspraak.

Die hof het gister opnuut die manier waarop die polisie in 2005 die ondersoek hanteer het, gekritiseer.

Nóg die Grondwet nóg die polisiewet magtig die polisie om enige misdaad teen enigiemand op ’n bevooroordeelde wyse te ondersoek, wat daarop gemik is om iemand skuldig te laat bevind, lui die uitspraak.

“Enigiemand, wat van ’n oortreding beskuldig word, hetsy ’n regter of iemand in ’n hoë posisie, moenie anders behandel word weens sy of haar openbare status nie.”

Onder meer kon die polisie met geen bewyse vorendag kom dat die pornografiese materiaal, wat Teek glo aan die meisies gewys het, bestaan nie.

Dit kom ondanks klopjagte op sy huis en kantoor by die hooggeregshof waarmee Teek behulpsaam was, het die hof gister gesê.

Boonop is ’n video, wat tydens die soektog en Teek se inhegtenisneming gemaak is, nooit tydens sy verhoor getoon nie, omdat dit volgens die polisie “nie van toepassing” was en “van geen nut vir die skuldigbevinding van (Teek)” nie. “Dit is nog ’n geval van die onaanvaarbare selektiewe ondersoekende tekortkominge,” lui gister se uitspraak.

Die polisie het nie eens genetiese materiaal van onder Teek se naels vir laboratoriumtoetse bekom nie, ondanks die bewering dat die oudregter sy vinger in die een meisie se vagina gedruk het.

“Die ondersoekende owerhede se gebreke is nie net betreurenswaardig nie, maar ook sprekend.”

Die staat het destyds beweer Teek het die twee kinders naby Enkelkwartiere in Katutura opgelaai, na sy huis buite Windhoek geneem, hulle drank gevoer, pornografie gewys en verkrag.

Die beweerde voorval het skokgolwe deur die land gestuur en Teek tot ’n professionele val gebring.

Luidens sy destydse pleitverduideliking het die meisies vir hom gesê hulle is honger.

Hy het toegegee hy het hulle na sy huis geneem en gevoer.

Volgens hom het hy vanweë drank en medisyne aan die slaap geraak voor hy die kinders huis toe kon terugneem.

Toe hy later wakker word, was hulle vas aan die slaap op die rusbanke in die voorhuis.

Hy het toe besluit om hulle met rus te laat.

Toe hy later weer inloer, het hy glo leë drankbottels aangetref waaruit die kinders oënskynlik sou gedrink het.

Hy het die kinders die volgende oggend teruggeneem.

Die hof het gehoor die kinders het eers vertel waar hulle was en wat glo gebeur het nadat hulle pak gekry het.

Teek het gistermiddag gesê hy moet eers die jongste wending verwerk waarná hy oor die weg vorentoe sal besin.

Maar, het hy benadruk, hy beplan steeds om ’n siviele eis in te stel.

Hy het die hof, waar hy eens self op die bank was, met ’n kierie verlaat.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!