Voormalige soldate pak vir eers op

Die oudsoldate sê hulle gaan met hul protesaksie voort indien die regering se reaksie nie gunstig is nie.
Catherine Sasman
Catherine Sassman



Oudsoldate onder die vaandel van die Namibië Oorlogsveteranetrust (Namvet) het besluit om tot 12 September na hul tuistes terug te keer, wanneer 'n parlementêre verslag oor hul lot bekend gemaak sal word.

Dié kort tussenpose kom nadat die groep al vir meer as twee jaar aan 'n sitbetoging by die Rooivlag-kommandosaal in Katutura deelneem. Dít in 'n poging om druk op die regering te plaas om hulle as oorlogsveterane te erken.

Die oudsoldate het aan 'n week lange protes­aksie deelgeneem waartydens die groep weer eens probeer het om die aandag van Namibiese en ­Suider-Afrikaanse leiers te trek.

Die besluit om tot September te wag, is tydens 'n vergadering Saterdag bekend gemaak waar lede van oraloor die land byeengekom het om die toekoms te bespreek.

Die verwagte regeringsverslag word deur die parlement se staande komitee vir grondwetlike en wetlike aangeleent­hede onderneem.

Mnr. Sebastiaan Karupu is die voorsitter van dié komitee wat deur die speaker, mnr. Peter Katjavivi, aangevra is.

Sy kantoor het aan Namvet bevestig die verslag sal in September bekend gemaak word.

“As ons nie met die bevindinge en voorstelle van die verslag tevrede is nie, gaan ons, sonder om enigiemand daarvan in kennis te stel, na Katjavivi se kantoor opruk,” het Namvet se voorsitter, mnr. Jabulani Ndeunyema, Saterdag gedreig.



'12 BRIEWE'

Ndeunyema het tydens die vergadering gesê ná die 12 briewe tussen Namvet en die regering vanjaar en ook die getal vergaderings wat die ­organisasie die afgelope paar jaar met owerhede gehad het, kan die oudsoldate moontlik sekere voordele van die regering ontvang.

“Ek weet nie wanneer nie, maar ek is seker sommige voordele gaan na ons kant toe kom,” het Ndeunyema gesê.

Volgens hom het Namvet die regering ook tot 1 Desember gegee om finale uitsluitsel oor die aangeleentheid aan die voormalige SWATF/Koevoet-­lede te gee.

Ndeunyema sê Namvet sal op 1 Desember 'n nuwe leier kies, wat nié 'n pos in 'n politieke party beklee nie.

Streeksorganiseerders van Namvet het vertel hoe oudsoldate in wanhoop, depressie, alkoholisme, geweld en mishandeling, werkloosheid en haweloosheid verval het.

Sommige het ook vertel hoe voormalige SWATF/Koevoet-lede, wat in die staatsdiens aangestel is, nie meer bande met hul mede-oudsoldate het nie.

Ndeunyema het die oudsoldate gemaan om hulself nie aan organisasies soos Amabuthutu te verbind, wat duisende dollars in lidmaatskap- en ander fooie ingewin het en dié soldate met busse na Suid-Afrika aangery het in vrugtelose pogings om vergoeding by dié land se regering te eis nie.

Ndeunyema was ook gebelg oor die polisiehoof, insp.genl. ­Sebastian Ndeitunga, wat verlede week die sitbetogings deur die voormalige lede as “anargie” en “'n onhigiëniese oorlas vir publiek” beskryf het.

“Dit sal nie vir ons nodig wees om in Windhoek te wees as ­Ndeitunga en Swapo nie ons N$36 miljoen gesteel het nie. Ons sou uit eie reg sakelui gewees het. Ons is nie hier omdat ons 'n keuse het nie, maar weens die lyding wat deur die Swapo-­administrasie veroorsaak word. As die administrasie ons al die voordele gee waarop ons geregtig is en ons pensioen van N$36 miljoen, sal hulle ons nie meer hier sien nie,” het Ndeunyema gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!