Vroue-Eagles wen spannende semi-finaal
Krieket
Die Capricorn Namibiese vrouekrieketspan is deur na die eindstryd van die Internasionale Krieketraad se T20 Wêreldbeker kwalifiserende toernooi vir Afrika wat in Gaborone beslis word.
Waarskynlik die mees waardevolle lopies wat Wilka Mwatile nóg in haar krieketloopbaan aangeteken het, was die koelkop 8* van tien balle wat die vroue-Eagles (90/8) oor die eindstreep gedra het om vandag die semifinaal met twee paaltjies teen Tanzanië te wen, met net twee balle oor.
Namibië het uitmuntend geboul en veldwerk gedoen om Tanzanië (wat reeds twee kolftotale van 200-plus lopies in dié toernooi behaal het) tot 89/7 te beperk. Wilka Mwatile met 2/15 in 3 bb het twee keer toegeslaan, terwyl Victoria Hamunyela (1/16 in 4) vroeg die waardevolle paaltjie van Tanzanië se lopiemasjien Fatuma Kibasu vir net 7 ingeoes het.
Namibië se antwoord het belowend begin met Adri van der Merwe (12 van 13 balle) en Suné Wittmann (20 van 24 balle), maar skielik het Namibië vanaf 25/0 tot 39/5 ingesink. Die aanvangspaar was twee van die vier Eagles-kolwers vir die dag wat b.v.p. uitgegee is.
Kaptein Irené van Zyl (22 van 28 balle) het te midde van die chaos die wenteiken binne bereik gehou in ’n vennootskap met Edelle van Zyl (14 van 23 balle), voordat Wilka Mwatile onder geweldige druk die afronding kom doen het. Irené van Zyl is as speler van die wedstryd aangewys.
Namibiërs speel Sondagmiddag in die eindstryd teen die toernooigunsteling Zimbabwe, wat sy semifinaal teen Uganda gewen het. Net die wenspan word met ’n plek in die wêreldwye T20 Wêreldbeker-uitduntoernooi beloon.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie