Volg die see se voorbeeld
Elvira Hattingh
Raak die see nooit moeg nie? Brander ná brander ná brander. Gister, môre, nog altyd.
Soos 'n volbloed resiesperd, eers bors uitstoot, ken aftrek en dan vorentoe beur, wit maanhare bollend in die wind. Oor en oor en óór.
Nogeens juigend oor die strand vooruithol . . . en teen die woestynsand sneuwel. Dan terugtrek, asem weer intrek.
Hy práát, die see van ons. Hy torring aan jou flarde siel tot jy luister, tot julle sáámpraat. Vroetel jou tone in die sand, dan kom die skuimwater koud om jou enkels gryp. Hy is onbeskryflik, hy is koud, beeldskoon, magtig, wys, onsterflik, gevaarlik, speels. Hy is Atlantika.
Eerstens vertel hy jou van 'n groot skepping. Van die môres en gisters en die eeueoue geheime waaroor hy swyg, maar moenie dink hy's uitgekuier nie.
Jy kry die geleentheid om jou vrae te stel. "See, maak dit vir jou saak dat ék vandag hier in jou branders speel? Verraaier! As ek môre weg is, gaan jy dan aan asof niks gebeur het nie?"
"Net maar nog 'n bewonderaar, een van vele aardbewandelaars. Een skakel in 'n reuseketting van die mensdom wat oor eeue en baie kilometers heen reik."
Asem in, asem uit. Die see praat nie menstaal nie. Dog stuur hy sy resiesperde strand uit, een ry perde volg op die ander. Hulle val hulle te pletter op die gladde strand, rol oorwonne terug die see in en skenk dan geboorte aan nuwe branders.
Elke brander is 'n skakel wat die weg baan sodat die volgende een kan uitstoot. Ek wonder: Sou een of twee van hierdie skakels begin wegval, sou die see dalk ophou branders maak? Sou dit die einde van hierdie mooi wees, waaraan woorde nie reg kan laat geskied nie?
As die see nie meer branders maak nie, is dit nog 'n see?
Sou jy nalaat om jou asem in te trek en uit te blaas, is jy nog mens? Elke brander bind die toekoms en verlede, elkeen ‘n nuwe skakel, wat beteken daar bly ook iets vir môre oor.
Wat weet jy, see?
My oë kan nooit genoeg van die see kry nie. Ek sou dae lank my kon verkyk aan dié mooi. Die mis verdwyn en dis 'n skouspel toe die son laataand die see inglip. Goud gestrooi oor die een kant van elke sandwal, stille getuies van vakansiegangers se gebaljaardery. In elke skulpie bêre die son 'n stukkie reënboog.
Dan gaan slaap hy in die see. Môre doen hy dit weer, die son. Met hanekraai kondig hy die dag skouspelagtig aan, en kuier tydsaam in die hemelruim, op pad na sy waterbed. Oor en oor en oor.
Maak soos die see: Asem in, tot jou laaste asem uit. Doen dit, met oorgawe, oor en oor en óór. En maak ook soos die son - skyn op jou pad.
Mag 2022 vir elkeen beter wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie